
Nou ja, toe. Gister was Vrouedag en só is dit goed en is dit reg. Ek kan my beswaarlik ’n man indink wat nie met akklamasie die vroue in ons geledere sal wil toejuig (en koester) nie. Soms weliswaar met geknersde kake of bedremmelde gemoed, maar objektief beskou is dit immers vroue wat die aanhou en uithou in hierdie lewe die moeite werd maak. Nietemin, ter viering van vrouedag het ons dit goedgedink om ’n aantal digters te nader met die versoek om elkeen ’n reël tot ‘n ringdig oor vroue by te dra. Liewe hemel, wat ’n gedoente! Uiteraard is dit beslis nié ’n goeie idee om so iets op ’n Vrydag voor ’n langnaweek te probeer nie, want mans werk mos, sien. En natuurlik kan jy nie die vers na ’n volgende persoon aanstuur alvorens jy die reël van die vorige persoon ontvang het nie. Dus – wag en wag. Later bel. En uiteindelik is dit klaar; met gebreke en al.
Laat my nogals dink aan sóveel “manlike” situasies waar die man so dikwels vergewe moet word vir ’n bra gebreklike produk of optrede met dié woorde: “Toe maar, dis tog die idee wat tel.”
As stimulus vir die ringdig het ek die openingsreël uit NP Van Wyk Louw se gedig nr. LXV in Tristia geneem. Waarskynlik was dit nié ’n goeie keuse nie, want die verwagte darteldans van sinne en beelde het helaas nie gematerialiseer nie … Dalk ook maar vanweë die “einde-van-die-week-sindroom”?
In ieder geval, hier onder volg ons poging, met al die gepaste blosings en vroetelings wat ’n groepwoeps so dikwels tot gevolg (behoort) te hê. Die digters wat hieraan deelgeneem het (in streng alfabetiese volgorde ten einde identiteit te verbloem), is: Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, IL de Villiers, Louis Esterhuizen, Daniel Hugo, Danie Marais, Johann Lodewyk Marais, Charl-Pierre Naudé, Bernard Odendaal, Christo van Staden (aka JC Van) en Cas Vos. Veral dankie aan Johann Lodewyk Marais wat darem by wyse van slot die vers op ’n manier tot iets met leesbare potensie kon bekook. Ook – my apologie aan die twee digters wie se reëls liggies aangetas moes word ter wille van die geheel.
Dan is dit ook vir ons besonder aangenaam om bekend te maak dat prof. Bernard Odendaal ingestem het om as residensiële resensent vir die webblad op te tree. Dit beteken dat hy nuwe digbundels eksklusief en uitsluitlik vir Versindaba gaan resenseer. Te midde van die uitgesponne debat oor die stand van ons resensie-bedryf wat die afgelope jaar of wat in die media gevoer word, wil ons glo dat die aanstelling van ‘n vaste resensent voordelig gaan wees ten opsigte van kontinuïteit, gehalte en objektiwiteit. ‘n Verdere voordeel wat dié forum aan prof. Odendaal bied, is dat daar geen lengtebeperking geld ten opsigte van sy resensies nie. Ons glo dat hierdie ‘n uiters belangrike toevoeging tot die funksionaliteit van die webblad is. Intussen kan u prof. Odendaal se resensies oor onlangse bundels lees wat hy goedgunstelik vir plasing deurgestuur het. Sy resensie van Jelleke Wierenga se “Bloot mens” sal eersdaags geplaas word.
Lekker lees aan al die nuwe inhoud op die webblad en geniet die rusdag.
Mooi bly.
LE
RINGDIG VIR VROUEDAG
9 Augustus 2009
Die vrou die word glo magies vasgesnoer
deur die liefde as heilige of as hoer –altans, sy stel haar in sonlig so voor
en glimlag klandestien van oor tot oor.
Maar, ag, sonlig, dis net die duister se verwyl
as sy onder geskroeide vlerke skuil
en hemel toe versug, maar neerwaarts hel
sonder om sente of soentjies te tel.
Die vrou, glo gebore om te bekoor,
laat vallend beelde skeur, repe skildery
ontheg: sigself is skoonheid nie genoeg.
O vrou, wat ‘n vreemde vreugde is jy!
Ek rond my soet en kortstondige verblyf
af met ’n welgeluksalige en verleё wuif.