Na die afgelope Woordfees begin ek so stadigaan weer my kop bo water lig – my oortjies steek net-net uit.
Louis en Marlise het seker al moed opgegee met my omdat ek die afgelope twee maande so stil was. Ek is jammer daaroor, liewe webmeester en webmeesteres.
Ons is besig om die laaste punte vas te knoop na ʼn heerlike Woordfees waarin ons ʼn rekord aantal kaartjies verkoop het. Ons is ook baie dankbaar oor die bywoningsyfer van 70,72%. Verlede jaar, tydens die elfde US Woordfees, wat toe die grootste was in die elf jaar van die fees se bestaan, was dit net onder 70%.
Sonder ons skrywers en digters sou die fees natuurlik nie kon wees nie. Baie van die digters wat aktief is op hierdie webwerf, het opgetree by die Woordfees. Aan gesprekke en lieflike poësie was daar dus nie ʼn tekort nie.
Ek deel graag ʼn paar foto’s van digters wat gaste was by Skemerverse op die laaste (Sondag-)aand van die Woordfees.
Annie Klopper, van wie se verse in Tafelberg se Nuwe Stemme 4 opgeneem is, het die foto’s geneem.
Abel Kraamsaal het gesorg vir die musiek tussen digters se voorlesings. Sy jongste CD, Die afstand tussen tyd, is onlangs uitgereik na ʼn musikale stilte van drie jaar.
Danie Marais was skitterend, soos altyd. ʼn Lekker verrassing was toe hy vir Rustum Kozain as gas daar aanbring. Ek en Danie kon darem vinnig-vinnig nuus uitruil tydens ʼn kort verposing in die Trumpet Tree se rookkamer.
Twee jongmanne aan wie se lippe Skemerverse se gehoor gehang het, was Jasper van Zyl en Loftus Marais. Loftus het, soos almal weet, nou omtrent al elke literêre prys met sy uitstekende debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, ontvang. Ons sien uit na Jasper se debuut wat later vanjaar verskyn.
Louis Esterhuizen en Marlise Joubert is altyd ʼn wenkombinasie by ʼn geleentheid soos Skemerverse. Die ontstemmende rustigheid en liefde wat straal uit hul aanbiedings bevredig ʼn kritiese gehoor. Oor Louis se Wat die water onthou heers daar groot opgewondenheid.
Diana Ferrus was haar formidabele self. Ek het agterna tot om middernag saam met haar gekuier. Ons verstaan mekaar. Diana, ek hoop jou bril en skoene wat jy vergeet het, het jou bereik daar waar ek dit by UWK laat aflewer het.
Volgende jaar maak ons weer so.
Dankie, Louis. Ja-nee, ek dink ek is nou terug. Kort van draad maar altyd paraat!
Lekker om jou terug te hê, Melt. En nogmaals geluk met ‘n skitterfees. En moenie komkommer nie, die “moed” opgee waarna jy verwys, is godedank ‘n geduldige ding … Dis die “moet” wat korter van draad is.
Sien jou (hopelik) weer binnekort?
Louis