Huldeblyk.I.L. de Villiers (Joan Hambidge)

Deur: Joan Hambidge

I.L de Villiers (1936 - 2009)

I.L de Villiers (1936 - 2009)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

I

 

In my jongste bundel Vuurwiel (Human & Rousseau) verskyn daar twee verse vir die digter I.L. de Villiers. Die eerste is ‘n parodie van sy bekende “Huisbesoek” en die tweede gedig “Wederom” het ek geskryf nadat ek die mens in lewende lywe ontmoet het. Ons vriendskap het hoofsaaklik telefonies geskied en ongeveer drie weke gelede het hy my uit die bloute opgebel en bely dat hy siek is. Ek het iets in die dringendheid van sy stem aangevoel –  en in retrospek besef ek dat hy as’t ware afskeid geneem het van my.

So klink die twee gedigte:

 

Huisbesoek

 

vir Pater Sakkie de Vee

 

Dis waarlik betredend om agteroor te sit,

die gemeente te beskou – hoe dit alles knyp:
“Ja, dominee net gister was daar ses, my kwit,

moordsake binne die geslote kring. Dit

 

dui op die verbrokkeling van die gesin.”

Die man blameer die ANC, die vrou die stryd.

Meteens kondig die herder aan: “In die begin

was die woord wáár. Laat ons weer besin.”

 

En terwyl hul vir oulaas kniel, in ‘n kring,

dink hy, ja, “things fall apart” en weet hy vir ‘n feit

dat die koerantwese nog méér leed sal bring:

dalk ‘n gebreekte sonnet, distigon of  ‘n fyt.

 

Wederom

 

      Vir I.L de Villiers

 

Die eerste keer leer ek jou ken

in ‘n geskifte blou verseboek:

die dominee op huisbesoek.

 

Toe, later, sien ek jou tersluiks

op ‘n loom namiddag in ‘n hotel

waar jy sonder eerbied die hof hou.

 

Die derde keer beleef ek jou

by die erediens van ‘n digter –

in ‘n ryk geëmbosseerde toga.

 

Gister sien ek jou, met ‘n pers hemp

en swierig bypassende das, waarop

jy, per abuis, ‘n druppeltjie mors.

 

Un coup de chapeau, roep die Franse dit.

En ek haal my groen verbeelde hoed af

vir ‘n manjifieke digter en vriend,

 

wat van hierdie gegewe ‘n volmaakte,

rymende tersine of distigon sou maak!

 

 

II

 

Veral met sy laaste twee bundels, Vervreemdeling en Jerusalem tot Johannesburg het die digter hom by uitnemendheid bewys as ‘n digter van formaat: iemand wat verstegnies en veral met sy beoefening van die distigon ‘n besondere bydrae gelewer het to die Afrikaanse digkuns.

Oor laasgenoemde bundel het ek positief geskryf in ‘n resensie wat in Die Burger van 6 April 2008 verskyn het. Ek haal die slotparagraaf aan: “Dit is ‘n ryk geskakeerde bundel waarin vorm en inhoud altyd één is. Daar is slim toespelings op Eliot en verder terug na Coleridge en Wordsworth. Die digter praat dikwels deur konkrete beelde wat simbole word vir sy eie lot of siening van die lewe. Hy laat sy beelde práát sodat die leser by implikasie die afleiding oor die boodskap moet maak – die uitstaande kenmerk van ‘n groot digterskap. Dit is die werk van ‘n vakman met ‘n hárt.”

 

III

 

Met sy debuut Leitourgos (1972) tot die slotbundel Vervreemdeling (2008) is die leser deurgaans bewus van ‘n enorme vakbeheer. Tussenin is daar Manna oor die duine (1974), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005). In die jongste Groot verseboek is hy wat my betref onderwaardeer en ‘n mens besef skielik dat veral die laaste twee bundels waarskynlik nog ‘n impak moes maak op die keurders en kanoniseerders. (Daar is vanselfsprekend ook ander publikasies: essays en religieuse mymeringe en ‘n boek oor depressie.)

‘n Digter word immers onthou aan die verse wat klassieke status in sy taal bereik het. In hierdie opsig is “Huisbesoek” beslis so ‘n klassieke vers en “Dietrich Bonhoeffer :brief aan homself”:

as niks meer heilig is nie

word alles heilig

en die wind waai waar hy wil

 

En in die aangrypende vers “Dit is volbring” skryf hy:

 

mens sien pas voor die oomblik van die dood

glo prente van tevore, kiekies uit ‘n laai

wat lank daar lê: die skoolkonsert, die groot

party, son op die agterstoep, ‘n skaaprib bruin gebraai

 

Vir my persoonlik is die gedig oor sy vader,  “Nagedagtenis”, een van die sterkste en aangrypendste gedigte van ‘n kind oor ‘n vader. Ons weet hoe min geld daar in die sak van hierdie stil vader is en die gedig eindig met die tréffende slot:

 

 ‘n notaboekie

L. de V. gekoop Berlyn Kersfees 1936 Hebr. II vs. 13, 14

sê jy het ‘n vaderland gesoek

 

De Villiers was ‘n predikant en koerantman. In sy bundels vind ons talle religieuse gedigte en veral in Jerusalem tot Johannesburg is daar ‘n besonder aangrypende vers oor die religieuse digter Sheila Cussons. In hierdie gedig word daar in gesprek getree met haar digkuns en kommentaar gelewer op die mens wat as spirituele wese altyd deel bly van die onvolmaakte wêreld uitgelewer aan vlieë wat oor alles loop.

In die titel sien ons dan ook die paradoks wat regdeur hierdie werk loop: dit is die digter van die aardse, wêreldse bestel teenoor die religieuse. Maar die spirituele is sterker, daarom word dit eerste in die titel van die bundel vermeld. De Villiers het eweneens uitmuntende lykdigte geskryf – waarvan die een oor sy vriendin Lorna Vosloo waarskynlik my altyd sal bybly.

I.L. de Villiers se voortreflike hantering van die sonnet, distigon en tersine dwing bewondering af. Ek dink ‘n mens sou uiteraard die digter kon tipeer as die digter van die nostalgie, maar nooit as sentimentele digter nie. Daarvoor is die tegniese beheer so dwingend dat dit die sentimentele of emosionele oordaad uitwis.

Ons vind dikwels die epifaniese moment in sy digkuns, daardie oomblik waar iets oopgaan of ‘n moment verhelderend voor die waarnemer staan.

Uiteraard was die digter ‘n komplekse mens: sowel joernalis as religieuse mens en die gedigte verraai iets van hierdie twee pole. In die digkuns egter word die teenstrydighede versoen, dikwels in aangrypende verse wat om die vormbeheer veral imponeer.

Lykdig

 

   Vir Izak

 

 

Het jy ooit kon dink, ou knorpot,

dat vir Roman Polanski

na Bladsy 3 sou uitskuif

as groter, relevanter nuus?

As koerantman sou jy waarskynlik

grinnik oor só ‘n skuif.

“Wag, sit neer, ek bel jou weer!”

Wat sou jy maak van dié wandelende Jood

se onverwagse inhegtenisname in Zürich?

Dit was jý wat te vertelle had

hoe sy moeder in Auschwitz die lewe laat,

daarna die jongeling altyd op vlug;

op skool ‘n voorvelletjie gevorm uit kerswas

om Nazi-parades te fnuik; Sharon Tate se dood,

en uiteindelik die media-sirkus:

verkragting van ‘n dertienjarige.

‘n Regter wat sy woord nie hou.

Op ‘n aand kyk ek na Knife in the water,

die klank afgeskakel, toe jy bel.

Boots lewe die kuns hier na

of gebeur dit dalk als ándersom?

Nóż w wodzie.

Raak ons moeg gesluk aan lewenswalging

sodat ons begin stik aan blote verontwaardiging?

Die koerantman sou ánders as die digter beslis

omdat hy vervreemdeling én verskoppeling is.

 

Joan Hambidge

 

Vir ‘n onderhoud met I.L. de Villiers: kyk op LitNet se Absa-ketting van 22 Januarie 2007. 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •