Bloot mens is wie ek is
Jelleke Wierenga in gesprek met Louis Esterhuizen
Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer. Haar debuutbundel, Bloot mens, het pas verskyn by Protea Boekhuis.
|
Jelleke, kan jy dalk ter inleiding iets omtrent jou persoonlike agtergrond vertel? Waar het jy byvoorbeeld grootgeword, en hoe het dit gebeur dat jy jou tans in Montagu bevind?
Ai, ek kry altyd so ‘n depressiewe insinking as ek oor my persoonlike agtergrond uitgevra word. Dit vermoei my erg … Dis nou drie dae later. Sug. Hier gaan ons … In my ontliggaamde staat het ek hierdie lewe wat ek op aarde sou lei (ly), lank betrag. Ek was geheel en al nie lus vir die spul nie. Toe skop ‘n ongeduldige engel my onder my ontliggaamde alie van die randjie van wik en weeg af. By die poort na die aardse lewe ruk ek my kop weg toe die afskeidsengel my wou soen, met die gevolg dat die kus van vergetelheid skrams geplant is. Ek onthou dus my ware tuiste goed en vind hierdie onderstebo, agterstevoor en deurmekaar plek genaam die aarde vreemd en onherbergsaam. Uiters raar dat sommige mense dink dis hul enigste tuiste – die engel het hulle seker vol op die mond gesoen.
Ek is op Klerksdorp in Wes-Transvaal gebore (hou dit asb. Wes-Transvaal, ek doen nie mee aan die klug van die Nuwe Suid-Afrika nie). Op Potchefstroom Afrikaans-Nederlands en Kommunikasiekunde geswot. In Johannesburg by Beeld begin werk, in die nagkantoor. Wonderlike en wilde tye.
My eerste trek was in ‘n swartman se taxi. Daai tyd was ‘n taxi ‘n gewone kar, nie ‘n kombi nie. Moenie my vra hoe my boekrak, bokse en tasse ingepas het nie. Ons het ooreengekom op ‘n fooi van R10 vir vervoer van die plek vir plattelandse meisies in Claimstraat, in die middestad van Johannesburg, na High Rise in Berea. My vyftiende trek, van McGregor na Montagu, was met ‘n oop boulorrie van Conradie’s Vervoer, plus ‘n sleepwaentjie vir al my potplante. Die dronk handlangers het die rit in weelde op my statige leerrusbank, ‘n egte ou Chesterfield, agter op die lorrie meegemaak.
Onder die adresse in my veelbewoë persoonlike agtergrond tel die Hotel 224 in Pretoria, Bosduiflaan 82 in Wierdapark en die Muizenberg-woonwapark. Hoe ek op Montagu beland het? Ek weet selwers nie en is eintlik doodverbaas – het maar elke keer beweeg wanneer die drang gekom of die binnestem gepraat of die verhouding in stukke gespat het. Dat ek al agt jaar hier bly, is skokkend … dis my lieflike ou huisie met sy solder, houtvloere en stoeptrap wat my vasgom.
Ek het onder meer vir Beeld, die WNNR, Sarie en Juta gewerk. Ek is al van 1989 af werkloos, ook bekend as vryskut.
Hoekom voel jy jou tot die poësie as uitdrukkingsmedium aangetrokke? Was daar bepaalde invloede wat ‘n rol hierin gespeel het?
In st. 4 en 5 het ek gediggies oor Meneer Van der Westhuizen, my klasonderwyser, geskryf – “Ou Wessie in sy ondervessie” – maar my pa het gedink dis onbehoorlik. Op universiteit het ek graag deur my Groot Verseboek geblaai en gelees. Ek het ook The Albatross Book of Verse in my eerste jaar ontdek. Die drang het begin roer. Ek het ‘n paar gedigte vir die universiteit se Skrywerskring geskryf en was tydens die bespreking verbaas oor al die “versteekte goed” wat daaruit gelig kon word. Goed waarvan ek glad nie bewus was nie. Dit verstom my steeds: dat ek nie regtig weet wat in my aan die kook is nie totdat ek skryf. Eers met die teruglees, soms jare later, besef ek hoe akkuraat die inskrywings in my joernaal en my gedigte allerlei onbewuste, onderdrukte en halfgevormde aspekte van myself, konflikte – ook die toekomstige verloop van my lewe – weerspieël. In dié opsig is gedigte vir my soos Freud van drome gesê het: die koninklike hoofweg na die onderbewussyn. Dalk ook die hoër bewussyn.
Die geskrewe woord was nog altyd my speelgoed, my skietgoed, my werkgoed, my toorgoed, my manier om die lewe te oorleef. As subredakteur by Beeld onder manne van naam soos Bob van Walsem en Ebbe Dommisse het ek seker die beste taalfondament denkbaar gekry. Dit het natuurlik ook gehelp om uit ‘n arm huis te kom waar die biblioteek – en die munisipale swembad – die hoofbron van vermaak was. As vryskutter het ek baie jare kopie vir onder meer Leserskring se katalogus geskryf – ‘n groot klomp inligting moes in ‘n baie klein spasie ingepas word. Hier het ek geleer om die maksimum uit elke woord te pers. Dit het my styl gestroop – die ideale slyping vir poësie skryf.
Ek het maar so deur die jare gedigte geskryf, nie vreeslik ernstig nie, en nie juis gedigte gelees nie. Ek het in 1994 ‘n klomp gedigte aan Human & Rousseau gestuur – ek was toe net as “Jeanne” bekend. Kerneels Breytenbach het my gedigte in ‘n bedagsame briefie afgekeur, onder meer omdat baie van die gedigte soos prosa klink. Hy het aanbeveel dat ek eerder prosa skryf. ” … met prosa bereik ‘n mens baie meer lesers as met poësie, wat maar steeds die kuns bly van wynige [stet] vir wyniges [stet].” Aldus Kerneels. Dit was ‘n dolk in my poëtiese hart. In 1998 stuur ek meestal dieselfde gedigte aan Tafelberg. Charles Fryer skryf ‘n bemoedigende briefie terug waarin hy sê veral die langer gedigte het ‘n vaart en speelsheid wat verras. Hy reken ek kan gerus meer gedigte oor “vleesdrif” maak en weer stuur.
Steeds is ek nie baie ernstig aan ‘t dig nie. Eers in 2006, ná die verpletterende verbreking van ‘n gedoemde verhouding, word gedigte en gedig skryf my letterlike oorlewing. Sedertdien het ek digters-pes. ‘n Tweede bundel lê al by Protea. En daar’s nog ‘n paar honderd gedigte in my joernale en op my rekenaar. Stapels digbundels lê op my bedtafeltjie. Vreemd hoe hierdie lang gesluimerde hartstog nou eers losbars.
Van jou gedigte het ook al elders verskyn, alhoewel Bloot mens ‘n eerste gebundelde publikasie is. Noem vir ons kortliks waar orals van jou gedigte verskyn het?
‘n Hele klompie kinder-/jeuggedigte is gepubliseer in die Afrikaans-taalboeke waarby ek betrokke was. In my McGregor-fase het ek ‘n klompie gedigte aan Tafelberg gestuur vir oorweging vir die bundel Nuwe stemme 2. Dit is aanvaar vir publikasie. Sestien nuwe digters het in hierdie bundel – saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager en in 2001 gepubliseer – gedebuteer. Ek het hier en daar ‘n gedig in versamelbundels gepubliseer; maar dis eintlik niks noemenswaardig nie.
Die titel van jou bundel is nogal treffend aangesien “bloot” in die onverbuigde vorm aan resonansie wen. Watter suggesties lê alles vir jóú opgesluit in hierdie “blootheid”?
Ek het nie juis lank of hard of baie gedink aan ‘n titel vir die bundel nie. Bloot mens het bloot een dag of nag in my kop beland. Ek het geweet dis net reg. ‘n Mens stel jouself baie bloot deur jou gedigte te publiseer, veral as van hulle van ‘n intieme aard is; diep, intense, persoonlike belewenisse. Jy openbaar dele van jouself wat die meeste mense liefs bedek hou. My gedigte toon ook dat ek net mens is, vol allerlei teenstrydighede: bravade en weerloosheid, haat en liefde, wreedheid en teerheid, ‘n intense lewensdrif, maar ook ‘n diep doodsdrang. Ek haat pretensie, voorgee, agteraf. Bloot mens is wie ek is.
Jou verse getuig van ‘n besonderse sterk sosiale bewussyn. So is daar verse oor misdaad, sosiale onregte, omgewingsbewaring en allerhande soorte verslawings. Is jy van mening dat die uitpraat téén onregte ‘n bepaalde funksie van die hedendaagse digkuns is (of behoort te wees)?
Niemand behoort ooit van ‘n digter te “verwag” om oor sekere goed te skryf nie. Myns insiens behoort die digter uit ‘n opwelling van intensiteit oor wat ook al te dig – enige ding onder die son wat hom of haar diep roer, ontroer, aanraak, plesier verskaf.
Ek voel baie sterk oor baie dinge – dinge wat so verkeerd is (myns insiens) dat dit ten hemele skree, maar dit traak so min mense. Goddank kan ek my intensiteite uit-druk in my gedigte; die plofkrag gebruik om iets nuuts te skep. Dit is vir my uiters vervullend. As ek in die proses mense aanraak of wakker maak, loop my beker oor. Dit is vir my verskriklik dat soveel mense wandelende dooies is, verdof en verdoof. Om die lewe onverdoof te ervaar, is geweldig pynlik en ongemaklik, maar myns insiens die enigste pad na hoër bewussyn. Ek is ook uitgelewer aan verslawings, maar ek stry bewustelik daarteen, want vir my is dit die pad van die dood. Ek was al lang rukke in my lewe dood.
Jelleke, met die deurlees van jou verse tref die besonderse manier waarop jy ironie hanteer, ‘n mens. Is dit vir jou ‘n bewustelike tegniek of iets wat natuurlikerwys kom vanweë ‘n bepaalde lewensingesteldheid?
Ek is eintlik verbaas dat jy van die ironie in my verse praat. Dis seker so onbewustelik deel van my dat ek nie eens besef dat dit ook sterk in my verse deurslaan nie. Dis natuurlik ‘n manier om seer te slaan en ek span dit outomaties in as ek woedend-verontwaardig voel oor iets.
In jou verse is daar dikwels ‘n inspeel op die skryfproses as terapie; iets wat ‘n sterk emosionele lading tot gevolg het, te midde van momente van bykans onhanteerbare teerheid, en veral: verwonding. Gaan jy akkoord, of lees ek dalk die emosionele basis van jou verse verkeerd?
Skryf is vir my die verskil tussen lewe en dood, soos in die gedig “Kankerkuur” verwoord word. My verse is dus sterk gelaai. Ek is nie ‘n lou mens nie; ek voel intens, swaai hoog en laag, wat die lewe natuurlik nie baie maklik maak nie. Ek is bly jy sien teerheid in my verse raak … ek was bang hulle hel dalk te veel na die striemende kant oor. Ja, ek is ‘n baie kwesbare mens, ‘n velletjie of twee te min. Ek het bewustelik besluit om my hele self in my verse te ontbloot … van daar ook die titel. Ek het dit oorweeg om die bundel onder ‘n skuilnaam te publiseer, juis oor hierdie ontbloting van my “teer” plekke, maar ná nadenke besluit: Ek is wie ek is – “hier is ek, kant en kaal”. Juis deur die moed te hê om jou kwesbaarheid te wys, toon jy ‘n sekere onkwesbaarheid. Ek het meer respek vir ‘n kwesbare mens wat bewus is van haar/sy kwesbaarheid en dit wys as iemand verpak agter sielkundige skanse/verdowings en dan oorkom as “gebalanseerd” of “normaal”. Ek is onrehabiliteerbaar abnormaal en wens ek het genoeg geld gehad om vir die res van my lewe in sielkundige terapie te wees. By gebrek aan geld skryf ek maar gedigte.
Nog ʼn aspek van jou verse wat die leser opval, is die stilistiese verskeidenheid daarvan. Alhoewel die verse deur middel van toon en tema saamgegroepeer word, wissel die aanbod van kriptiese verse (soos “Kantwerk, p.25) tot langer, verhalende verse (soos “Epos sonder helde of heldinne”, p.43). Dit laat ʼn mens wonder: by wie se verse, uit die Afrikaanse digkuns, byvoorbeeld, vind jy die meeste aanklank? Of lees jy merendeels oorsese poësie?
Kopieskryfwerk het my gestroop tot kripties. Elke woord moet werk. Met die langer verse kon ek lekker speel met woorde, my geliefkoosde tydverdryf. Ek lees omtrent net Afrikaanse poësie en daar lê ‘n hele klomp nuwe digbundels op my bedtafeltjie. Ek is besig om die drie dele van die nuwe Groot Verseboek deur te lees. Breyten Breytenbach se gedigte, sy hartstog, sy metafore, sy ongeëwenaarde woordspel, slaan my asem weg, letterlik! Van altyd af tot nou. T.T. Cloete is briljant. E.W.S. Hammond het ek onlangs ontdek – ‘n sielsgenoot wat ek ongelukkig nooit in die liggaam ontmoet het nie. Antjie Krog, Ronelda S Kamfer, Gert Vlok Nel, Danie Marais … ek kan nog seker 30 name noem van digters wie se gedigte my diep raak of vermaak.
Jelleke, “Bloot mens” is ʼn besonder sterk debuut en ons hou beslis jou loopbaan voortaan met groot belangstelling dop. Sal jy so vriendelik wees om as toegif een van jou persoonlike gunstelinge uit jou bundel hieronder vir ons lesers oor te tik?
Dankie vir jou mooi woorde. Nogal al my gedigte is my gunstelinge (!), dus is dit moeilik om te kies. “Epos sonder helde of heldinne” was vir my ‘n geweldige ontlading, maar dis te lank om hier te reproduseer. Ek volstaan met “10 September 2007”:
10 SEPTEMBER 2007
My sussie Sybokkie,
onthou jy hoe ons perskes gesteel het
by Tannie Agter een aand
by ons spoorweghuis in Wilgehof-Wes
en sy ons geflitsvang het en ons
agterna gegiggelgil het van skaamte?
Sussie,
wat het Jesus en/of die engele gesê
toe jy daar kom
en het jy jou lewe in 3-D gesien
en vreeslik spyt gekry
en is die skape al van die bokke geskei?
Sussie,
waar sweef jy nou
in jou lang wit nagrok rond
soos jou alkoholiese skoonma
(nou wyle, soos jy weet)
jou gesien het voor jou dood?
Sussie,
jy het die kanker gekoester
in jou kop die ondraaglike
pyn teen die ondraagliker pyn
want as kind al
was jy te kaal teen die kil.
Sussie,
ons het nou plooie en word grys
en Ma kry hoofpyn nes jy
sy huil maar dis van haar nek
en Pa wankel geraamterig rond
hy werk steeds in die garage.
My Syboksussie,
dit is/was
jou verjaardag vandag.
Ek het nie vergeet nie
en wil net sê:
Sussie, ek kom.
Jelleke, ek dink jou soen-engel kry lekker wanneer hy sien hoe jy jou geniet met die woordespeletjie.