Voorwoord – Versindaba 2009
Nicol Stassen
(Versindaba 2009, saamgestel deur Marlise Joubert; ISBN: 978-1-86919-291-4, Protea Boekhuis, 2009; R120.00)
Dit is met ’n mate van verrassing én genoegdoening dat ’n mens besef dat hierdie bundel reeds die vyfde Versindaba-bloemlesing is.
In die Afrikaanse poësie in die breë is sekere tendense waarneembaar. Sonder uitsondering is elke Afrikaanse digbundel wat by ’n erkende uitgewer verskyn van hoogstaande gehalte. Dit is gevolglik nie meer vir goeie Afrikaanse digters nodig om hulle digbundels self te publiseer nie. ’n Mens sou hierdie tyd tentatief as ’n bloeitydperk vir die Afrikaanse poësie wil bestempel.
Reeds met die eerste Versindaba-bundel het ek geskryf dat Protea Boekhuis dit publiseer “sodat die wonderlike groot prestasies van Afrikaanse digters nie sal vervaag nie”. Gedurende elke jaar is gepoog om ’m momentopname van die Afrikaanse poësie van daardie spesifieke jaar te gee. Intussen het dit aangegroei na vyf momentopnames en ’n mens kan nou ’n meer omvattende beeld van kontemporêre Afrikaanse poësie en die ontwikkeling daarvan oor die afgelope vyf jaar vorm. Daar is bowendien voortdurend gepoog om ’n verteenwoordigende, omvangryke en genuanseerde beeld van die Afrikaanse poësie gedurende elke jaar te publiseer.
Gehalte het deurlopend ’n oorwegende rol gespeel met die seleksie van die deelnemers. ’n Bevestiging van die gehalte van die gedigte kan gevind word in die besonder groot aantal gedigte in die eerste drie Versindaba-bloemlesings wat in die Groot Verseboek (2008) opgeneem is.
Terselfdertyd is gepoog om nie aan verskeidenheid in te boet nie. ’n Mens word in die besonder getref deur die diversiteit van Afrikaanse poësie. Dit wil ook voorkom of die verskeidenheid daarvan (beide in temas en tegnieke) oor die afgelope vyf jaar selfs toegeneem het. Die diversiteit van die Afrikaanse poësie is noodsaaklik vir die voortbestaan daarvan. Afrikaanse poësie leef egter nie in isolasie nie en ’n mens kom toenemend onder die besef in watter mate poësie in ander tale neerslag in Afrikaans vind en in watter mate die mees belese Afrikaanse digters ook die beste Afrikaanse digters is.
Die deelnemers aan die Versindaba was oorwegend digters waarvan daar in die spesifieke jaar ’n digbundel verskyn het. Maar daar is ook gepoog om belowende digters te nooi. ’n Beduidende aantal het sedertdien hulle debuutbundels gepubliseer. Die Versindaba bly dus steeds dié geleentheid waar die nuutste Afrikaanse poësie gehoor kan word.
Onder die 80 digters wat die afgelope vyf jaar by Versindaba opgetree het, is al ses lewende Hertzogpryswenners vir poësie, drie van die tien lewende Hertzogpryswenners vir prosa wat ook poësie skryf en 17 uit die 23 wenners van die Afrikaanse Ingrid Jonkerprys (sedert 1966). Daar is dus bykans geen aktiewe Afrikaanse digter wat nog nie tydens Versindaba opgetree het nie.
Aan die ander kant is dit met leedwese maar ook dankbaarheid dat digters soos George Weideman en Ronnie Belcher nog gedurende hulle lewe tydens die Versindaba vereer kon word met Akkertoekennings vir hulle lewenslange bydrae om Afrikaanse poësie te bevorder.
Die vyfde Protea Poësieprys word ook vanjaar tydens die Versindaba toegeken vir die beste Afrikaanse digbundel wat gedurende 2008 verskyn het. Die ontvanger daarvan is weer eens ’n waardige wenner wat sy plek langs formidabele digters soos Charl-Pierre Naudé, Gilbert Gibson, Antjie Krog en Breyten Breytenbach inneem.
Na vyf jaar bied Versindaba nie net meer ’n bestekopname van die poësie nie; dit het self ’n wesenlike moment op die jaarlikse poësiekalender geword.