
Naas die Bybel is Anne Frank se dagboek seker een van die mees beroemde publikasies ter wêreld. Selfs vir ons hier in die ander halfrond het dit onlangs besonderse betekenis verkry vanweë Lina Spies se skitterende vertaling daarvan. (Die agterhuis, Protea Boekhuis, 2007). Nietemin, by die Anne Frank-huis te Prinsengracht in Amsterdam word die vure omtrent hoog gestook, want vir die eerste keer sedert Anne se pa, Otto Frank, haar dagboeke in 1980 aan die Nederlandse Instituut vir Oorlogsdokumentasie (NIOD) geskenk het, is dié pryslose boeke nou in die gedenkhuis te besigtig. En die ampsdraers van die Anne Frank Stigting het omtrént die tromme geslaan en die trompette geblaas … Almal wat leef en beef was blykbaar by die oorhandiging teenwoordig: van Ronald Plasterk, die Nederlandse minister van onderwys, kultuur en wetenskap, tot Robbert Dijkgraaf, president van die Koninklike Nederlandse Akademie vir Wetenskap. Te midde van die wêreldmedia, wat almal in die beknopte “agterhuis” ingeprop was, het die hooggeplaasdes mekaar op die skouer geklop en hul onderskeie rolle in dié suksesvolle oordrag besing. Ronald Plasterk het byvoorbeeld na die dagboeke verwys as ’een geschenk aan de wêreld’, want, het hy gesê: “realiseer je goed hoe beroemd Anne Frank is: In Zuid-Korea weten ze van Nederland niet veel meer dan dat Anne Frank er gewoond heeft.” Om die belangrikheid van dié dagboeke te onderstreep, het voortgegaan en ’n vergelyking tussen Anne se dagboeke en die Rosetta-steen in Egipte getref, terwyl, soos De Trouw se beriggewer dit stel, die luukse faksimilee-uitgawes – wat teen 650,000 euro vervaardig is, en vir 29 jaar in die vertoonkas gepryk het – vergete eenkant gelê het. Inderdaad, ’n besonderse geleentheid … Maar hoekom het dit hulle 29 jaar geneem om dié wêreldskat enkele blokke verder te skuif na waar dit eintlik hoort? Het dit dalk iets met die kwynende toerismebedryf te make? Ek wonder maar net.
Nietemin, as verdere toegif vanoggend, Lina Spies se treffende vers oor Anne Fank hieronder. (Lees gerus ook die toespraak wat sy tydens die bekendstelling van Die Agterhuis by die Holocaust-museum (Kaapstad) gelewer het hier, asook haar lesing met die titel “In die skadu van Auschwitz” hier.)
Hulle onthou die gaskamers, Auschwitz,
as van lyke, onsigbaar vervoer deur eensame riviere,
die meisie in haar sabbatrok,
wat in die dodeput afstort,
die vrou wat met sekslose sekerheid besef,
uit haar vervloekte bloed sal ‘n kind
die nuwe, vrye wêreld nooit weer vind …
Maar in die agterhuis was veel
menslikheid: Mevrou van Daan,
prikkelbaar-bevrees, vervelig-verwaand,
‘n moeder se subtiele verset,
omdat haar kind die vader liewer het …
En tog moes jy jou jong
ontwaking leer verstaan – alleen.
En wat het al jou vroulikheid gebaat?
Jy moes die laaste toevlug deel
vir nog ‘n Jood se veiligheid –
tandarts Dussel jou ongewenste kamermaat.
Toe het jy jou na hom gekeer:
blou agter ‘n berookte ruit en ‘n gordynde raam
het helder in sy oë kom leef …
maar die natuur verdra geen surrogaat –
jy het geweet, te lig bevind. Weer
moes Peter maar vir Mouschi streel
en vir ‘n troos het jy seisoenverward
pinksterrose en bloudruifies in een droom verbeel.
Meer as Jood of Christen het jy geweet
die mens se gees oorwin as hy
elke dag sy aartappels met vreugde eet.
(Uit: Digby Vergenoeg, 1971, Human & Rousseau, Kaapstad)