Huldeblyk.IL de Villiers (Charl-Pierre Naudé)

Nog ‘n skrywer het die pad gevat.

Charl-Pierre Naudé

 

Die verse van I.L. de Villiers was van die eerstes wat ek ooit gelees het. Ek was nog op skool, dit was dekades gelede.

 

I.L. de Villiers was ‘n omstrede man. Met alles waarvoor hy gestaan het kon almal nie altyd saamstem nie. Maar hy het die poësie na Jan Alleman gebring soos min Afrikaanse digters voor of na hom. En in oënskynlike spanning hiermee het hy onverpoos ‘n aristokratiese ideaal verteenwoordig. Sommige mense sal sê hy het hierdie ideaal minder goed verwesenlik tydens sy redakteurskap van Rapport destyds.

 

In ‘n tyd soos hierdie kyk mens na die hoogtepunte en die strewes agter die omstrede openbare persoon.

 

Ek het hom oor e-pos leer ken omdat ek as teksversorger gehelp het om sy laaste boek, Strooidak en toring, vir voorlegging gereed te kry. Agter in hierdie boek is ‘n referaat wat hy gelewer het voor die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oor die belang van kleiner kulture om te oorleef. Dit vertoon ‘n deurdinkte strewe en – dalk omdat dit Izak de Villiers binne ‘n verswakte Afrikaanse verband was – vertoon dit besonder edel. 

 

Die Izak de Villiers wat ek as openbare figuur geken het, het ek dikwels ervaar as antagonisties teenoor die strewes wat vir my persoonlik belangrik is. Ons was van verskillende generasies. Die een wat ek meer persoonlik leer ken het, in die kwesbaarheid – die weliswaar uiterste kwesbaarheid – van sy ouderdom het ek ervaar as iemand wat baie bewus is van sy eie teenstrydighede, pynlik bewus, soos ook blyk uit sy laaste boek, en juis daarin het hy my herinner aan hoe belangrik dit is om mens se eie strewes meer genivelleerd te sien, meer in spanning met hul eie kontrapunte, en dus helderder – strakker – binne menslike en sosiale verband.

 

Hamba kahle, I.L. de Villiers. Gaan u goed. 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •