Vandat ons webblad enkele maande gelede op die internet gevestig is, het daar ‘n besondere alliansie met De Contrabas, wat die toekenning vir die beste literêre weblog verlede jaar in Nederland ontvang het, tot stand gekom. Etlike van ons artikels is deur hulle oorgehewel; in dié mate dat bykans 30% van ons besoekers tans vanuit Nederland/Vlaandere afkomstig is. Daarom is dit ‘n voor die hand liggende inistiatief om nog nouer bande met ons vennoot in die ander halfrond te smee.
Vanoggend is dit dan met borrelende opwinding dat ons kan bekend maak dat daar voortaan ‘n tweeweeklikse nuusbrief deur die redaksie van De Contrabas in die Brieweboks geplaas sal word. Hierdie Nuusbriewe sal nuus bevat van gebeure rondom die poësie in Nederland en ook Vlaandere. As teenprestasie sal ons ‘n soortgelyke maandelikse nuusbrief aan hulle verskaf. Soos Versdindaba is De Contrabas ‘n onafhanklike webblad wat deur drie persone bedryf word, by name Chrétien Breukers (Utrecht), Ton Van’t Hof (Leeuwaarden) en Jan Pollet (Gent).
Die eerste bydrae, by wyse van bekendstelling, is vanoggend in die Brieweboks te lese en is deur Chrétien Breukers geskryf. ‘n Meer omvattende nuusbrief sal binne enkele dae geplaas word.
Uiteraard is ons sommer baie opgewonde oor dié ontwikkeling; enersyds omrede dit ons plaaslike liefhebbers van die digkuns selfs nog meer op hoogte van die verwikkelinge in die ander halfrond sal bring, maar ook omrede dIt die prominensie van ons digkuns aldaar net nog verder sal kan verhoog. Onthou dus om hierdie skakel te kliek ten einde op hoogte te kom van nuusgebeure in die Ware Noord. (Lees gerus ook Yves T’Sjoen se kommentaar op die Miriam Van hee-onderhoud wat gisteraand op De Contrabas geplaas is waarin hy reageer op haar van die hand wys van Gent se stadsdigterskap. Die volledige berig kan hier gelees word.)
Dan het ons omtrent rede om hierdie week met ‘n handeklap-sessie te begin, aangesien nog ‘n nuwe bundel verlede week by die boekwinkels gearriveer het, naamlik Cas Vos se vyfde digbundel Intieme afwesige (Protea Boekhuis). Gaan loer dus by Publiksies in vir meer inligting oor dié besonderse bundel en lees veral Johann de Lange se skitterende onderhoud met Cas Vos. Intieme afwesige is beslis ‘n belangrike toevoeging tot ‘n reeds indrukwekkende oeuvre.
Lekker lees aan alles en geniet die week wat op hande is.
Mooi bly.
LE