De Volkskrant se Peter Swamborn berig dat die pasafgelope Poetry International te Rotterdam ‘n groot sukses was. Dit was naamlik die 40ste jaar waarin dié weeklange poësie-fees plaasgevind het en vanjaar is dit deur 5,500 besoekers bygewoon; aansienlik meer as verlede jaar se 3,400. Nog ‘n belangrike feit is dat geen toegangsgelde gevra word nie; besoekers lewer naamlik ‘n bydrae na gelang van wat ‘n bepaalde item vir hulle werd was. Op dié manier is daar vanjaar 7,850 euro ingevorder. Volgens die beriggewer was ‘n interessante toevoeging vanjaar die 70 studente van die Arnhemse Toneelskool wat gedigte vooraf gememoriseer het en dit dan in die oor van omstanders gefluister het. (Sjoe, wat ‘n briljante idee!) Nietemin, die hooffokus vanjaar was op die 75-jarige Rutger Kopland en sy gedigte wat deur digters uit Swede, Pole, Hongarye, Rusland, Frankryk, China en Australië voorgelees is in hul onderskeie tale. Ook die items wat gerig was op WH Auden en Jan Eijkelboom, het heelwat belangstelling uitgelok; eersgenoemde vanweë die nuwe vertaling wat in Nederland beskikbaar is en laasgenoemde vanweë sy afsterwe verlede jaar. Volgens die organiseerders was die bywoning van die minder bekende oorsese digters egter teleurstellend. ‘n Verdere klagte was gemik teen die parallellopende program wat gemaak het dat die besoekers nie ál die items kon bywoon nie. (De Volkskrant se volledige berig kan hier gelees word.)
Ter afsluiting wil ons jou aandag vestig op Jy het my as drenkeling herken, dr. Hans Ester se briljante artikel oor die korrespondensie tussen Elisabeth Eybers en Chris van Geel. Ook op die woelige gesprek wat onder aan Lucas Malan se artikel Die bruikleen-fenomeen oor intertekstualiteit ontstaan het.
En mag iemand vandag ‘n gedig in jóú oor fluister …
Mooi bly.
LE