Breyten oor Magmoed Darwiesj

Magmoed Darwiesj (Mahmoud Darwish)

Breyten Breytenbach

 

Mahmoud Darwish

Mahmoud Darwish

Twee aanhalings uit sy werk. (Dit kon ook tien of ʼn honderd gewees het want op elke bladsy van sy omvangryke oeuvre spring frases of beelde of gedagtes in jou oog.)

“Laat dit so wees! Laat ons môre hier met ons wees. Laat ons gister teenwoordig wees. Laat vandag aanwesig wees in hierdie dag se fees. Maak gereed vir die vlinder se viering, en laat die dromers van die een lug na die ander beweeg. Van een hemel na die ander gaan die dromers..”

“Vertel my hoe jy jou droom iewers geleef het en ek sal vir jou sê wie jy is.”

 

ʼn Sondag gelede was ek in Parys genooi vir middagete deur ʼn befaamde Libanese digter, Vénus Khoury-Ghata. Sy was ʼn jarelange vriendin van die ontslape Palestynse digter, Mahmoud Darwish. (Treffend tog, ontslaap. “Nooit meer slapen” was die titel van een van W.F. Hermans se romans.) Sy bied toe vir my ʼn klein deursigtige plastiekdosie aan met binne-in ʼn takkie salie en enkele bloedrooi blomblare, “van Mahmoud se graf in Ramallah.” Ek wou dit nie aanneem nie. Solank ons sy gedigte het…

 

Mense het van ver en met allerlei ompaaie gereis om by sy begrafnis te wees. Faroek Bey, sy Franse uitgewer, van Parys na Kaïro na Amman na Ramallah. Die Israeli’s het toestemming geweier dat hy in sy geboortedorp al-Birweh in Galilea begrawe word. (Daar bly byna niks oor van die dorpie nie.) Die Israeli’s sluit die Palestyne op soos in ʼn Bantoestan of ʼn ghetto, bou ʼn skandmuur om hulle, honger hulle uit, steel hulle geld en hulle olyfbome, en bestook die gevange burgerlikes in die Gazastrook met fosforbomme wat die vlees wegvreet tot op die been.   

 

In die Arabiers-sprekende wêreld het Mahmoud Darwish reeds ʼn mitiese status. By allerlei geleenthede, in kroeë saam met digters, om vreemde tafels met diplomate word daar oor hom gepraat. Elkeen onthou ʼn stukkie. Hy is hier, daar, oral. Ons het hom gesien. Ons ruik sy sigarette en terg hom oor sy blou oë wat so ‘doktoraal’ is agter die dik brilglase. Ongepubliseerde verse duik op in die maalstroom van daardie gedeelde modderige onderbewuste wat ons Internet noem. Niemand het nog ʼn geheeloorsig kon gee van sy werk nie want hy het sy boeke in verskeie lande die lig laat sien en soms in verskillende variante, en in tydskrifte of tot dusver onversameld in koerante. Daar word aangedik, bygelieg, besit van geneem. Iedereen het sy of haar verhaal, herinnering. Politici se kele swel vernaam van niksseggendhede. Dit maak nie saak nie. Solank ons sy gedigte het.

 

Hy word gebore in al-Birweh, 1942. 1948 is die Nakbah op hulle, die ‘Groot Vlug’, en saam met sy familie gee hy pad oor die grens na Libanon. ʼn Jaar later keer hulle terug. Te laat. Omdat hulle nie daar was toe die bevolkingsopname gemaak is nie kan sy familie nie die status van ‘Israeliese Arabiere’ opeis nie. Dis die begin van Mahmoud se vreemdelingskap. Hy word groot in Israel, sluit aan by die Kommuniste Party, beland van vroeg al in die moeilikheid, word onder huisarres geplaas, kry ʼn beurs om in Rusland te studeer, kan nie weer die land in nie en vestig hom in Kaïro. Later word dit Beiroet, na die Israeliese inval en beleg daar Tunis, toe Parys, later Amman, in die laaste jare by die agterdeur in Ramallah toe.

 

Struike, wolke, geure, voëls, skoelappers, die see, perde, maar ook kafees en strate en vriende en die beddens van minnaresse (waaronder, hartverskeurend vir hom, ʼn rooikop Israeliese vrou) en mettertyd al hoe dieper temas. Hulle sê hy is die stem van sy volk en sy stuk aarde met die koepel hemel daarbo. Selfs die lug bo Palestina is nie vry nie. Uiteindelik gaan dit hom al hoe meer pla. Hy is digter. Hy ken sy geskiedenis, tree in gesprek met sy luisterryke voorgangers deur al die subtiliteite van grensverskuiwende digvorms en temas, het sy affiniteite – Neruda, Ritsos, Lorca natuurlik. Dis waar, saam met Edward Saïd skryf hy die Palestynse ‘grondwet’ en die volkslied is in sy woorde. Maar na die Oslo Verdrag bedank hy uit die regerende instansie van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (Fatah) en breek met sy ou vriend, Jasir Arafat. (Vir Darwish is die Oslo Verdrag ʼn klug, die weggee van ʼn droom.)

 

Twee, drie keer draai hy by die dood om. Hartprobleme. Na die een operasie is hy lank in ʼn koma; uit daardie doodwees skryf hy Mural. Die laaste keer vergeet hy om om te draai. Of was dit aspris? Die 9de Augustus 2008 in Houston, Texas van alle plekke.

 

Meer as 30 bundels poësie en prosa vertaal in 30 tale. Eleven planets; Bed of Strangers (of The Stranger’s Bed); Mural; State of Siege; Do Not Apologise for What You Have Done; Like Almond Flowers or Further; Why Did You Leave the Horse Alone… Onder die memoirs: Memory for Forgetfulness: August, Beirut, 1982; Journal of Everyday Sadness

 

Léés die mees onlangse vertaling van The Butterfly’s Burden deur Fady Joudah vertaal, gepubliseer deur Bloodaxe Books in Londen, 2007. In die voorwoord skryf Joudah: “No matter how the bifurcations of structure and syntax in translation may lead or mislead the reader, one thing is certain: Darwish does not disengage the act of writing from its subject matter. Instead, he performs a twinning. The beloved is not exclusively a woman or a land, self or other, but also poem and prose.”

 

Breyten Breytenbach, Augustus 2009

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •