Self kon ek nog nooit ʼn liefdesgedig of -lied skryf nie. Gaan dit oor die feit dat dit so maklik soetsappig klink in Afrikaans? Miskien is ek net nie ʼn ware digter nie. Die stomme Aphrodite se ruggraat het in elk geval lankal geknak onder die gewig van elke tweede (of dalk eerder elke) wannabe popster wat haar opsaal en laat rym met “you”, “blue”, “true”, “do” en “doobee doobee dooohooo”. In Afrikaans is dit “jaai”, “blaai”, “baai”, “maai” (“jy”, “bly”, “by”, “my”, maar dis nie hoe sangers dit deesdae uitspreek nie; die “s” word ook as “sh” uitgespreek).
Soos met populêre lirieke, is die liefde seker die onderwerp waaroor die meeste gedigte geskryf is. Dis waarskynlik ook die onderwerp waaroor die meeste swak gedigte geskryf is. Dit is dus juis ʼn onderwerp waarvoor ek besonders lugtig is, deels omdat daar reeds so tussen al die suiker en pienk blommetjies deur sulke mooi liefdespoësie geskryf is.
Ek lees op die oomblik terug. Sondag was Abjater wat so lag se dag. Dis seker nie die tipe boek wat ʼn mens op Valentynsdag moet lees nie. Pluk later ewe lukraak bundels van die rak af, blaai rond.
Een van die eerstes wat ek raakvat is Jeanne Goosen se bundel, ʼn Uil vlieg weg. Natuurlik blaai ʼn mens eerste na “ons huil nooit nie/ ons twee huil nooit nie…” tot by “snags lê ons lywe inmekaar/ en ons vra nie vrae nie/ ons is mekaar se droefnis”. In Elders aan diens is daar ʼn lieflike, dubbelsinnige gedig wat Jeanne Goosen aan die waitress wat een aand vir haar kabeljou gebraai het in Stellenbosch skryf:
Sweetness
kom bly by my vannag
dan leer ek jou die rumba
die Charleston en die samba
Ek leer jou die jitterbug
die hush hush en die cha cha cha
en dan
daarna?
Dan croon ons tot dagbreek
Only the lonely
Hoe kan ʼn mens dan ook nie Die huis van die dowe raakvat nie? Veral die eerste afdeling; “Eet my woorde, trooswoorde”. Ag, hoe kry Breyten Breytenbach dit net so reg?
In teenstelling met Breytenbach se volmaakte liefdesgedigte staan Gert Vlok Nel s’n op krukke op ʼn perron iewers in die Karoo. Maar dis ewe mooi. Kan ʼn mens dit gedigte oor die liefde noem? Ek praat nou nie van die een met die lang titel waarin daar onder andere na “hart” en “smart” verwys word nie. Of sy tannie Rita, met haar “3 kinders en i treindrywerman met i wrok” en geloof, hoop en liefde wat oorbly, “maar die grootste hiervan was die hoop”. Of “nee nee nie dit nie, nie noodwendig dít nie”:
dertig die dag toe hy laaste uit die kerk kom.
vaag in die wete en volop in vermoedens soos die confetti.
hoekom so? vra sy vrou, hoekom so donkerder in jou oë.
is my rok dan nie wit nie? en sy lag die vraag die mense in.
mens kan nooit van mense werklik weet nie.
wát weet nie? of hulle groei-of-nut-het-of-goed-is nie?
nee nee nie dit nie, nie noodwendig dít nie
Dalk is dit anti-liefdesgedigte. Selfs in “die koms van Ligia” is sy “donker & lig & lieg ineen”. Maar dit praat met ʼn mens op ʼn sekere vlak. Ek weet nie. Dalk is dit maar na Abjater wat so lag dat ek ʼn behoefte gehad het om weer Gert Vlok Nel te lees.
Gepraat van geloof, hoop, liefde en Gert Vlok Nel. Daar is natuurlik Raymond Carver se gedig “Hope”. Sjoe! Dalk kan ʼn mens dit ʼn haatgedig noem. Heel aan die einde van sy lewe kon hy darem skryf:
And did you get what
you wanted from this life, even so?
I did.
And what did you want?
To call myself beloved, to feel myself
beloved on the earth.
Ek weet die idee is vir ons om oor een gedig te skryf. Ek kan nie kies nie. Daar is te veel en elke week voel ek anders daaroor. Dalk moet ek maar afsluit met Leonard Cohen, die digter-musikant wat skynbaar nog nooit Die Liefde kon vind nie, maar op so ʼn onthutsende manier oor liefde en woorde kan skryf:
I heard of a man
who says words so beautifully
that if he only speaks their name
women give themselves to him.
If I am dumb beside your body
while silence blossoms like tumours on our lips
it is because I hear a man climb the stairs
and clear his throat outside our door.
Van een ding is ek seker: Daardie man op die trap is nie ek nie.