Marlise Joubert.Bekgeveg

[Gepubliseer as rubriek in Kwana, 2001, na afloop van ‘n Bekgeveg by die KKNK, Oudtshoorn. -Red.]

Van Bekvegter tot Beksitter

Marlise Joubert

Verlede jaar en voor verlede jaar nog bekvegter, maar vanjaar –  net ʼn beksitter by die KKNK op Oudtshoorn se bekgevegte. En ek skuif my tafeltjie reg en ek sit my stoeltjie op sy plek.

Spangees by die Versvreters

Spangees by die Versvreters

ʼn Bekgeveg, liewe lesers, vir dié wat nog nie weet nie, het niks te make met skewebekke of bitterbekke nie. Dit het alles te make met kampvegters vir die poësie, oftewel die poetry, soos sekere bekende skrywers hedendaags dit verkies.

Dit het te make met versvreters, daardie sielshongeriges uit alle lae van die samelewing wat hulle oorgee aan die vergrype van woorde. Van taal, om te sê, wat dikwels so ongesê kan wees.

En daarom die bekgevegte. Waar is ʼn beter vorm van die belewenis van poetry, die proe en sinnelike oorgawe aan worstelende woordkunstenaars as juis op die stage? Poetry for the people. Poetry uit die monde van digters, reeds geskrewe of gebundelde verse en dan die kers op die verskoek: impromptu’s wat daar en dan op die verhoog binne tien minute geskryf en voorgelees word aan die hand van temas deur die gehoor gegee. En dan word hierdie pogings boonop deur die gehoor bepunt!

Daarom juig die feesgangers, daarom klap hulle hande en skree, daarom is elke vertoning volgepak met boere-ooms en tantes, met funkie jongelinge, dowwe dollas en literators, skrywers en bewonderaars. Daarom maak dit nie saak as die saal later stikkend warm en bedompig onder die slaptjip-waaiers word nie.

Maar vanjaar was ek net ʼn propperse beksitter. Soos ʼn draadsitter.

Die Bekbrekers & die Versvreters

Die Bekbrekers & die Versvreters

ʼn Bekteller. Want ek moes telling hou. Dis mos ʼn boksgeveg met woorde. Die telling is tong-in-die-kies, maar noodsaaklik vir die twee spanne met drie digters in elke span: Die Bekbrekers en die Versvreters. En ek skuif my tafeltjie reg vir die eerste van ses shows. En ek wonder wie gaan as die oorwinnaars hier uittree. Verlede jaar was dit die Versvreters.

Ek sit die groot koperklok neer (om die rondtes aan te kondig as die bikini-girl haar intrede maak) en die kleiner klok om die tien minute spertyd aan te kondig vir die impromptu verse. Ek sit die papiere en vorms neer vir die optel van punte soos deur die gehoor gegee, die calculator, die twee silwer stophorlosies – een om die nek, een op die tafel. Want die digters het slegs ʼn minuut tyd om in eie werk rond te snuffel as hulle ʼn tema kry, en slegs daardie tien vervlietende angswekkende minute vir die skryf van ʼn impromptu.

die bikini-girl kondig rondtes aan

Die mooi Bikini-girl kondig rondtes aan

Ek is gereed. Nee, ek is nie gereed nie.

Ek wink na Die Muse wat eenkant naby die DJ staan.

Sy moet langs my kom sit. As ek die totaal vir ʼn vers moet optel (en die vir die rondtes ook), moet sy saam optel en bevestig dis korrek. Want ek dink met vrees terug aan my ongeletterde syfervermoë en die 40% in wiskunde in standerd ses vir die laaste maal voordat ek ge-quit het. En ek dink byna met ʼn biggelende druppel aan die oog aan verlede jaar toe ek as Protea van die Kaap saam met Die Koggelaar (Louis Esterhuizen) en Rocky (Ronnie Belcher),  Dr Death (Henning Pieterse) en Zorro (Leon de Kock) en Die Skaamlip (JC Van Staden, – vanjaar was hy Johannes van Jerusalem!) op die verhoog kon staan, kon voorlees, kon vermaak, spiksplinter nuwe verse uit die mou pluk, met ou verse so tydens die voorlesing goël voor die mikrofoon en aanpas by die tema en die genot en die vreugde van mense as die woorde roer, raakvat en die oë laat omkeer. Alles ter wille van die bevordering van poësie. Dis waarom dit eintlik gaan.

Ek dink aan die temas wat daar was, heerlike temas wat die gehoor kon uitgooi: verlange, reën, Karoonag, berge. Ek dink aan die moeiliker temas wat die sweet laat tap het: skilpad, impotensie, vloermoer, galblaas, genadedood. Met die tema ‘windpomphond’ kon ek hulle uitoorlê met my vers oor ʼn kat wat sterf. Want ʼn kat in ʼn vers hoef nie net soos ʼn roos is ʼn roos is ʼn roos te wees nie – dit kan hond ook wees!

Die Muse skuif langs my in.

Die Muse het lang dun blonde hare, ʼn skerp neusie, groot sielvolle bruin oge en tuitmondjie. Haar armpies is dun, haar heupe nog dunner as konsentrasiekampkindertjies en haar voete is groot.

Sy het uit die niet verskyn, soos baie van die bekgeveg groupies net uit die niet verskyn. Sy het aangekom met die bus, by die spanlede ingetrek, die swaargewigte se kabbelende gespanne skouers masseer, moed in gepraat, kwinkslae rondgestrooi om hulle op te vrolik, kos gemaak, die koppe gestreel en saamgesuig aan die rondgaande goudversierde hubbly bubbly, gevul met ware geurige Egiptiese tabak.

En toe sy weer vertrek, net voor die laaste twee optredes, het sommige verdrietige digters naarstig die penne opgeneem en Die Muse besing, die meisie wat van nêrens ingewaai het soos sagte volstruisvere, wat wegruis met ʼn bus, al hoe verder, al waaiende, met haar oë soos melk. Só het Henning Pieterse haar lof toegeswaai, só het Leon de Kock haar vereer.

Die Versvreters: DieKoggelaar, Protea & Rocky

Die Versvreters: Die Koggelaar, Protea & Rocky

Na twee gevegte van worsteling met tellings en dawerende klokke en musiek, en die mal Kafeegriek, Demos, wat die skitterende skeidsregter is, en wat die gehoor voorstel aan die uwe: die gegradueerde digter met vyf bundels op die kerfstok wat die telling gaan hou, plus ʼn paar jollie danse met my tussen stoele deur, het ek besluit om alles oor te gee aan Die Muse en ander onbekende randfigure.

Ek sit toe in die gehoor en geniet saam. Ek klap hande en luister na hartstogtelike of agiterende verse. Innige private verse. Hardebaard poetry wat hier en daar ʼn tante ontsteld na buite laat snak. Die temas rol uit: vrugteslaai, skakerings, taalbeeld, verraad, moedeloos, water, vuur. Ek luister. Ek geniet. Ek leef volledig mee.  Louis Esterhuizen begin sy impromptu oor “Skakerings” lees:

In hoeveel skakerings

In hoeveel kleurtone ontbloot die liefde

hom aan ons?  In hoeveel verdiepings

van vreugde

die verploffings van lag

die sagter skandering van twyfel …

Twyfel? Ja!

Want waar ek vroeër so dubbelseker was dat ek vanjaar slegs die beksitter gaan wees, twyfel ek nou of dit die regte besluit was. Ek was bang vir die stres wat jy deurgaan, die ontbloting, die humeure wat soms agter die skerms ontvlam, die impromptu’s wat jy voor vreemdes moet skryf in die sweet van jou verhoog-gesig. Net sommer bang…  Nou weet ek nie meer nie.

Ek twyfel. En stelselmatig skandeer ek my gevoelens toe die hele fees verby is: onthou ek die plesier, die gille, die uitroepe van die gehoor, die vitaliteit, die adrenalien wat loop in elke voordrag, die onverbloemde kameraadskap tussen die digters ten spyte van kastige kompetisie, die nabetragting met ʼn koue bier in die hand, die uitruil van ervarings, waarom ons dit doen, die “verploffings van lag”. Die oorwinning van die Versvreters weer,  en veel meer.

Volgende jaar dan, besluit ek, moet Protea uit die Kaap, haar kroonblare laat dryclean, terugkeer na die poetry oppie stage. Weer ʼn bekvegter wees.

Wel, net miskien.

Miskien…

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •