Pas terug uit die “flat and drab and boring” Oos-Kaap. Vir my sondes moes ek twee aande in Hogsback oornag. Met die pad van Hogsback af Keiskammahoek toe gery, verby die plek waar die laaste slag tussen die Engelse (met hulle Mfengu en San handlangers) en die Xhosas plaasgevind het. Die Xhosas is deur die beesslagting kort voor die oorlog verswak en is deur die vallei tot oorkant die berge gejaag en afgemaai. Daarna is groot dele deur die Kaapkolonie geannekseer.
Later het hierdie spesifieke stuk grond deel van die Ciskei geword. Teen die berghange kan ʼn mens sien hoe “betterment” tydens apartheid die landskap verander het, met hutte en huise in rye en landerye en weigrond apart.
Daar is min van die voormalige bestaansboerdery oor. Landerye se vore staan braak teen heuwels. Ek het mense daaroor uitgevra. Dis nie die moeite werd om kool of mielies te plant as mense dit dood eenvoudig kom steel voor dit ryp is nie, sê hulle. Daar is pogings om organiese boerderye te vestig, met laventel, kruisement en malvas, meestal vir die vervaardiging van essensiële olies vir die uitvoermark.
Die meeste mense oorleef op toelae van die regering en geld wat trekarbeiders huis toe stuur. Dit was egter aangenaam om ʼn groep mense te sien wat swartwattelbosse uitkap as deel van die regering se Working for Water-program. Minimale lone word betaal, maar die mense het trots gelyk op die berghang waar geelhoutbome en inheemse gras nou weer kan groei.
So van bome gepraat. Ek het ʼn naweek in Stellenbosch benut om na Carina Stander te gaan luister by Protea Boekhuis. Sy het ʼn pragtige toonsetting van een van haar gedigte deur Herman van den Berg gespeel. Dis lekker dat Carina woorde, beeldende kuns en musiek in haar werk inspan. Way to go, suster!
Herman is besig om een van die voorste toonsetters van Afrikaanse gedigte te word. Hy het al “Beiteltjie” van Van Wyk Louw laat sing, asook ʼn aantal van Bernard Odendaal se lirieke. Carina het natuurlik ook ʼn CD saam met Francois Le Roux (ook bekend as Ha!man) opgeneem. Laasgenoemde is ʼn inwoner van Hogsback.
Iets anders wat my hart laat sing is die feit dat die historiese Lovedale College (hier bo is ʼn foto van die hoofgebou) nou pragtig gerestoureer is. Lovedale is deur die Presbiteriane gestig om onderwys aan die ontluikende Xhosa elite te verskaf. Ek dink Fort Hare universiteit het uit hierdie skool ontstaan. In die omgewing is daar natuurlik ook Healdtown (Metodiste) en St Matthews (Anglikane) met sy pragtige klipkappel. Toe ek laas daar was, het Lovedale uitmekaargeval.
Ek moet seker ʼn plan maak om Noni Jabavu se The Ochre People te lees. Blykbaar sukkel ʼn mens nogal om dit in die hande te kry. Soveel trauma staan op hierdie lieflike landskap se bladsye geskryf.