Dr Zandra Bezuidenhout
Commendatio by die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir 2009
Soos u waarskynlik reeds weet, is Loftus Marais se digbundel Staan in die Algemeen Nader aan Vensters wat in 2009 by Tafelberg-uitgewers verskyn het, vanjaar die wenner van die Ingrid Jonker-prys. Dit gaan jaarliks aan ‘n debuutbundel, en om die beurt vir poësie in Afrikaans en Engels.
Hierdie toekenning het ontstaan uit ‘n prysfonds wat in 1965 ná Jonker se begrafnis deur haar vriende en medeskrywers ingestel is. Weliswaar klink ‘n bedrag van
R3 000 vir skeppende werk nie besonder groot nie, maar saam met die medalje wat deur Bill Davis ontwerp is, en natuurlik die nagedagtenis aan Ingrid Jonker, gee die prys ruim erkenning aan ‘n belowende jong stem in ons poësie. Meer nog, is dit ‘n openbare saluut deur gevestigde digters vir ‘n opkomende digter; ‘n unieke aanmoediging en uitdaging om ernstig aan ‘n digtersloopbaan te begin bou.
Daar was vanjaar vier kandidate. Die beoordelaars het daarop gewys hoe moeilik dit was om ‘n wenner te kies, en beskou Ronelda S. Kamfer se Noudat Slapende Honde wat in 2008 by Kwela verskyn het as ‘n baie sterk naaswenner.
Nietemin is dit Loftus Marais wat vandag as waardige wenner uit die stryd tree. “Dis selde dat ’n letterkunde, enige letterkunde, geseënd is met ’n nuwe stem wat so sterk is soos Loftus Marais s’n”, lui ‘n uittreksel uit die beoordelaarsverslae. Daar word melding gemaak van die buitengewone bundel-afronding en die reeds buitengewone peil van ontwikkeling van Marais se digterseienskappe. Hy betrek onwaarskynlike onderwerpe, en ook daarin skitter hy. “Oorspronklik”, en “Skokkend goed”, beskryf nog ‘n beoordelaar sy gedigte.
Marais se poësie word aangeprys vir die gesofistikeerdheid en vernuf daarvan, asook vir die ironie wat nooit in sarkasme verval nie. Dieselfde beoordelaar sien die spreker as ‘n “geïnspireerde flâneur”, ‘n wandelaar wat aan sy verbeelde gespreksgenoot die onwaarskynlike en absurde in die alledaagse Afrikaanse bestaan uitwys, en ingestel is op ontluistering. Die verse word trouens bestempel as “heilige spot”, maar sterk intellektueel en vormvas. Nietemin, so voel ‘n ander beoordelaar, is dit ‘n bundel wat tot Jan Alleman uitreik vanweë die leesbaarheid van die gedigte, en ook daarmee vernuwing in die Afrikaanse digkuns bring.
“Kyk daar”, sê hierdie digter, “en sien wat jy sien”; en by implikasie: “Staan nader aan die vensters: die weerlig wag op jou.”
Op hierdie onheilspellend-speelse noot oorhandig ek graag namens die komitee die Ingrid Jonker-prys vir 2009 aan Loftus Marais – wat as eerstejaarstudent by my in die groepklas gesit het, en ook daar, so glo ek graag, deur die vonk van die poësie bekoor is.
Veels geluk aan ‘n stoutmoedige en vernuftige wenner.
Dr. Zandra Bezuidenhout
Namens die Ingrid Jonker-pryskomitee
Stellenbosch Versindaba, 28 November 2009