Die digter onder die appelboom
Die digter onder die appelboom
Sy gedigte word gekenmerk deur die eenvoudigste taalgebruik denkbaar waarin hy ’n soort mistieke ervaring van die werklikheid verwoord. Sy poësie is merkwaardig vry van enige psigiatriese vakjargon, hoewel hy die skryf van ’n gedig waarin gevoelens opgeroep en herkenbaar gemaak word, vergelyk met ’n terapeutiese gesprek. Hy skryf ook graag digterlike besinnings oor die mens se belewenis van die tyd.
Soos Adam onder die appelboom probeer hy om sin te maak van die sienlike en die onsienlike. En om sin te maak, beteken om presies die regte woorde te vind.
Kopland op sy beste kan die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes huiwerend maar suiwer verwoord. ’n Tipiese Kopland sfeer en stelwyse vind ’n mens in die volgende reëls:
Ik kijk naar de hei,
naar de mistige, eenzame berkjes en denk hoe
ik het moet zeggen, hoe moet ik het zeggen dat …
Sy verse haal emosioneel maar beheersd asem. Die ongewone enjambemente wat versreëls dikwels op lidwoorde, voegwoorde of voornaamwoorde laat eindig, is altyd ritmies gemotiveer.
Onder de appelboom
Ik kwam thuis, het was
een uur of acht en zeldzaam
zacht voor de tijd van het jaar,
de tuinbank stond klaar
onder de appelboom
ik ging zitten en ik zat
te kijken hoe de buurman
in zijn tuin nog aan het spitten
was, de nacht kwam uit de aarde
een blauwer wordend licht hing
in de appelboom
toen werd het langzaam weer te mooi
om waar te zijn, de dingen
van de dag verdwenen voor de geur
van hooi, er lag weer speelgoed
in het gras en verweg in het huis
lachten de kinderen in het bad
tot waar ik zat, tot
onder de appelboom
en later hoorde ik de vleugels
van ganzen in de hemel
hoorde ik hoe stil en leeg
het aan het worden was
gelukkig kwam er iemand naast mij
zitten, om precies te zijn jij
was het die naast mij kwam
onder de appelboom, zeldzaam
zacht en dichtbij
voor onze leeftijd.
Onder die appelboom
Ek kom tuis, dit is
om en by agtuur en buitengewoon
mild vir die tyd van die jaar,
die tuinbank staan gereed
onder die appelboom
ek gaan sit en ek kyk
hoe die buurman
nog in sy tuin aan die spit
is, die nag kom uit die grond
’n blouer wordende lig hang
in die appelboom
toe word dit langsamerhand te mooi
om waar te wees, die dinge
van die dag verdwyn voor die geur
van hooi, daar lê weer speelgoed
in die gras en verweg in die huis
lag die kinders in die bad
tot waar ek sit, tot
onder die appelboom
en later hoor ek die vlerke
van ganse in die lug
hoor ek hoe stil en leeg
dit word
gelukkig kom iemand langs my
sit, om presies te wees jy
is dit hier langes my
onder die appelboom, buitengewoon
mild en naby
vir ons leeftyd.
Daniel Hugo
Bron
Rutger Kopland, 2006, Verzamelde gedichten, Amsterdam: G.A. van Oorschot.