Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 February 201020 December 2012

Verantwoording. Nuwe Stemme 4

Ronel de Goede (Foster) en Danie Marais is die samestellers van die bundel

Nuwe Stemme 4.

 

Ronel Foster
Ronel Foster

Ronel de Goede (Foster) debuteer in 1993 met die digbundel Skoop. ‘n Woord-verwerkingspeletjie vir die beginner. Hierdie bundel is genomineer vir die CNA Literêre Prys en bekroon met die Eugène Marais-prys vir debuutwerk. Sy was die inisieerder en medesamesteller (saam met haar kollega Louise Viljoen) van die antologie Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1997). Ronel de Goede is hooforganiseerder van die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch se Skrywerswerkswinkels, wat gereeld slypskole vir aspirantskrywers reël. In 2007 tree sy in Kaapstad en Pretoria op as aanbieder van die DigBy-slypskole van Tafelberg-Uitgewers. Sy was ook stigterslid van die Woord­feeskomitee en medewerker by die elektroniese tydskrif LitNet (PoësieNet).

 

 

 

 

Danie Marais
Danie Marais

Danie Marais het vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en UJ-debuut-pryse ontvang. Van sy gedigte is opgeneem in die volgende bloemlesings: Honderd jaar later (saamgestel deur Johann Lodewyk Marais), My ousie is ‘n blom (saamgestel deur Charl-Pierre Naudé) en Versindaba 2006 (saamgestel deur Marlise Joubert). Hy is in 2005 vir die DaimlerChrysler-prys vir poësie genomineer. In 2007 is hy uitgenooi na Poetry International in Rotterdam en is van sy gedigte daar opgeneem in die fees se bloemlesing, Hotel Parnussus: Poezie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban. Marais is tans assistent-redakteur vir Boeke-Rapport.

 

 

Verantwoording

Die Britse digter Philip Larkin het selde stellings oor die poësie of sy eie skryfwerk gemaak. In D.J. Enright se bloemlesing Poets of the 50’s verklaar hy egter dat dit fataal is om intellektueel te besluit wat goeie poësie is, want dan voel jy eervol verplig om só te probeer skryf, in plaas van die gedigte wat slegs jy kan skryf.

Larkin se woorde impliseer elke digter verkeer in ‘n eie intieme spanningsverhouding met die tradisie, heersende voorkeure en stylmodes. Die eie stem word gevorm deur ‘n vermenging van die idiosinkratiese en eiesinnig persoonlike met dit wat opgeneem en verwerp word uit ‘n veld van invloede – in die besonder die oordele van mentors en die werk van ander digters.

Vir die samestellers van ‘n bloemlesing soos Nuwe stemme 4, wat met ‘n afrondingsproses in slypskole gepaardgaan, het Larkin se stelling interessante implikasies. Indien jy geïnteresseerd is in dit wat net ‘n spesifieke ongepubliseerde digter kan skep, mag jy nie vashou aan rigiede, vooropgestelde idees oor die poësie nie. Anders gaan jy elke bydraer by die slypskool in dieselfde rigting stuur en bloot gedigte opneem wat jou eie idee van goeie poësie weerspieël. En dit sou veral noodlottig wees in ‘n tyd waar stilistiese en tematiese verskeidenheid een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie is.

‘n Mens sit dus met die ou probleem van smaak. ‘n Fokus op vernuwing (of op oorspronklikheid) is ook nie ‘n oplossing nie. Word vernuwing alleen binne die Afrikaanse poësie of in die konteks van die wêreldletterkunde gemeet? Lê die klem op styl of tema? En hoeveel ware vernuwing kan daar wees as die geskiedenis ons leer dat kulture eeue lank al pendel tussen enersyds konserwatiewe, tradisionele en andersyds eksperimentele, anti-tradisionele uiterstes? Is ‘n klem op vernuwing nie maar net die geloof aan ‘n literêre ekwivalent van die problematiese idee van vooruitgang nie – ‘n voorstelling wat impliseer dat die chaotiese mensdom koersvas op pad is na een of ander voorafbestemde beter plek?

Om reg te laat geskied aan ‘n groep digters wat ‘n verskeidenheid geldige voorstellings bied van wat goeie poësie kan wees, vra ‘n beeld van die tradisie as ‘n rivier-delta en nie ‘n enkele stroom nie. Dit vra ‘n beskrywende woordeskat wat verskillende strominge identifiseer en tipeer sonder om die onderskeie soorte poësie hiëragies te orden en absolute waarde-oordele te vel.

Beteken dit dat alles kan en mag? Beslis nie. Gelukkig heers daar steeds, soos enige poësie-leser weet, breë konsensus oor wat nie goeie poësie is nie.

Vir Nuwe stemme 4 is sowat 250 insendings van sewe gedigte elk van reg oor die wêreld ontvang. Die gehalte van die meeste hiervan was benede peil. Ongemotiveerde eindrym, retoriese taalgebruik, stilistiese onbeholpenhede, afgesaagde beelde, ongetemperde sentimentaliteit, registerverwarrings en nawelstaardery ontsier die grootste gros van die ingestuurde gedigte en dien as verklaptekens van ʼn gebrek aan lees- en skryfervaring. Om in te skryf vir ‘n bloemlesing soos dié sonder om vertroud te wees met die stand van die eietydse digkuns, is om te glo jy kan sinvol bydra tot ‘n gesprek wat jy hoegenaamd nie gevolg het nie.

ʼn Groep van sowat 40 kandidate se gedigte het wel moontlikhede getoon – die finale lys van 22 gekeurdes kon net sowel anders daar uitgesien het. Die snoeiskêr is gebruik en die swakste gedigte van elkeen is geëlimineer, met ʼn versoek om nuwe verse in te stuur. Slypskole is in Kaapstad en Johannesburg aangebied, terwyl diegene wat nie teenwoordig kon wees nie, per e-pos van raad bedien is. Ná ʼn gewik en ʼn geweeg is 95 gedigte gekies.

ʼn Voorstel dat Nuwe stemme 4 ʼn tematiese indeling moet hê, eerder as per digter, het mettertyd na ʼn sinvolle opsie gelyk. Vandaar die indeling in drie afdelings.

Die eerste afdeling, “Hier en daar”, bevat gedigte oor verskillende ruimtes, plekke en landskappe in sowel Suid-Afrika as die buiteland. Die interaksie tussen mens en omgewing en die wyse waarop menslike identiteite deur dorpe, stede en die natuur beïnvloed word, staan hier sentraal.

In die tweede afdeling, “Toe en nou”, is herinnerings- en boekstawingspoësie byeengebring wat strek van die Steentydperk tot by Facebook-verslawing. Die geskiedenisse van individue, groepe en gemeenskappe kom onder die loep en van hierdie gedigte het ook ʼn sterk politieke lading.

Die slotafdeling, “Oral en altyd”, bevat gedigte met ʼn universele of metapoëtiese strekking. Temas soos liefde, dood, kreatiwiteit en religie (of die gebrek daaraan) kom hier aan bod.

Hoewel van die gedigte ook in ander afdelings sou kon figureer, het die finale indeling tog interessante gesprekke tussen digters, gedigte en betekenismoontlikhede bewerkstellig.

Agterin die bundel is toeligting en woordverklarings. Nadere inligting oor die digters is beskikbaar op LitNet (http://www.litnet.co.za), waar onderhoude met hulle verskyn. Die samestellers bedank Riana Barnard, Francois Smith, Madaleine du Plessis en Jana Luther vir hul waardevolle insette en hulp.

Vir hierdie 22 digters lê daar opwindende moontlikhede voor, maar moontlikhede wat toewyding en deursettingsvermoë vereis. Digters wat hul sout werd is, moet immers, soos Raymond Carver sê, die wêreld volgens hul eie spesifikasies herskep. Ons hoop dat dié “nuwe stemme” ook nuwe wêrelde binne die bereik van poësielesers sal stel.

 

Ronel de Goede en Danie Marais

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Nuwe stemme word bekend gemaak
Nuwe Stemme 4 →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d