Blogfokus
Die lewe is broos, tydelik, beeldskoon, gevaarlik en onversetlik.
En die gedig ʼn keuse om verder te leef as die belemmerings van eie skeppings.
(MHG)
In ʼn tyd voor staats- en militêre maneuvers en teregstellings, polisieklopjagte en sluipmoorde het die sirene klokslag nege uur saans die dorpstilte verbreek. Dit was die tyd toe my slim broer na die radio geluister het, na die name van gebombardeerde stede van ʼn ander kontinent, van oorlogsfronte wat verskuif en nuus van die vyand. Maar hierdie skrywe is eintlik ʼn ander storie. Inteendeel die tuinstorie is talle male anders en opnuut oorvertel.
Ek kon nog nooit heeltemal my verbintenis met die tuin ontknoop nie. Veral die herinnering aan ʼn granaat langs die peer en perske, dra ek in my rond. Maar soms in nostalgiese oomblikke wonder ek waar daardie enkele rooi granaat vir die eerste keer aan my openbaar is; in die tuin, of in die klein boeke-afdeling van die plaaslike handelaar, Wulfsons. Ek weet wel dat die granaatboekie met kinderverse, my eerste boekaankope van daardie pre-geletterde tyd, nou nog deel is van ons boekeversameling.
Ons het onlangs ʼn tekort aan boekrak ruimte ondervind en aangesien ons seehuis uitverhuur sou word vir die Desember vakansie, is ʼn aantal boeke wat ons nie meer wou hê nie in plastiek inkopiesakke in die skryfkamer gestoor; vir ʼn week of drie, voordat my man goedgunstiglik die boeke by ʼn liefdadigheidsorganisasie wat ou meubels en selfs boeke verkoop, afgelaai het. Hy was ʼn paar minute na vier terug toe ʼn ongemaklike kriewelrigheid op my toeslaan, toe ek vra hoeveel sakke hy geneem het. Deeglik en korrek van aard, maar onwetend, het hy die een waarop Poetry staan, die een met boeke wat ek uitgesoek het om na Stellenbosch te neem, ook geneem.
Sestien uur later staan ek in die groot vullisherwinningsaal, direk langs die plakkersbuurt teen die hange van die Kogelberge, om te hoor dat Breytenbach se Oorblyfsel, Ritsos se Exile and Return, Montale se Cuttlefish Bones, The Complete Poems of Cavavy, John Berryman se The Dream Songs (Henry se gesprekke met Mr Bones), Thesiger se Across the Empty Quarter asook ander boeke wat ek herhaaldelik oor jare gelees het, al te same vyftien hartsboeke, versnipper of verpulp is.
Ek het nooit gevra om die verskriklike Versnipper Machina te sien nie maar ek het wel aan die Praagse skrywer, Bohumil Hrabal se Too Loud a Solitude gedink. Ook aan sy hoofkarakter wat vyf-en-dertig jaar lank miljoene boeke, onder andere , al die Koninklike Pruisiese Biblioteek se kosbare leergebinde foliante met vergulde rante, in ʼn hidroliese pers verpulp het. Na die daad loop Haňt’a in sy verbeelding deur ʼn lang gang terwyl duisende weerlose boeke by hom verby skuif; soos hoenders wat so pas uit hulle hokke by Libuš ontsnap het en dan in die groen gras begin wei, maar altyd weer gevang word deur dogters van die Brigade van Sosialistiese Arbeid, wat hulle aan die vervoerband hak, en hulle daardeur, net soos die boeke in die eindelose gang, tot die dood veroordeel. Dan sê Haňt’a: “If I could go to Greece with the Brigade of Socialist Labor, I’d lecture to them more than just philosophy and architecture, I’d lecture to them on all the suicides, on Desmosthenes, on Plato, on Socrates. But they belonged to a new era, a new world, it would all go right over their heads, everything was too different nowaday.”
En wie se skuld was dit op 10 Mei, 1933, toe vyf-en-twintig duisend boeke van onder andere Bertolt Brecht, August Bebel, Thomas Mann, Ernest Hemingway, Erich Maria Remarque se All Quiet on the Western Front, Heinrich Mann se Professor Unrat wat in die Duitse bioskope in 1930 vertoon is as The Blue Angel, boeke van Max Brod en die digter Heinrich Heine in vlamme opgegaan het? Was Joseph Goebbels wat tydens die verbranding ʼn opruiende tirade teen vreemde invloede gehou het, die skuldige een?
In hierdie jongste weergawe van die tuinstorie het ek ʼn poëtiese ruimte ontdek wat ʼn doodgewone jaar in my lewe verander het na ʼn buitengewone een. Ek onthou dit as die jaar toe ek die horison ontdek het. Die vorige jaar nog was daardie intieme, fisiese bestaan van naggeluide, die musiek van ons ouers se kamergesprekke; voorhistories, pre-seksueel en hibernerend was ons gesus deur ons pa se arms wat ons vashou het. Ons het gelukkig saam geleef totdat ʼn groot verlies ons na die ander landskap gedryf het. In Rustenburg het ons weduwee ma nadat sy die onderwys professie betree het, ʼn grasdak huis in ʼn newelstreek teen ʼn platorand, in die kom van die Magaliesberge, gekoop. Die huis sou aan my slim ouer broer met die rooi hare behoort maar die groot groentetuin wat gewissel het van artisjok tot waatlemoen na verdwaalde maranka, aan my.
Aan die kant van die boord was ‘n stuk veld, hier en daar gedrapeer in die geel van klein veldblommetjies. Met die terugkeer van die posduiwe was die lug sag en oortrokke, gevolg deur die Leghorns wat pik-pik by die agterdeur kom aanmeld het vir hul daaglikse rantsoen mieliepitte. In die boord was dit broeiend en die grond onder die bome sanderig. Af en toe was daar ʼn ritseling in een van die bome. Soms het ʼn voël of ʼn nagswael geroep. Waar die boord ophou was daar goed in die omringende berge en aangrensende veld wat geskree het. Nader aan die huis het die paddas en die krieke egalig geroep. Dan gedurende die nag as die maan soos ʼn kors aan die heelal gehang, het die wind om die hoeke van die huis gepleit. Soms as ek mooi geluister het kon ek die mos hoor groei.
Voorskools en huiwerend het ek die tuin en die boord betree en sodoende ʼn daaglikse, jaarlikse ritueel gevestig. Vroegdag reeds het ek van mangoboom tot druiweprieel, tot hoenderhok, tot suurlemoen en appel na die posduifhok, avokado en lemoen, perske en appel, kweperlaan, die dam met water, die leivore, die sanderige en die kleierige gedeeltes, die grasperk en die roostuin, die jakarandas met hul geheime trone, die hond se lêplek onder die giftige selonsrose, die mossies se voëlbad, die bruisende bergstroom na die reën en die silveroaks langs die grondpad, gestap. Ek het gekyk hoe die bome gesnoei en natgelei word. Die daaglikse roetine, asook die oordaad van die boord, het persoonlike standvastigheid gebring want ons lewe was op sy kop gekeer. Verlam deur groot nuwe verantwoordelikhede, verlies en gemis het ons ma soms as sy terug gekom van die skool, niks te sê gehad nie. Dan as sy haar kop lig om ver deur die venster te staar, het die kind haar ma se oë gevolg na die sensitiewe, brose mislyn op die kruin van die Magaliesberge. Daardie jaar toe ek die horison ontdek, het ons kos wat warm gehou is in die Dover-oond, geëet.
Maar dit was nie net die storms wat ons geskud het nie: die lug rondom ons het sterk seine gestuur. Soms as die wind die silveroaks gebuig het, was die taal en eienaardighede van die dorpenaars in ons gemoed opgeneem en ons het geleer om knieg in plaas van knie se sê. Ons ma as onderwyseres van Joodse kinders, het die resonante Engelse tone die huis ingedra en as ons ouma kom kuier het, het sy kweper , druiwe , tamatie en appelkooskonfyt gekook, ook boerbrode en lamsboude in die Dover-oond gebak. Ons was so ontvanklik en gevoelig soos die konsentriese sirkels op die emmer water in die spens wanneer bliksems en donderweer tydens groot Transvaalse storms ons huis geteister het. Dit was ʼn pre-reflektiewe tyd van die kind. Ook prehistories in die sin dat niks geïnterpreteer is nie.
Vroeg reeds is die ritueel en daaglikse besoeke aan die boord verplaas na weeklikse besoeke aan die dorpsbiblioteek waar die beweging van rak na rak, die waarneming van titels en skrywers, die ritueel van digbundels of ander boeke uitneem of betalings by die kassier, ʼn lewensnoodsaaklike aktiwiteit geword het. So verknog was ek aan die tuin-boek ritueel dat ek vir sewe-en-twintig jaar ʼn ingeskrewe student by die Universiteit van Pretoria was. Vandag weet ek dat my professie as leser eintlik ʼn beswering van die pynlike verlies van ʼn pa op driejarige ouderdom is.
Geleidelik het my gehoor verskerp totdat diep iewers in wat ek is, dwingende ritmes en tonaliteite na vore getree het. Woorde is teruggesnoei tot suiwerste moontlike essensie. Hierdie ritmes van die gedig, is hulle bloot herhaling van ander klanke wat eindeloos deur die heelal sirkuleer? Klank op klank en ritme op ritme, uniek in sy individuele eggo en herhaling? Die passie om die klanke van die kindertuin te herhaal is egter nie die volle waarheid nie. Dis iets meer reflektief. Dis asof daar uitgereik moet word na die essensie van die konsep van die passie, ʼn soeke na die standvastigheid van musikaal bevredigende ordes van klank. Asof daardie impulse in die gemoed in sy wildste wese verlang om getransformeer te word, om terug getrek te word na die essensie van sy oorsprong.
In Kleinmond staan ek sub-bewus, onbewus, half verdwaas met ʼn knop in my keel met die gewaarwording dat ek die vierkant van saamgepersde boeke is en ek wonder wat die Versnippenaar gedink het toe die vrou, minute nadat my man die drie sakke aan haar oorhandig het, die boeke by die Herwinningsentrum afgelaai het. Sy het slegs ʼn paar ou resepte boeke gekies omdat sulke boeke goeie verkopers vir fondswerwing is. Hoekom is die boeke nie eerder herwin nie? Ek sien Brecht staan by die ingang van die herwinningsaal. Hy sien hoe plat die wêreld om hom is. Maar op die horison is die Kogelberge wat die aarde soos ʼn hoepel omsluit. En ek is weer eensaam en alleen en verwond. Ek sien Bebel strek sy hand uit om ʼn nuwe rigting aan te wys. Ek sien Hemingway as ʼn romantikus en Remarque as ʼn klassikus. Mann is die sterk stroom en Brod die vloedgety. Soos gebreekte vlerke laat Heinrich Mann sy arms sak as Heinrich Heine se metafore verdwyn in die mis. Ek voel koud as ek die kuspad huis toe neem. Waar die patryse skrop en die dikkoppe broei, waar aalwyne hul lang geleidende arms na my uitsteek, wag my man met ʼn bos spierwit rose.
________________________________
Hrabal, B. 2004. Too Loud a Solitude.
Absoluut wonderlik, Melanie. Gedigte en prosa wat mens oor en oor moet en WIL lees.
Melanie, ‘n uitstekende stuk skryfwerk & ‘n wonderlike evokasie van ‘n tyd toe alles nog nuut & interessant was. Ek hoop om nog báie meer prosa van jou te lese te kry.
Jou jongste gedigte is eweneens uitstekend; ek hoop daar is ‘n bundel in die nabye toekoms?