Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
29 September 200929 September 2009

Waar is ons Lasith Malinga’s?

Lasith Malinga
Lasith Malinga

Goed, laat ek dit nou maar vanoggend erken. Naas my passie vir die poësie is ‘n vergelykbare passie wat ek het, krieket. So sit ek verlede Vrydagaand en kyk na die wedstryd tussen Engeland en Sri Lanka. Meteens vra die kommentator ‘n vraag wat my laat regop sit: is Engeland ‘n span wat óór-afgerig word, want hoekom het hulle nie die unieke, eiesoortige spelers wat spanne soos Sri Lanka en Pakistan byvoorbeeld het nie? Ek meen, spelers soos Lasith Malinga, Muttiah Muralitharan en Ajantha Mendis voldoen hoegenaamd nie aan die norm vir “algemeen beskaafde krieketspelers” nie. Hul styl en aanslag is só willewragtig uniek dat geen afrigtershandleiding hul manier van doen sal aanbeveel nie. En tog – hulle is wedstrydwenners.

Vergewe my dus as ek vanoggend duiwelsadvokaat speel, maar die vraag kom onwillekeurig by my op: Waar is óns Malinga’s in die digkuns?! Is ons digkuns nie dalk self besig om soos die Engelse span oor-afgerig te word nie? Die een na die ander bundel verskyn met “veilige, super-afgeronde poësie”, maar waar is die Gert Vlok Nels en Breyten Breytenbachs van ons digkuns? Goed, Loftus Marais en Ronelda Kamfer is seer sekerlik opwindende debute, júís met bogenoemde in ag geneem, maar waar is digters soos Toast Coetzer, Erns Grundling, Annie Klopper en Tertius Kapp? Stel hulle gewoon nie belang nie, of kan hulle nie uitgewers vind nie? O, ja, en dan is daar nog iemand soos Kabous Verwoed ook … Wanneer gaan hulle ‘n bundel aanmekaar sit en die hele boksemdais op sy kop draai?

En sal ons keurders / resensente / uitgewers in staat wees om dié super-ónafgerigte digters te hanteer?! Of wat praat ek alles? Ons het immers almal en alle style nodig, is dit nie? (Terloops, indien dit jou interesseer: Engeland het met sy konvensionele, verbeeldinglose spelers die wedstryd teen Sri Lanka met 6 paaltjies gewen en daarna, in ‘n wedstryd Sondag, ons eie veelgeroemde Protea-span uitgeskakel. Boonop wil dit lyk asof Sri Lanka óók nie die uitdunrondtes gaan oorleef nie … Mmm, is daar dalk ‘n les hierin opgesluit vir ons? Ai, ai. Maar ek moet darem sê dat die kolfblad en atmosferiese toestande – lees: keurders / resensente / uitgewers – die Engelse span sowel Vrydag as Sondag bevoordeel het.)

Nietemin, vir jou leesprikkel vanoggend, die volgende gedig deur The Buckfever Underground, alias “Toast Coetzer se band”. Besluit self of dit die ware jakob is en of dit straks net prentendeer tot gedig wees. (Gaan lees gerus ook die onderhoud wat met hom gevoer is op LitNet.)

***

Ten slotte, ons het ‘n huldeblyk van Joan Hambidge ontvang na aanleiding van I.L. de Villiers se afsterwe die afgelope naweek. Gaan lees hierdie roerende besinning oor die gestorwe digter as vriend en die poëtiese krag wat hy was. Die huldeblyk is hier in die Brieweboks geplaas.

Geniet alles wat nuut is op die webblad vandag. En onthou: koes vir die opslagballe en speel tog (altyd) met ‘n reguit kolf.

Mooi bly.

LE

 

“Die Woord”

(deur The Buckfever Underground)

elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond elke woord is ‘n magneet wat die waansin kom opvreet elke woord is ‘n wapen warm teen jou sy elke woord trek water uit die diepste grond elke woord skep lug soos voëls wat vlug met kenne in die lug elke woord is ‘n wurm wat stil verorber aan elke blaar wat val soos ‘n druppel bloed

elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond uit die tong van ‘n mespunt kom moord uit die oorde van die hemel kom die vrugte van die hel en die plukkers is die punte wat verlief is op kommas die glans van die woord is die ronding van ‘n koeël die loodboot wat seil soos ‘n brief op die see jy’t jou lewe se tyd om in blind te verdwaal die gif in jou wond is skaars ‘n kwaal want die woord kom genees al die siektes van die vlees die woord is die agteros wat verbrand die kraal en speke steek deur die koppe van die kinders ‘n foon wat lui is blomme in jou ore elke sin wat klap is ‘n vars pan vol goud elke sprong van jou lippe is plesier in die klippe die kapkapkap van die lepels en die vurke en die messe en die borde wat skree koopkoopkoop

elke woord draai die rat in jou oog net stywer die drukgang word nouer en nie wyer nie elke woord is die kraak in die rand van jou kop die woord vir weeskind die gom wat vassit die spyker wat buig die pos in die pakkie met die rekkie om elke woord is ‘n sambreel wat oopvou en vertel elke storie uit die maag is ‘n slang wat vervel elke woord dra die grein van die eeue oue pyn die sement en die stene die stof en die puin die uitbasuin die binnehou die inkerker die uitblaker die woord haal die hoek uit sy mond en steek dit in die grond die woord staan halflyf in die water en roep om hulp

die woord was buite toe die wind gaan lê het toe die mis verdwyn het toe die nag verseker ‘n warm dag beloof het elke woord gooi duim in die uitgewiste pad van die vulkane se strepe oor die stomme leë landskap wat traanbevlek en oorbewei teen die kosmos se roetine wil stry

elke woord se hande ruik na die olie van die pistool onder die kussing daar gebêre vir wanneer die waansin te veel raak en die boewe en die vrese en die aansteeklike siektes met gemak deur die tralies voor die venster invloei soos die son in die oggend wanneer voëls teen die dak kom krap

elke woord is ‘n pot met kos in ‘n skerm aan’t kook, elke woord is geraam in ys elke woord herlaai koeëls by die huis elke woord is ‘n wekroep om terug te baklei elke woord is ‘n pleister vir die steekwond in die hart wat bly bloei want die bloed is te dun om rowe te maak elke woord is ‘n tafelgebed in ‘n huis van winter weemoed en worshonde skeur jou in twee vanaand maar die rivier vloei aaneen is jy ook so alleen as jy sê “ek”?

(c) Toast Coetzer / Buckfever Underground

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Andries Bezuidenhout. Rit deur koorsige Hoëveld
Andries Bezuidenhout. The Highveld is a shit place to be in spring →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: "Miniatuur". (Johann de Lange)
  • Boekbespreking: “Taboek” (Riku Lätti)
  • Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)
  • Resensie: Vlindervreter ( Melanie Grobler en Christiaan Diedericks)

Nuutste bydraes

  • Resensie: “Skulpkrale: Kwatryne” (Marié Heese)
  • Nuwe publikasie: “Nogmaals vir die bysiende leser” (Joan Hambidge & Marlies Taljard, Reds.)
  • 100 Duitse Bestes: Jakob van Hoddis (1887-1942)
  • 100 Duitse Bestes: Georg Heym (1887-1912)
  • AVBOB Persverklaring

Nuutste kommentaar

  1. Melanie Grobler on RIV Christiaan Diedericks18 July 2025

    Eugene, baie dankie vir jou gedig. Met liefde, Melanei Grobler.

  2. Bernardus Johannes Odendaal on 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (I)15 July 2025

    Gerard, die vertaling van die gedigte was 'n herkennismaking soos min.

  3. Gerard Scharn on 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (I)13 July 2025

    Geweldig dichter, Benn. Toen ik hem leerde kennen werd ik door het lezen van zijn gedichten zelf ook dichter.

  4. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Gottfried Benn (1886-1956) (I)11 July 2025

    Hierdie vertalers gee vir ons een van die beste projekte nog op hierdie webblad. Ek lees tans Brecht sing Afrikaans…

  5. Jannie Pretorius on Joan Hambidge. Hierdie lewe11 July 2025

    Mooi!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d