My skoonouers woon al sedert die vroeë 1980s in Johannesburg.
Daardie jare was ek en my vrou nog kinderloos en albei onderwysers in Bloemfontein. Derhalwe kon ons maklik Vrydae, of op die dae as die skool vir die vakansie sluit, ’n tas pak en koerskry Rand toe. Dit was nog met die ou pad, die een wat by ál die dorpe op pad daarheen aan gekronkel het.
As ons by Glen-stasie verbyhou, daar tussen die koppies noord van Bloemfontein, en die vlaktes vou oop op pad Brandfort en Theunissen toe, dan dink ek aan D.J. Opperman se Jorik wat die binneland van Suid-Afrika ingereis het. In ’n stadium sien Jorik mos
[d]ie son bak neer op vlaktes, vlaktes gras,
’n windmeul, stasie en drie peperbome;
op vlaktes gras, klipkoppies, vlaktes gras,
’n windmeul, stasie en twee peperbome.
(Joernaal van Jorik, 1949)
Ek kan sweer sy trein het ook by Glen verbygestoom.
Steek ons Theunissen verby, onthou ek dat digter en prosaïs P.H. Roodt op ’n plaas daar iewers grootgeword het. Hy vertel ook mondeling alte lekker daarvan.
Deesdae ry ons nie meer met die Vrystaatse Goudveld om nie, maar daardie tyd het ons dikwels ter wille van die afwisseling daarlangs, en nie oor Winburg nie, gereis. Lees ek Louis Esterhuizen se gedigte oor die moeilike verhouding met sy myner-pa op Virginia waar hy opgegroei het, dan onthou ek daardie plekke. Dan sien ek weer
[..] die myndorp se alkant-sellekanthuise
straatop, straataf, die opgehoopte slyk
en klip, die rivier se logge vaart
duskant die skagte waar met lewens
klimtol gespeel word[.]
(Sloper, 2007)
Hennenman is die dorp waar Jesse skoolgegaan het. Sy wat agter in die bus geleer het om te rook en te vry en “tekens te wys”; wat vir Johan van Wyk gewys het “tot waar sy [haar] beenhare skeer” (Bome gaan dood om jou, 1981).
Anton Goosen en Jan Blohm is liedjieboere uit Kroonstad, maar dis Antjie Krog se woorde wat ek oral in daardie kontrei sien rondlê. Van “alles wat verblindend vrystaat is / en winterwit gespan lê met 180 grade gras / […] die strak vrede van vertikale sonlig / van wilgers wat dubbel geknoop langs water staan” (Januarie-suite, 1972) tot “Lady Anne” se “susters in kombi’s en stasiewaens / met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint” wat “ by mekaar op oorbrûe verbyjaag / in stofwolke stop langs sportvelde / aandagtig sit en tydhou voor musiekkamers / mekaar aan die huil bid op Bybelstudies” (Lady Anne, 1989).
Teen dié tyd het vroulief my gewoonlik al beskuldig van ’n tweedehandse lewe, ’n lewe deur die woorde van ander. Amper soos Danie Marais se eerste vrou, die een in Duitsland, wat naderhand by hom pleit dat hy
[…] moet ophou ophou ophou
met [sy] ewige
sweeping statements en grand gestures
dat [hy], o, “Herr Gott weiß” moet ophou
om vir [haar] goedjies te fokken quote.
(in die buitenste ruimte, 2006)
Maar puur verniet.
In Vredefort-distrik, oënskynlik “sonder iets besonders”, het T.T. Cloete grootgeword. Eers later het hy ontdek hy het al die tyd gewoon “op die koepel […] van ’n wonder” – en dat “die Skepper vandag nog sigbaar naby” is daar (Driepas, 1989).
Omdat ek en my wederhelf dikwels eers smiddags weggespring het uit Bloemfontein, het dit meermale gebeur dat dit al donker word as ons die Vaalrivier oorsteek. Veral winters, as die son vroeg sak. Baie kere was die winterveld daar dan plek-plek afgebrand, of aan ’t brand. Onvermydelik kom Eugène Marais se “Winternag” dan by ’n mens op:
[S]o wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
Woed daar ’n tipiese Hoëveldse donderstorm-met-bliksems, dink ek aan Ronel Nel se 2002-debuutbundel met die hakie-geraamde titel [en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark]. En daar naby, teenaan Vereeniging, lê Henley-on-Klip waar jare gelede ’n spooroorwegramp met ’n trein en ’n skoolbus plaasgevind het. Daaroor skryf J.C. Steyn in Die grammatika van liefhê (1975):
Henley-on-Klip
Hansie-op-gruis
Helena-aan-gras
23 van gras
drié-en-twíntig
wat die wolke en die veld,
die sonlig en die weerlig
nooit weer sal belewe nie[.]
Kort voor lank lê Johannesburg voor jou – met heeltemal te veel gedigherinneringe om almal hier te noem.
Voorheen kon ’n mens jou mooi verbeel hoe sit die hooffiguur in Opperman se “Ballade van die grysland” vroegdag en tuur “[u]it tonnels van die nag […] oor rook en mis as ysterspore / [hom] in kringe van die stad instuur” (Negester oor Ninevé, 1947). Vandag stuur die verbypad jou weswaarts óm die Goudstad.
Maar deur die poësie van iemand soos S.J. Pretorius kan ek nog die growwe werkers saans in die skemer strate van die arm suidelike buurte sien huis toe loop, hulle “baarde dae-oud, / met krae opgeslaan, die wind is koud, / en [hulle] mompel oor die weer in Afrikaans” (Die arbeider en ander gedigte, 1945).
Sien ek die huise en meenthuiskomplekse oral teen die rante daar by Roodepoort, dink ek aan hoe Elisabeth Eybers vanuit ’n benouende, skemerdonker verdiepingpand in Amsterdam versug:
’n Huis is iets wat teen ’n hellings staan
deur son gekonfronteer aan elke kant.
(Balans, 1962)
Eindelik draai ons by die noordelike voorstede in, waar my skoonouers woon. En skielik sit I.L. de Villiers ook in die kar, en beduie:
Die bome van my straat maak katedraal
waar punte van die takke hoog bo raak […]
(Jerusalem tot Johannesburg, 2005)
’n Ander roete wat ons dikwels ry, is die een van Bloemfontein na die suidkus van Natal, waar my skoonpa-hulle ’n vakansieplek het. Dan vertel ek van Gilbert Gibson as ons anderkant Winburg by die afdraai na Marquard verbyry, en van A.D. en Rosa Keet as ons water koop op Senekal; en later (weer) van Louis Esterhuizen wat jare lank skoolgehou het op Bethlehem. En waar presies uit daardie Oos-Vrystaatse kontreie kom Theunis Engelbrecht vandaan? Dis waar hy mos moes gesien het hoe bou mens ’n “heimat-vers vir my lovely”
van sandsteen son en skalie
[…]
[met] ’n paar vet kuikens
en cuddlesome katjies op die werf[.]
(’n Gedig so onskuldig soos ’n eier, 1982
Ry ons Clarens en Golden Gate om, hou ek aspris daar iewers langs die pad stil om Gilbert Gibson se kar te hoor waar
die dieselenjin […] tik-tik in afkoel
die bloute deur die voorruit
[…]
en die radio sjsjsj in
swak ontvangs terwyl ek
wag dat die middag uiteindelik
skemer,
en die skemer donker, en
die donker ’n gitse swart word wat nou
soos ’n fabel om my
vou.
(boomplaats, 2005)
Harrismith sal vir my skoon vreemd wees sonder ’n Lina Spies en veral ’n Johann Lodewyk Marais se herinneringe, sowaar!
En as ons oor die bergpasse Natal in es, begin die grammadoelas op ’n haar na die woorduitbeeldings van D.J. Opperman en Roy Campbell lyk. Ek hoor Fanie Olivier oor die heuwels van kwaZulu. En C.M. van den Heever se elegiese “Lied van die gevalle Zoeloe-indoena”. En die hawestad Durban eggo van onder meer Johan van Wyk se later bundels. Langs die Suidkus, op die loom deinings van die Indiese Oseaan, sien ek Douglas Livingstone se bootjie dryf waar hy met sy duikpak aan gereed maak om agteroor te val, binne-in
[…] the pale liquid air
of a blue cathedral[.]
(Sjambok and other poems from Africa, 1964)
So lewe talle van ons land se roetes vir my van die poësie. Soos dit vir voëlliefhebbers leef van voëls. Of vir geoloë van klip en tyd.
Martjie Bosman verwoord in Landelik (2002) ook mý besef:
Hoe lief het ek dit:
die sinne wat streke skryf,
hoe lief het ek dit.
Net die Boland en die Kaap wil g’n woord rep nie…
Ek speel maar! Eintlik is daardie wêreld mos so roesemoesig vol geskryf dat jy kwalik iets daarvan nog helder kan hoor.
Hoe lyk dit? Het julle nie lus om te vertel van julle geliefde vers- en liedroetes nie?