Andries Bezuidenhout. Van die hand na die mond…

Soms is ek nie lus om my rubrieke in Rapport volgens die resep te skryf nie. Blykbaar moet jy met ʼn stelling begin wat die leser sal prikkel of interesseer. Onthou, ʼn mens kompeteer met honderde ander stories, die televisie, en in my geval, mense wie se ooglede deur pense vol Sondagskaapboud en ertjies na onder getrek word. Ná jy die leser geprikkel het, moet jy op die stelling voortborduur en dan weer afsluit met ʼn verwysing na jou kernpunt.

Verlede Sondag het ek oor my besoek aan my oupa se geboortehuis geskryf. Dis in Belgravia, Johannesburg, ʼn woonbuurt wat ʼn slum geword het. Die huis word duidelik deur ʼn “slum lord”, soos ons hulle hier noem, besit of beheer. Vir my was die kern van die storie die haglike omstandighede waarin hierdie mense woon, asook my ongemaklike verhouding daarmee.

Ek het ook gewonder oor of die plek noodwendig soveel slegter lyk as hoe dit gelyk het toe my oupa in 1909 daar gebore is. Hulle was baie arm en my oupa, as jongste kind, kon slegs hoërskool en universiteit toe gaan omdat sy twee broers gaan werk het, een as ʼn grofsmit en die ander as motorwerktuigkundige. Hulle moes die skool in st. 6 verlaat om ambagskool toe te gaan hiervoor. My oupagrootjie het in Johannesburg beland omdat sy stiefpa hom van die plaas af weggejaag het. Hy het werk in die myne gekry en is aan myntering dood toe my oupa skaars drie jaar oud was. Op ʼn manier het ek dus my eie familie in die mense wat nou in daardie huis woon gesien.

Maar as ʼn mens nou na van die kommentaar op die storie kyk, lyk dit asof mense gefikseer het op die feit dat ek “umlungu” genoem is. Ek beskou die woord nie as ʼn belediging nie – ek het geen aggressie bespeur nie, al was my interaksie met die mense wat nou in die huis woon ietwat stram.

Ek weet nie altyd of die koerantwese en subtiliteit saamgaan nie. Of dalk skryf ek maar net onduidelik.

Lees die rubriek hier.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •