Evette Weyers. Op reis deur visuele en woord landskappe
Blogfokus
Evette Weyers
Hierdie blog wat beide visuele en woordbeelde aanspreek, is tergend interessant. Ek is gulsig en wil eers oor ‘n boek en daarna oor ‘n bepaalde gedig praat as van my gunsteling visuele digbeelde. Maar eerstens iets oor beelde.
Die krag van visuele beeld en woordbeeld is onteenseglik. Dink aan die twee foto’s wat die publieke opinie in die VSA oorgekantel het téén die Viëtnamoorlog en die hele wapenindustrie se masjinerie tot stilstand gebring het. Die een was van ʼn Viëtnamese teregstelling op straat, die ander van ʼn dogtertjie wat straat langs hardloop en haar brandende klere afskeur na ‘n napalmbom.
Tydens die vloede In Mosambiek het ‘n swanger vrou vier dae in ‘n boom gesit en oplaas geboorte gegee aan ‘n dogtertjie, Rosetta. Binne een uur het ‘n reuse voël (helikopter) haar raakgesien en opgepik – ‘n kameraman in die helikopter het dit vasgevang. Weens die beeldsending hiervan het aandag van heinde en verre gefokus op Rosetta en op Mosambiek.. Vanuit die VSA het geldhulp die land binne gestroom. ‘n Groep Zoeloe mans het ʼn liedjie geskryf vir Rosetta en ek het vyf verskillende beelde gemaak oor hierdie insident wat die kreatiewe drif van Afrika op amper argetipiese wyse blootgelê het. Ongeag katastrofes gaan kreatiwiteit hier voort, al is dit soms net op die oorlewingsvlak.
Die krag van woordbeelde is legio. Saartjie Baartman het huis toe gekom op die rug van ‘n gedig geskryf deur Diana Ferrus. Dit het die betrokke wette in Frankryk verander.
In Breyten se boek, Plakboek, verdig en verbeeld hy met woorde en visuele beelde sy reis saam met Yolande deur Frankryk na Rome toe. Hierdie handgeskrewe boek het hy vir Yolande gemaak. Die visuele en woordbeelde vleg organies deur mekaar soos die klanke en woorde van ‘n lied. Dis ook ‘n reis deur emosionele landskappe. Daar is ego’s van kopreise wat soos byskrifte uit ‘n ander taal registreer. Hoe intiem is gedigte nie. Yolande kon die visuele beelde lees, maar nie die woorde of byskrifte nie. Ironies.
jy het ‘n lyf soos ‘n duif in sy vere bly
terwyl jy vatplek aan die verbeelding probeer kry
(al is dit slegs om die illusie te bevredig)
en die trein in ‘n klein halte bly staan
Saterdagmore: uit ‘n warm huis tree ‘n man
so rooigewang en so swart geklee
dat hy seker op pad na ‘n begrafnis toe is
twee honde karnuffel mekaar sorgeloos
snuffelende jagpyle na waar gepluimde drome mag val,
gidse na ‘n onderwêreld
later sien jy dat die heuwels groen
maar kaalgepluk is
en die see bevlek is met fabrieke en sentrales
se afvoer
jy het 'n lyf soos 'n duif
Die intimiteit van ‘n gedig , is reeds oor jy jou eie visuele beeld skep. Dit word nie deur Breyten se tekeninge oorrompel nie. Breyten verplaas nie jou eie skepping nie. Dis ‘n driebeen saam-dans. Vir my is die saamloop van skilderye of tekeninge en gedigte diep bevredigend. Jy tower steeds jou eie subteks op, in woorde of beelde. Interessant is dit dat Breyten hierdie reis vroeg in 1975 onderneem het en later dieselfde jaar in SA gearresteer was. Dis ook nou deel van die subteks. Hierdie bundel is eers in 1994 deur HOND uitgegee. My vriendin, Francis Galloway, wat betrokke was by die reis van handgeskrewe dokument tot publikasie, het my hiervan vertel.
Later het Breyten sy doekboeke geskep: Meesterlik! Nog ‘n dimensie wat hy oorskry bloot met die skaal, die fisieke grootte. Jare gelede toe ek vir nege dae deur die Kuiseb Canyon in die Namib woestyn gestap het met net kos en slaapsak op my rug, het ek besef hoe jy jou eie lyf as maatstaf gebruik om die afstand of grootte van iets te bepaal in die grenslose wildernis om jou. Gedigte lei jou in konseptuele ruimte in, deur die verskuiwende landskappe van jou eie verbeelding. Sulke groot doeke eis egter fisieke ruimte op, hulle hang letterlik van die dak af en lyflik weet jy van hulle selfs nog voor jy die beelde sien of die woorde eien. Steeds bly die grootste betowering van ‘n gedig dat dit so evokatief is.
eers kom die wind
die voël die vis die boom
die kind (die wind)
en ‘n begin van woorde
wat kleuterkleure aan geheue bind
met ‘n lint van klanke
die sterwe kom uit die lyf
soos getye tyd gestoot
deur ‘n larwe lewe van sterre en sinne
gestring aan wat om die oog
se einders knetter en brand
die verstrengelde voël, die vaste vis,
die ketter, die kindse kind
die asem weemoed
die hand ‘n blinde hond
snoep-snoet teen die bederfenis
van soet wind
Een van my vriendinne aan wie ek die gedig gestuur het wou by my weet wat Breyten nou eintlik sê want sy kan nie die kloutjie by die oor kry nie. Ek het terug geskryf:
Breyten is meer soos ‘n rukwind wat deur die vergete boorde van jou verbeelding waai, deur jou oerwoude en landerye, deur jou huis en haard. Die betekenis vir my is alles wat hy losgeruk het , oopgekloof het en al die klokke wat hy laat beier het. Dit is reeds die persoonlike intimiteit van ‘n gedig . Om dan gevra te word om logies betekenis te skep uit al die paadjies wat oopgegaan het, vrugte wat los gewaai het , soms dakplate wat afgewaai het en die ego’s van assosiasie, wat wyer en wyer uitkring deur jou lewe, is ‘n heel ander reis. Wat ook sy eie openbaringe bied.
Die gedig begin as asem,wind, lewe en gaan oor na die sterwe as uitstoot, uitval uit verval; (verstrengelde voël, kindse kind) . Die twee getye van lewe en sterwe. ‘n Vriend wat in die Angola-oorlog was, het my vertel hoe die dood eers soos ʼn katjiepiering ruik. Breyten se “die bederfenis van soet wind” ruik dus vir my na katjiepiering. Met linte van sterre en sinne string hy die heelal se ontstaan aan lewenssiklusse van larwe tot mens, van sein, bewussyn tot kwyn en verdwyn.
Breyten is so aansteeklik kreatief. In antwoord op hierdie Lappaseit-doekboeke het kunstenaars hulle sluise oopgetrek en hulle riviere laat vloei. Die kunswerke en musiek was pragtig en ‘n bulderende verering van een van ons grootste digter-skilders. Eugénie Grobler en Pedro Kruger het die gedigte getoonset en dit ingebrand op ‘n CD. Party van ons het beeldgemaak oor die gedigte. Die toneelstuk Wemeltong was geskep en die doekboeke was fisies in die opvoering gebruik. Sandra Prinsloo en Andrew Buckland speel o.a. daarin met Ilse van Hemert as regisseuse. Breyten se gedigte en die doekboeke het ons almal net so geraak soos Rosetta se geboorte en die Mai Lai dogtertjie met brandende klere se nood, en nog meer. In hierdie geval was ons verruk, vreugdevol verruk. Ons moes iets skep om in balans te bly met soveel kreatiewe uitmuntendheid, iets skep om ons te anker aan die aarde anders sou ons wegwaai met die volgende orkaan van ʼn gedig.