Twintig digters wat in Nuwe Stemme 4 opgeneem is, gee terugvoer op vrae deur Louis Esterhuizen
Deelnemende digters (in alfabetiese volgorde):
Fourie Botha, Lewies Botha, Corné Coetzee, Jan A.F. du Plessis, Sydda Essop, Francilié Hoek,
Pieter Hugo, Willem Jansen, Annie Klopper, Jannie Malan, Hennie Meyer, Heidi Papadopoulus-Pienaar,
Bibi Slippers, Adél Steyn, Lou-Ann Stone, Marius Swart, André Trantraal, Karlien van der Merwe,
Niel van Deventer en Lize Viljoen.
Fourie Botha

Ek het op die Hoëveld en in die Marico-Bosveld grootgeword, en in Pretoria gaan studeer. Daar het ek vir ‘n opvoedkundige uitgewer begin werk. ‘n Paar jaar gelede het ek Kaap toe gekom. Op die oomblik is ek ‘n redakteur by ‘n uitgewershuis en werk ek meestal met Engelse fiksie. Ek bly in Woodstock.
Ek kan onthou dat ek in standerd twee ‘n gedig in paarrym oor ‘n rivier en die Anglo-Boereoorlog geskryf het waarvan my juffrou gehou het. Ek het nog altyd graag gedigte gelees en ek dink jy probeer jouself uitdruk in ‘n medium wat jy die beste ken. Waarom ek myself wil uitdruk, weet ek nie.
‘n Paar vroeë gedigte is op universiteit in Vlieg opgeneem, maar Nuwe Stemme is die eerste boek waarin my verse opgeneem is. Om in Nuwe Stemme te wees, is goeie aanmoediging.
Die Afrikaanse digkuns tans is ‘n ding met baie koppe en daar gaan eintlik verbasend baie aan vir ‘n genré wat so min rakruimte in die gewone boekwinkel opneem. Met Nuwe Stemme was dit ook vir my interessant om te sien hoe baie jonger mense so ‘n ou kunsvorm beoefen.
Persoonlik voel ek dat daar baie gedigte is wat volmaak of ‘reg’ is, al is hulle “klein” gedigte. Nie alle gedigte kan of hoef groots te wees nie. Maar dan is daar die grotes, soos William Blake se “The Tyger”, wat so perfek is dat jy dit op jou wil laat tatoëer.
The Tyger
Tyger! Tyger! burning bright
In the forests of the night,
What immortal hand or eye
Could frame thy fearful symmetry?
In what distant deeps or skies
Burnt the fire of thine eyes?
On what wings dare he aspire?
What the hand dare sieze the fire?
And what shoulder, & what art.
Could twist the sinews of thy heart?
And when thy heart began to beat,
What dread hand? & what dread feet?
What the hammer? what the chain?
In what furnace was thy brain?
What the anvil? what dread grasp
Dare its deadly terrors clasp?
When the stars threw down their spears,
And watered heaven with their tears,
Did he smile his work to see?
Did he who made the Lamb make thee?
Tyger! Tyger! burning bright
In the forests of the night,
What immortal hand or eye
Dare frame thy fearful symmetry?
© William Blake (uit: Songs Of Experience, 1794)
***
Lewies Botha

Ek het in die Vaaldriehoek, Sasolburg, groot geword en daar gematrikuleer in 1983. Ek het ‘n B.Com-graad by Universiteit van Pretoria verwerf en kon later registreer as Owerheidsouditeur. Ek is in die ouditeursberoep en is ook deeltyds betrokke by my vrou se besigheid. Ek het in Pretoria, Durban en Umthatha gewoon en gewerk voordat ek nou Oos London my tuiste gemaak het. Ek en my vrou, Karen is nou sewe jaar saam, ons is lief vir die lewe by die see en stap gereeld op die strand. My wortels lê egter diep in die familieplaas in die Oos-Vrystaat waarheen ek so dikwels moontlik gaan. Ek dig nie net nie, maar is ook besig met vele onklaar verhale en stories.
Die skeppingsdrang was maar so lank as wat ek kan onthou daar, ek het met boeke groot geword en vroeg as kind al baie gevorderd gelees. Hoe het die passie vir poësie ontstaan? Ek kan eintlik nie my vinger daarop sit nie, dit was maar altyd deel van my aard. Ek was nog altyd binne in my siel oortuig en het dit vanselfsprekend aanvaar dat ek eendag poësie sou publiseer. As tiener was ek ‘n groot Breyten Breytenbach-aanhanger, aanvanklik het sy lewenstorie my aangetrek. Breyten se Ysterkoei-bundel het gedigte skryf vir my “cool” gemaak. As ek moet sê (waar het dit ontstaan) dan was dit hierdie ontmoeting. Ek het net van toe af geweet. DJ Opperman se Bamboesstok-bundel was nog so ‘n oomblik, so ook die lees van Wally Serote se gedig wat Brink aanhaal in sy roman; “‘n Droë wit seisoen“. ‘n Verdere invloed was pop en rock-musiek; The Police, Queen, Pink Floyd selfs Anton Goosen. Toe Annesu de Vos debuteer wou ek opsluit self ook publiseer. Ek het nagte deur op ‘n ou klein tikmasjientjie gesit en tik, toetse geslaan tik tik tik, met tiklinte en sulke dun tikpapier en deurslag papier gesukkel. Ek was seker so 17 jaar oud toe ek my eerste manuskrip na Human en Rousseau toe gepos het, genadiglik het hulle dit afgekeur. Na my universiteits- en dienspligjare (1988-89) het ek half my rug gekeer op die hele Afrikaanse letterkunde en Afrikanerding , ek was half ontnugter ( dalk half met myself ook) In elk geval, ek het baie bewustelik ‘n belofte gemaak dat ek eers sal probeer publiseer as ek die dag veertig word. Jy moet verstaan dat die skeppingsdrang ‘n ontsettende intense energie, tyd en harde werk vereis en jou tot waansin kan dryf. Ek was besig om mal te word en kon net nie tevredenheid met my skryfwerk kry nie. Ek het ook besef dat ek nie met ‘n ryp eerlikheid en geloofwaardigheid kan dig voordat ek nie eers self bietjie die lewe ervaar het nie … Hierdeur het ek ook (die belofte) myself soort van onthef van die verpligting om skeppend te wees en ek kon met volle aandag aangaan met my ouditeursloopbaan. Ek het weer so in 2004 rond begin skryf, aanvanklik aan idees vir romans en kortverhale. Ek het blogs op die internet geskryf en gedigte begin plaas wat ek maar vingeroefeninge genoem het. Die terugvoer was nogal positief. Van my stories het soms, nadat ek dit tot die been geredigeer het, net enkele reëls oorgebly wat die struktuur van gedigte begin aanneem het. Ek het gevind dat poësie die genré is wat my omstandighede die beste pas (naweekskrywer). Intussen het ek ‘n intense liefde vir die poësie ontwikkel. Ek beskou myself as ‘n relatiewe jong digter en elke dag slyp ek nog aan my tegniese vaardigheid.
Ek is baie opgewonde om in NS4 opgeneem te wees; ek voel baie geëerd en natuurlik dankbaar. Dit is beslis die aansporing en die klop op die skouer wat my daardie selfvertroue gee wat nodig is om voort te gaan en nie op te gee nie. Ek hoop die blootstelling is die voet in die deur en baan die weg vir ‘n eie selfstandige debuutbundel. Ek dink al die Stemme-digters word dopgehou om te sien wat verder met hulle gebeur. Die vorige Stemme het bewys dat die projek van Tafelberg ‘n baie waardevolle rol speel om digters aan te spoor en bekend te stel. Loftus Marais is ‘n baie goeie voorbeeld van ‘n digter uit Stemme 3 wat ‘n baie suksesvolle debuutbundel gelewer het. Van my gedigte was voorheen opgeneem in Poort, ‘n publikasie van die Akademie vir Wetenskap en Kuns wat ‘n keur van hoërskoolleerlinge se werk was. Die een gedig dink ek het die tyd deurstaan, maar die ander is dalk ‘n goeie voorbeeld hoekom ‘n digter (in my geval in elk geval ) nie vroeg moet publiseer nie.
Hoe voel ek oor die Afrikaanse digkuns tans? Ek voel soms dit sal lekker wees as die Afrikaanse digkuns ‘n lekker oplewing kan beleef. Die voorgrond te kan betree met ‘n paar opwindende nuwe bundels of digters wat sommer ‘n klomp nuwe lesers aan die Afrikaanse digkuns sal blootstel. Ek vermoed uit die Stemme 4 is daar minstens een so digter/res met so ‘n sterk en relevante stem. Ons eersterangse digters, Breytenbach en Krog, Cloete en Hambidge en dies meer is wêreldklas.
My eie gedigte ontstaan omtrent vanself, hulle kry hulle eie lewe asof ek slegs die tussenganger is wat die gedigte gestalte gee. Ek maak baie staat op die krag van my onderbewuste en die tye wanneer die brein in sy droom stadium is. Daarna begin die harde werk, baie harde werk. Ek het amper ‘n kompulsiewe drang om te skaaf en te skaaf en verse word oor en oor geskryf, oor en oor gebore. My gedigte is nooit klaar nie. Ek moet gedwing word om hulle uit te los. Ek skat so 10 gedigte bly oor uit elke 100, elke geslaagde gedig stap maande saam met my. Ek glo aan ‘n streng suiwerings- en distileringsproses. Ek voel dit is my plig teenoor die leser , die gedig en die poësie, dat ek deurdag en met moeite die volmaaktheid soek. Amper intuïtief weet ek of ‘n gedig van my, nou werk… die volmaaktheid is ek jammer om te sê, ontwyk my tot dusver. My “amper volmaakte vers” sou huppel sonder om te struikel en hy verras met iets vars en tref ook met ‘n vuishou in die maag. WB Yeats se gedig the lake isle of innisfree (wat ek hier vir Afrikaans gesteel het) was altyd na aan my hart, ek laat dit aan u lesers oor om te oordeel of die of die oorspronklike naby aan die volmaaktheid kom en of ek geslaag het met my intuitiewe woordkeuses;
Skulpspruit innie Vrystaat
Ek sal maar aanstaltes maak en gaan, gaan na die plaas innie Vrystaat
en daar vir my ‘n klein hartbeeshuisie bou met misvloer en populier
nege rye boontjies sal ek laat rank (organies) en ‘n hok vir die ganse hê
en ek sal alleen daar bly met net die ritsel van die rooigrasgeluid.
En ek sal rustig word daar en die sielevrede vind wat stadig neerdaal,
soos doudruppels pêrel oor jou aangesig in die smorensmis
en die nanag se glinstersterre en die maanlig purpergloed
en die vroeë skemer kalmte by die kuil, net naaldekokervlerke ghirts
en die geelvis rimpels maak.
Ek sal maar aanstaltes maak en gaan, want elke dag en nag
hoor ek die spruitstroompies kabbel oor die klippe,
hier waar ek staan langs die teerstrate en die betongrys
hoor ek dit hier in my hart se diepste binneste druis
Met apologie aan (The lake isle of Innisfree, WB Yeats)
***
Corné Coetzee
Ek is ‘n gedienstige taalsub by Beeld en Rapport, waar ek bly is dat ek werk het en salaris kry, maar ek verlang terug na my vryskut-skryf-dae by tydskrifte. My lekkerste werk was as fliek- en teaterresensent. Ek kry wel soms kans om vir Beeld iets te resenseer. En nou het ek baie meer respek vir en deernis en geduld met dramaturge en akteurs. Ek is getroud met Hans en ons het twee wonderskone dogters.
Vandat ek kan onthou, steek daar soms ‘n woord of ‘n frase in my kop vas en lê daar rond vir ‘n paar dae. Soos wat jy ‘n spoelklip in jou hand sal rondrol. As ek gelukkig is, kom daar iets van. Poësie het my eers op universiteit begin bekoor: dit was deels G.M. Hopkins se digte, (vir my) moeilike sonette, deels die Nederlanders soos Gorter en Kloos (o, die ondraaglike verlange in die hart van ‘n 18-jarige) en deels Karel Schoeman se vertalings Uit die Iers.
Enkele van my gedigte is in tydskrifte soos Karapaks, New Contrast en My ousie is ‘n blom opgeneem. Sommige digters wat in die Nuwe Stemme-reeks edebuteer het, het bekende digters geword. Ons sal sien wat met NS4 se digters gebeur.
Ek lees nie alles nie, maar sommige van die werk wat ek wel sien, is fantasties en opwindend. Soos Loftus Marais, Jeanne Goosen, Fanie Olivier, Hans Pienaar, Johan Myburg en Charl-Pierre Naudé. Dit sou gaaf wees as poësie meer gereeld meer aandag en ondersteuning kon kry. Soos byvoorbeeld Ruth Padel se “The Sunday Poem” wat ‘n paar jaar gelede gereeld in die London Sunday Independent verskyn het. Of gereelde voorlesings in die kerksaal. Of in mense se sitkamers.
Vir my is ‘n Sheila Cussons se “Christ of the burnt men” ‘n bykans perfekte vers.
Christ of the Burnt Men
Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en voet en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van ‘n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –
– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: grýp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.
© Sheila Cussons
***
Jan A.F. du Plessis

Jan A.F. du Plessis is ‘n 47-jarige losloper boeksmous (Boekerij by hAp – huis vir Afrikaanse poësie – in Capital Park, Pretoria). Hy het aan Tukkies studeer (fisika, wiskunde, tale, sielkunde en filosofie). Ook bekend as DJ Kamikaze wat jare lank by al die groot raves die chill room behartig het. Maak elektroniese musiek onder die name Bliss Abyss en Oto Kagami (Japannees vir klankspieël). Aan fliek verslaaf en dol oor reis (17 keer Londen en die hele Europa plat). Fanatiese versamelaar (oor die 16 meter se Afrikaanse digbundels en kan die 100 meter hardloop op sy meer as 300 voet se langspeelplate en meer boeke as wat mens in 3 leeftye sonder slaap sal kan lees).
Was sedert 1999 by oor die 100 Bekgeveg Poetry-slams betrokke (as klankman en DJ). Hy skryf gedigte omdat dit die kunsvorm is wat die meeste met die minste vermag en hou baie van vertaling (veral iets uitdagends soos Dylan Thomas). Wil graag die eerste digter word om op die maan voor te lees (ha-ha).
Ek was van kleins af gefassineer deur woorde en hulle mag om realiteit letterlik te skep en verander. Was altyd gespot: jy’s seker in ‘n biblioteek gebore. Dan het sekere onderwysers en lektore ook gelukkig op die regte tye en plekke my pad gekruis (dankie veral miss Mouton en Prof Stephen Finn). Het hoofsaaklik in Engels gedig na skool, maar op ‘n stadium (in ‘n ysige Londen) weer die vars, jong en vernuwende loslit plastisiteit van Afrikaans herontdek en daarin begin dig. Die voorlees-aande by Up the Creek en die Inklings diggroep op Tuks was ook baie inspirend. Dan, natuurlik, om met digters van die kaliber van Henning Pieterse, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert en nog vele ander by die Bekgeveg Poetry-slams betrokke te wees was om werklik te sien hoe eet, slaap en leef ‘n mens digkuns.
Nuwe Stemme 4 is inderdaad my eerste mpublikasie, naas die paar gedigte in Inklings en ‘n stukkie poesie concrete in die eerste uitgawe van POMP-tydskrif.
Na my mening is die stand van Afrikaanse digkuns redelik kerngesond, al word algemeen aanvaar dat daar veels te min digbundels publiseer word (almal weet van die baie klein nis-mark – vra my, ‘n boekhandelaar – en nou boonop nog die afwaartse ekonomiese neiging). Vir my bly digkuns die lewensbloed en kroonjuwele van ‘n taal en moet dit gekoester word. Dis die kanarie in die mynskag en barometer en EKG-masjien van ‘n taal se welstand en vooruitsigte op voortbestaan.
‘n Gedig soos diė volgende een van Dannie Abse druk al my knoppies:
Elegy for Dylan Thomas
All down the valleys they are talking,
and in the community of the smoke-laden town.
Tomorrow, through bird-trailed skies, across labouring waves,
wrong-again Emily will come to the dandelion yard
and, with rum tourists, inspect his grave.
Death was his voluntary marriage,
and his poor silence sold to that rich and famous bride.
Beleaguered in that essential kiss he rode
the whiskey-meadows of her breath till, mortal, voiceless,
he gave up his nailed ghost and he died.
No more to celebrate
his disinherited innocence or your half-buried heart
drunk as a butterfly, or sober as black.
Now, one second from earth, not even for the sake
of love can his true energy come back.
So, cease your talking.
Too familiar you blaspheme his name and collected legends:
some tears fall soundlessly and aren’t the same
as those that drop with obituary explosions.
Suddenly, others who sing seem older and lame.
But far from the blind country op prose,
wherever his burst voice goes about you or through you,
look up in surprise, in a hurt public house
or in a rain-blown street, and see how
no fat ghost but a quotation cries.
Stranger, he is laid to rest
not in the nightingale dark nor in the canary light.
At the dear last, the yolk broke in his head,
blood of his soul’s egg in a splash of bright
voices and now he is dead.
December, 1953
© Dannie Abse
***
Sydda Essop

Gebore In Beaufort-Wes, skoolgegaan en toe Universiteit Kaapstad toe om in die kunste te gaan studeer. In die tagtiger jare, te Kaapstad betrokke met die “Wynberg Crisis”-organisasie , gedurende die stryd ,om bystand te lewer aan ouers en kinders wat betrokke was met “Public Violence”. Was ook betrokke met “Vakalisa” die eerste Multi-kulturele organisasie in die Kaap. Raak betrokke in familie besigheid en raak toe voltyds gemeenskap aktivis in die Groot -Karoo en is ook betrokke by die Beaufort- Wes Museum beter bekend as die Chris Barnard-museum.
Ek het seker maar in die standerd nege (graad 11) wiskunde eksamen klas begin om gedigte te skryf. Toe kla ek maar op papier oor my sorge! Ja, natuurlik ook die feit dat ek “in die apartheidsjare ” groot geword het. Dit het my baie gepla- in my stilte maar geskryf.of dit nou gedigte was weet ek nie!
Gedurende 1989 het van my gedigte ook verskyn in ‘n digbundel “ I Qabane Labantu“, onder die redaksie van Ampie Coetzee en Hein Willemse; Poesie in die noodtoestand.
Dis wonderlik en bemagtigend om deel te wees van Nuwe Stemme 4. Die erkenning is wonderlik maar ek besef ook en is altyd bewus van die feit dat jou reis deur die lewe gesaai is met ‘beskerm-engele” wat saam met jou die pad stap en vir my is dit in die vorm van my mentor: Ronel de Goede (Foster) en die gemeenskap oor wie ek skryf.
Die gedigte van Louis Leipoldt ,Elisabeth Eybers, Adam Small het baie na aan my hart kom lê – Diana Ferrus en Gert Vlok Nel. (Ek verstaan van wat hulle praat, dit maak sin) . Ek is ook baie lief vir die digters en skrywers van Noord-Afrika, Midde-Ooste en Indië. Maar die Afrikaanse digkuns soos dit tans nou daaruit uitsien? Ek weet nie….
Sjoe, ‘n “volmaakte vers”?… vir my, as ek mag…. Ronel de Goede se gedig “Habie en Piesie” uit “Skoop”:
Habie en Piesie
Habie en Piesie het saam gelewe
Waar die Papegaaiberg pryk
En die dun naalde in die naglug swewe
As die wind die denne stryk.
Habie en Piesie het saam geswerwe
Waar die druiwe-dinkgoed bloei
En die sagte grafiet, deur die silikon verderwe
In die pm-tyd, nog groei.
Habie en Piesie het saam gesanik
In die aand teen die vollemaan:
Sluit ek my oë vannag, dan wens ek
Ek kan hulle taal verstaan.
Habie en Piesie het saam gesterwe
Waar die denneland hom nog strek.
Daar’s niks as die speletjie om oor te erwe,
En niks om daaruit te trek.
© Ronel de Goede
***
Francilié Hoek

Kind gewees in Van den Heever se Hoëveld en blink-oog student in Koos Dup se jakarandastad. Die lewe in oordaad ontdek as bloedjong onderwyseressie in ‘n als-behalwe-grys London! Deesdae is ek sielkundige by ‘n remediërende skool aan die Wes-Rand. In my hart woel die passie om kinders te help om die tower in hul lewensstorie raak te kyk. In my kop reis ek steeds na anderland (vanaf 14 Nov 2009 aan die sy van my droomman!). In wese wil ek als met woorde mooier maak.
Miskien het my opgewondenheid oor poësie as Laerskoolkind ontstaan, met die ontdekking van Breyten se Ysterkoei-bundel in my pa se boekrak. Al kon ek nie ‘n enkele sin verstaan nie, het die woorde vir my ‘n magiese bekoring ingehou en het ek dit skelm onder my bed weggesteek en laatnag gelees as almal slaap. Of dalk by die “dramatiese” aanhaling van ‘n Krog gedig in Sonkring! Miskien voor al bogenoemde nog, met die andersheid van my naam.
Buiten gedigte in skooljaarblaaie, het ek van my gedigte verskyn in Vlieg (UP) en Inkvars van die BSV. Die opname van my gedigte in Nuwe Stemme 4, is egter die eerste regte-egtige boekpublikasie daarvan.
Vir my is Breyten se “Ek sal sterf en na my vader gaan” ‘n inspirerende vers.
Ek sal sterf en na my vader gaan
ek sal sterf en na my vader gaan
Wellington toe met lang bene
blink in die lig
waar die kamers swaar en donker is
waar sterre soos seemeeue sit op die nok
en engele vir wurms spit in die tuin,
ek sal sterf en met min bagasie
in die pad val
die Wellingtonse berge oor
tussen die bome en die skemer deur
en na my vader gaan;
die son sal in die aarde klop
die wind se branders laat die voeë kraak
ons hoor die huurders
skuurloop bo ons kop,
ons sal dambord speel op die agterstoep
– ouvader kul –
en oor die radio
luister na die nag se nuus
vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie;
ons kom en ons gaan
is soos die water uit die kraan so
soos klanke uit die mond
soos ons kom en ons gaan:
ons béne sal die vryheid kén –
kom saam
in my sterf in in my na my vader gaan
Wellington toe waar die engele
met wurms vet sterre uit die hemel hengel;
laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:
mý vader het ‘n groot bôrdienghuis
(c) Breyten Breytenbach
***
Pieter Hugo

Ek is ‘n pastoriekind, ‘n bibliotekaris en nou, uiteindelik, net-net, ‘n gepubliseerde digter. Overgesetsynde dus, leef ek weens, vir en van die geskrewe woord. Dit doen ek tans in Kaapstad, maar vorige adresse sluit in Beaufort-Wes, Bonnievale, Worcester, Malawi, Stellenbosch (student), Windhoek (kind) en Greyton (baba). Ek het grootgeword met my pa se onophoudelike woordspel en oudgeword met my broer, Daniel, se vernuftige poësie. Eersgenoemde het my op skool al geinspireer tot tienergediggies. Laasgenoemde het my vir baie jare eers geinhibeer, maar gelukkig later, met sy aanmoediging, geinspireer.
Nuwe Stemme 4 is my eerste aansienlike publikasie (nie van omvang nie, maar van aansien). Ek voel geëerd. En hoopvol. Maar veral verlig. Die ys is nou gebreek.
Myns insiens is ons Afrikaanse digkuns tans baie fikser en leniger as in die oorgewig 70’s en 80’s toe dit te maklik was om gepubliseer te word. Dis ook uiteindelik lekker losbek losgat loslit na die post-apartheid 90’s se siellose euforie en polities korrekte depressie. (O, dis darem lekker om sulke sweeping statements te maak. Ek kan nie wag om te sien hoe dit uitmekaargetrek gaan word nie!)
Die “volmaakte vers” moet volgens my so veel as moontlik sê in so min as moontlik woorde, sonder om dit wat eintlik gesê word, pront-uit te sê.
‘n Perfekte voorbeeld van so ‘n “volmaakte vers” is ‘n triolet in Drs. P se boekie, Ons Knutselhoekje, (p.11.)
Een trage, lauwe regen
Een troebel ochtenduur
Een vreugdeloze zegen
Een trage, lauwe regen
De mannen stonden tegen
De veelbesproken muur
Een trage, lauwe regen
Een troebel ochtenduur
© Drs. P.
***
Willem Jansen

Ek haal die kort skets aan uit my profiel op LitNet: Willem Jansen is ‘n 40-jarige professionele argitek wat hom onder andere ook besig hou met skryf en die teater. Sy “roots” is Noord-Kaaps, sy stam Oos-Kaaps, sy takke Wes-Kaaps en sy blare hopelik eendag orals. Twee van sy tekste is al opgevoer: Fuses & ander Connections (KKNK 1992) en Vrypas (KKNK 2005 en Grahamstad-fees 2006; benoem vir ‘n Kanna). Hy het al stelle ontwerp vir onder andere Liz Mills, Mark Fleishman en Heike Gehring. Hy woon tans in Boston, Bellville, met ‘n beautiful lover, twee honde (Blommie en Sausage) en ongeveer 34 visse. Hy is ontettend gelukkig dat hy die titel “Poet” uiteindelik agter sy naam kan plaas.
Ek kom van ‘n konserwatiewe dorpie af. Die meeste boeke wat ek sou wou lees was nie beskikbaar nie. Die wat ek mog lees het my verveel tot die dood toe oor dit hulle duisende blaaie gevat het om niks te sê nie. Ek het Lina Spies voorgelees in die Dopper kerk en ‘n doodse vrees gehad vir die antie in die biblioteek. My enigeste troos was ‘n reeks groen boeke vervuil met mitologie en wetenskap. Ek wens ek kan onthou waar ek dit in die hande gekry het, maar Sewe dae by die Silbersteins beland toe in my skoot en ‘n eerste lig switch aan. Toe lees ek Antjie se “Ma” en besef jy kan vyftig boeke opsom in twintig reëls. Nog ‘n lig. En toe laat Breyten sommer die son opkom. Die eerste keer wat ek self ‘n poem geskryf het (wat nie onder skoolmenere se dwang moes uit nie) was op universiteit. Ek was huilerig oor ‘n verlore liefde en kon geen ander manier kry om myself uit te druk nie: “vandag het ek jou nodig / net jou lippe / en ‘n blink in jou oë / en joú hande in my hare.” Poësie het my jare se kopdokter rekeninge gespaar…
Van my gedigte is saam met van my prosawerk opgevoer in ‘n produksie by die KKNK en die Grahamstown National Arts Festival as “Vrypas”, maar niks is nog gepubliseer nie (litnet uitgesluit). Nuwe Stemme 4 is dus ‘n eerste vir my. Ek het ‘n klomp van die Nuwe Stemmers van die Kaap persoonlik ontmoet en dink hulle almal (en hulle werk) is ongelooflik. Die res se werk het ek onder oë gehad en is net so impressed. By implikasie beteken dit dat my werk ook ten minste skaflik is. Dis ‘n uiters bevredigende warm gevoel in die borskas en ‘n vlinderstuipe in die maag.
Ek geniet die ding van “gedigte-maak” nou weer. Daar was ‘n rukkie wat dinge vir my of te slim of te “please tog net vir almal” was. Ek het ‘n voorliefde vir die subversiewe of “die ander” kant van kuns en skryfwerk. Die jong klomp (en ek sluit die rockers in) is besig om groot vernuwing te bring; en hulle is passievol daaroor! ‘n Nuwe heroiese periode. Dis baie exciting.
‘n “Volmaakte vers” het ek nie regtig in my kop nie. Sommige verse mag tegnies perfek wees, maar ontroer nie juis nie. Ander roer my weer, al is hulle tegnies maar so-so. Daar is vir my ongelooflike songs; Ne me Quitte Pas, La Chanson des Vieux Amants (beide Brel), gatskop poems; ek staan op ‘n moerse rots langs die see by Paternoster (Krog), Skisma (Goosen) en roerende stukke graffiti; “Sometimes I feel so sick at the state of the world I can’t even finish my second apple pie” (Banksy). O, skielik onthou ek een:
‘n Geel transvestiet op hakke
swalk telkens berekend verby
haar boude lil geil in haar sjoebroek,
maar kan sy ‘n straight man verlei?
© Hennie Aucamp
***
Annie Klopper

Ek het hoofsaaklik grootgeword op Merriespruit en Brackenfell – ‘n klein Vrystaatse myndorp en ‘n Kaapse voorstad, maar het ook al gewoon op onder meer Roodepoort, Riebeeckstad, Randfontein, Vredendal en Stellenbosch. My BA (Geesteswetenskappe) Honneurs en Meestersgraad in Afrikaanse Letterkunde behaal ek op Stellenbosch waarna ek na Kaapstad verhuis. Vandag is ek gevestig in Tamboerskloof van waar ek as redakteur werk vir Protea Boekhuis. Wanneer ek nie lees nie, skryf ek – meestal oor musiek. Op die oomblik is ek besig met die skryf van Fokofpolisiekar se biografie.
Ek kan nie onthou hoe dit gekom het dat ek begin dig het nie. Ek vermoed musiek en die Kleuterverseboek het ‘n groot rol gespeel. Ook tienerangs, myndorpe, voorstede en die Namakwaland.
NS4 is nie my eerste publikasies nie. Ek het gedebuteer in Versindaba 2008 en ook verse in Penseel (‘n bundel uitgegee deur die Universiteit van Stellenbosch) gepubliseer as student. ‘n Opname in Nuwe Stemme is vir enigiemand wat gedigte skryf sekerlik ‘n groot mylpaal. Dis veral lekker om toevallig saam met twee van my goeie vriende van wie se werk ek baie hou, opgeneem te word: Hunter Kennedy en Marius Swart.
Digkuns is iets waarvan die digter moet hou en as ander mense toevallig ook daarvan hou, is dit ‘n bonus. Ek hou nie daarvan as dit ‘n resies tot prestige raak nie. Ek háát dit as digters hulleself te ernstig opneem. Sulke gedrag maak my skaam om te sê ek skryf gedigte en belemmer die groei van die Afrikaanse poësie. Ek is opgewonde oor jong digters soos Loftus Marais, Marius Swart en Hunter Kennedy (sien: liriekskrywer-skuinsstreep-digter). Ek is ook besonder opgewonde oor die interessante Afrikaanse kletsrymtendens wat tans aan die opleef is. Daar is ‘n groei in Afrikaanse digkuns, dit kom net uit ander oorde as in die verlede – veral musiek.
As daar iets soos die volmaakte vers was, sou ek graag my kleim daarop wou afsteek, maar ek dink nie daar is so iets nie. Ek kan egter my gunstelingreël aanhaal. Dit kom uit ‘n Fokofpolisiekar-liedjie:
“daar is gif in jou kinders se kos / daar is tydbomme in gapings van opvoeding gelos”.
***
Jannie Malan

Ek is in die Kaap gebore, maar het in die destydse Transvaal skool gegaan. In die geesteswetenskappe studeer en toe in uitgewerswese gespesialiseer. Ek het oor die jare onder andere gewerk as uitgewer, boekverkoper en grafiese kunstenaar. Tans, werksaam as konsultant, help ek met die skep van innoverende e-opleiding en die implimenteer van kennisbestuurstelsels. Ek is getroud en het twee pragtige, engelse dogtertjies, vir wie ek Afrikaans probeer leer; en soveel ek kan lees, skryf, skilder en kook ek. Musiek is ook ‘n passie, veral alternative en indie en sogenaamde Americana.
Ek was bevoorreg genoeg om ‘n ma te hê wie ons as kinders aangemoedig het om te lees. Toe ek dus aan my emosies en gedagtes uiting wou begin gee was skryf die voorhandliggende medium. Ek het op laerskool reeds twee boekies geskryf (dink Fritz Deelman met dierekarakters!) wat ek aan my skoolmaats teen vyf sent uitgeleen het. Deur die turbulente tiener-jare het skryf ook aan my ‘n uitlaat gegee. Ek het maar net altyd met hierdie ‘ding’ binne my gesit om op ‘n manier my leefwêreld op papier verstaanbaar te maak en ook om aan ander te kan sê: “hey, staan stil, dink tog net ‘n bietjie… there’s more to it“. Dit was veral die uitdaging van die gedig se ekonomie van woordgebruik wat my aangegryp het… om met so min as moontlik, soveel moontlik te suggereer. En dan weer aan die ontvangkant, die leser se (baie maal verassende) ontsluiting van die gedig. Hierdie, byna alchemistiese proses, fassineer my.
Alhoewel ek voorheen enkele gedigte aanlyn en in klein, onafhanklike bloemlesings gepubliseer het, is Nuwe Stemme 4 inderdaad my eerste ligit publikasie. Dit is ‘n hengse voorreg om deel van hierdie groep te wees. Die proses om tot by publikasie te kom was van onskatbare waarde, en ek kan net ‘n reuse “dankie” sê vir die twee samestellers, Ronel en Danie en vir Riana, by Tafelberg uitgewers. Dit is eindelik ‘n tasbare bevestiging dat ek tog darem iets beet het met my skryfwerk. Tog ervaar ek ook dat hierdie voorreg gepaard gaan met persoonlike verpligting. Vertroue is in jou geplaas… nou is die onus op jou om te woeker; om ‘n bydra te maak.
In Suid Afrika bly digkuns steeds die stiefkind van die literatuur. Tog voel dit vir my asof daar ‘n nuwe energie in die Afrikaanse digkuns is. Veral die pogings om Afrikaanse gedigte meer toeganklik te maak. Daar is digters met veel meer diverse agtergronde wat tot die gesprek toetree. Die vertroebeling tussen die grense van verhaal, gedig, liriek en liedjie is ook ‘n baie interessante verskynsel. Die goeie, leesbare digkuns is daar, die probleem is steeds dat ons sit met ‘n leserspubliek wat onder die wanindruk verkeer dat gedigte slegs vir ‘n uitverkore groepie intellektuele individue beskore is. En selfs al word ‘n gedig hoe “toeganklik”; in ‘n wêreld van kits-gratifikasie en oppervlakkige massa-media gaan dit steeds moeiliker wees vir ‘n medium wat tog vra dat die leser op meer as net vlietende aard daarmee moet omgaan. Digters sal moet kyk na innoverende maniere om hul werk by die lesers te kry, miskien deur middel van tegnologie of onortodokse aanbiedingsmetodes.
As voorbeeld van ‘n bykans “perfekte” vers haal ek graag Loftus Marais se Still life with wild life uit sy bundel Staan in die algemeen nader aan vensters aan:
Still life with wild life
hier slaap almal. ook karen se man
wat vandag die gras gesny het.
maar karen is ‘n insomniac vanaand
in haar smaakvolle nagjassie voor die kassie:
een of ander david attenborough special.
bokkies word deur leeus verskeur.
sebras kopuleer.
‘n vlieg verdwyn in ‘n giftige blomkelk.
sy vat ‘n sluk warm melk, sit haar glas
op ‘n coaster, kyk verder.
buite in die stilte groei die gras
© Loftus Marais
***
Hennie Meyer

Ek het in 1989 gematrikuleer aan die Hoërskool die Wilgers.Ek is 38 jaar oud en woon my hele lewe nog in Pretoria. In 2007 was ek ‘n finalis van die Sasol Nuwe Handtekeninge Kompetisie. In 2008 het ek my eerste volwaardige uitstalling van my konkrete poësie, Winkel van Wanklanke, gehou by die Tina Skukan-gallery in Pretoria. In 2009 het ek ook ‘n uitstalling gehou by die Woordpoort in Pretoria. Ek neem ook deel aan die projek, Oor die einders van die bladsy, wat by vanjaar se Woordfees uitgestal gaan word. Van my verse het verskyn in die CD, Klikspringer, wat deur Dr. Ian Raper saamgestel is. Die afgelope drie jaar het ek gewerk by Unisa se administrasie. Ek is ongetroud.
Ek was nog op laerskool toe ek al begin het om gedigte te skryf. Verder was en is dit nog steeds ‘n ontdekking deur die lees en skryf van poësie en is dit vir my ‘n groot eer om gekeur te wees vir Nuwe Stemme 4.
Ten slotte moet ek erken dat ek nie op hoogte is ten opsigte van al die bundels wat verskyn nie. So; laat ek liewer nie ‘n uitspraak waag ten opsigte van die stand van die Afrikaanse digkuns nie. Vir my is onderstaande gedig van DJ Opperman wel ‘n voorbeeld van ‘n bykans perfekte vers:
Wildernis
Watter boom se bitter wortel
watter beentjie van die tortel
sal die hart teen bose gees
beskerm en van eensaamheid genees?
Sal die kranse en die wildepeer
tot sin en ewigheid besweer?
Met die jare word die kamer
daagliks onherbergsamer
en buite kom ‘n kilte
dieper uit die klip en stilte,
buite agter ‘n miershoop lê
die maer lyk van Eugène Marais
(c) DJ Opperman
***
Heidi Papadopoulos-Pienaar

Ek is in Pretoria gebore, maar het grootgeword op Hoëveldse myndorpe en in Zoeloeland, alhoewel ek aan die Pretoriase Hoërskool vir Kuns, Musiek, en Ballet gematrikuleer het. Tans hou ek skool saam met Poolse nonne en priesters by Mary Immaculate Nursery School; meestal vir kinders van Alexandrië. Werk vir die Internasionale Beweging vir verstandelik gestremdes, Faith and Light of Foi e Lumiere onder die Franse filosoof en professor in Morele Etiek, Jean Vanier, waarvan ek die Gautengse nuusblad behartig.
As skolier het ek die ATKV-Eerste Prys vir ” vryskryf” in Empangeni laerskool in standard vier gewen. Deur my ouers se belangstelling en liefde vir die Letterkunde was daar altyd ‘n goedtoegeruste “huisbiblioteek” vol klassieke werke van oor die hele wêreld.
Hierdie is egter nie my eerste publikasie nie; my gedigte word gereeld deur Die Woordgilde uitgegee. Het ook jare galede in die Poetry for Africa-reeks in Afrikaans en Engels gepubliseer. Van my gedigte was al voorgelees deur o.a. Petru Wessels, die bekende aktrise. ‘n Lid van die Woordgilde se seun in Londen het my toestemming gevra om my wengedig (laaste Woordgilde-kompetisie ) op die internet rond te stuur.
Die Afrikaanse digkuns het deur ‘n droë tydperk gegaan weens ‘n bloedskandelike “kliek van gevestigde en bevoorregte skywers wat nie hul plekkie in die son wou afgee nie.Volgens my Engelse vriende wat baie van Afrikaanse gedigte hou, is die “plat, platter,platste” taal juis geaffekteerd.Maar ek is veral verras oor die nuwe ekologiese temas wat deesdae in baie digters se werk voorkom. Dis ook of daar ‘n meer konserwatiewe streep onder die jongklomp is en meer godsdiesntige gedigte wat welkom is.
Die laaste strofe van Breyten Breytenbach se gedig “Met ‘n bossie bergblomme” vind ek besonder inspirerend.
Oeillets du poète :klein oë van die digter
en as jy lank genoeg daarin kan kyk
sal hulle nog dieper en vuriger blom, verryk
tot die vlerke waarmee jy óór skaduwees gaan vlieg
na die berge deur die venster
© Breyten Breytenbach (uit: Met ‘n bossie bergblomme“)
***
Bibi Slippers

Ek is in 1983 in Bloemfontein gebore en was as baba mal oor komkommers. Terwyl my ma eendag ‘n komkommer staan en sny het, het ek so opgewonde geraak dat ek uit my babastoeltjie gespring het, en op my kop geval het. Van toe af is my lewe baie opwindend. Ek was op skool op Empangeni, en daarna het ek my Drama Lisensiaat voltooi en in Pretoria gaan studeer: BA Beeldende Kuns en BA Tale. Na my studies is ek vir 2 jaar oorsee, maar het vroeg in 2010 terug gekom SA toe om my MA graad in Kreatiewe Skryfkunde te doen aan die Universiteit van Stellenbosch. My obsessies is hase, skape en gedigte. En ek hou nogsteeds baie van komkommer.
Ek vermoed dit in die bad was wat ek begin skryf het, toe ek baie baie klein was. Ek het so water-proof boekie met die naam “Pikkie Pikkewyn” gehad, en ek het daai rymende verhaaltjie oor en oor vir myself “gelees”. Later het ek in spraak-en-drama klasse op skool ‘n liefde vir Afrikaanse digkuns ontwikkel, en so voel-voel begin skryf. Ongelukkig was Pikkie Pikkewyn die duidelikste invloed. Ek het eers aan die Universiteit van Pretoria werklik ‘n passie vir die “kuns” in digkuns ontwikkel, maar ek is nogsteeds nie heeltemal ontslae van Pikkie nie.
Van my gedigte is voorheen op Litnet en Itch gepubliseer, maar Nuwe Stemme is my eerste ink on paper publikasie, en dis opwindend want boeke ruik lekkerder as rekenaars. Ek voel besonder bevoorreg om in die bundel opgeneem te word, omdat ek al jare lank ‘n fan is van Nuwe Stemme. Vandat ek die ander digters in Nuwe Stemme 4 se gedigte gelees het, voel ek ook klein, humbled en baie lucky.
Oor die stand van die Afrikaanse digkuns voel ek sommer baie opgewonde.
‘n Perfekte vers volgens my? Wel, ek gaan gulsig wees en sommer twee aanhaal. Die eerste is die laaste woorde van Alex, ‘n African Gray papegaai, wat met behulp van navorser Irene Pepperberg 100 woorde geleer het en heel goed kon kommunikeer. Voor sy dood sê hy aan Pepperberg: “You be good. See you tomorrow. I love you.”
Die tweede is deur Michael Ondaatje.
The Cinnamon Peeler.
If I were a cinnamon peeler
I would ride your bed
and leave the yellow bark dust
on your pillow.
Your breasts and shoulders would reek
you could never walk through markets
without the profession of my fingers
floating over you. The blind would
stumble certain of whom they approached
though you might bathe
under rain gutters, monsoon.
Here on the upper thigh
at this smooth pasture
neighbour to your hair
or the crease
that cuts your back. This ankle.
You will be known among strangers
as the cinnamon peeler’s wife.
I could hardly glance at you
before marriage
never touch you
– your keen nosed mother, your rough brothers.
I buried my hands
in saffron, disguised them
over smoking tar,
helped the honey gatherers…
When we swam once
I touched you in water
and our bodies remained free,
you could hold me and be blind of smell.
You climbed the bank and said
this is how you touch other women
the grass cutter’s wife, the lime burner’s daughter.
And you searched your arms
for the missing perfume
and knew
what good is it
to be the lime burner’s daughter
left with no trace
as if not spoken to in the act of love
as if wounded without the pleasure of a scar.
You touched
your belly to my hands
in the dry air and said
I am the cinnamon
peeler’s wife. Smell me.
© Michael Ondaatje
***
Adél Steyn

Ek is op Vryburg gebore en het my kinderjare op klein dorpies in die Noord-Kaap en Noord-Weste deurgebring: Reivilo, Niekerkshoop, Griekwastad en toe Prieska, waar ek op hoërskool was. Daarna het ek op Stellenbosch studeer waar ek vir ‘n paar jaar as spraakterapeut gewerk het voordat ek voltyds ma geword het. Ons bly vanaf Januarie vanjaar op Harrismith in die pragtige Oos-Vrystaat, waar ek nou deeltyds vertaal- en redigeerwerk doen.
My liefde vir poësie het ek met my moedersmelk ingekry. Ma ma het baie vir my gesing en Afrikaanse gedigte voorgedra wat sy nog van haar skooldae kon onthou. Dit het my betower. Ek onthou goed hoe sy vir my liedweergawe van die aangrypende gedig “Amakeia” (deur A.G. Visser) gesing het, sodat dit my byna tot trane gedryf het! As laatlamkind het ek baie wonderlike en verbeeldingryke alleenure gehad wat ek met boeke verwyl het. Ek het gediggies geskryf vandat ek kon skryf.
Nuwe Stemme 4 is die eerste publikasie van my gedigte in boekvorm. Daar verskyn ook ‘n gedig van my in Onse mense, ‘n boek met skilderye deur die Stellenbosse skilder Marié Stander, wat ook op vanjaar se Woordfees bekend gestel gaan word. Dat ek opgeneem is in Nuwe Stemme 4 is ‘n reuse eer en inspirasie om doelgerig aan ‘n eie bundel te werk.
Ek dink daar is tans in die Afrikaanse iets vir elke lesersmaak. Daar is heelwat nuwe bundels van goeie gehalte. Maar dit bly ‘n moeilike vraag, omdat dit altyd moeilik is om kuns te beoordeel.
As voorbeeld van ‘n “perfekte vers” kan ek nie anders nie as om die eer te gee aan een van die boumeesters van die Afrikaanse poësie:
Die dans van die reën
O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar kopperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
© Eugène N. Marais
***
Lou-Ann Stone

Ek het musiek op Stellenbosch studeer, toe my MA in Kreatiewe Skryfwerk by UCT (onder leiding van Joan Hambidge) behaal en nou werk ek as ‘n joernalis by sarie.com en gee klas by Stellenbosch Universiteit se jazz-program. Ek speel saxofoon vir ESP, ‘n plaaslike jazz-groep. Ons is besig om ons debuut-album op te neem (dit word in Junie vanjaar bekendgestel).
Jy vra na wanneer ek begin het met gedigte skryf? Wel, as ek die antwoord hierop geweet het, het ek waarskynlik nooit gedigte geskryf nie. Want dis ‘n onpeilbare, goddelike iets hier binne. En ja, Nuwe Stemme 4 is my eerste publikasie. Ek beskou dit as ‘n geleentheid vir groei.
Oor die Afrikaanse digkuns voel ek byna soos wat ek oor klassieke musiek-uitvoerings, museums en botaniese tuine voel – as meer mense maar net die waarde daarvan kon besef. Aan die anderkant is ek dankbaar dat talle digbundels nog die lig sien.
“Die gesegtelike dood” van Sheila Cussons is op die oomblik vir my ‘n voorbeeld van ‘n bykans “volmaakte vers”. Daar’s ander ook. Maar ek spandeer tans baie tyd met haar gedigte as deel van ‘n toonsetting-projek.
Die geseglike dood
En toe die ou-ou transparante man
wat nie meer kon nie tingerig sê:
ek groet jou, liewe dood, dienskneg
ook soos ek, en as jy nie mag wag
om my te vat nie, staan dan net
uit die lig
en vat my sag –
het daardie holte meteens ‘n iets
‘n meer as iets in sigself ervaar
asof dit ‘n engel geword het wat sku
op sy hurke buite gaan sit het
in ‘n warm roerende voorjaarlug
soos in ‘n wolk van vlinders
verbluf oor sy eie aard
en magteloos van ontsag.
© Sheila Cussons (uit: Die skitterende wond, 1979: Tafelberg)
***
Marius Swart

Ek is ‘n kind van die Overberg wat op Bredasdorp gebore is en skoolgegaan het. Deesdae woon en werk ek op Stellenbosch. Ek is ‘n taalpraktisyn en dosent.
Wie weet waar my passie vir die digkuns ontstaan het … Eendag het ek gevoel daar is iets wat krap, toe skryf ek daaroor. Beskrywings van die skryfproses klink al almal soos clichés. Ek weet nie of ek sou sê my gevoel jeens die poësie is soseer ‘n passie as ‘n soort kinderlike verwondering en bewondering nie. Dit is so ‘n ongelooflik gekonsentreerde en presiese medium, met baie vakmanskap wat sit agter die skep van iets wat waarde dra.
Daar is van my gedigte in Penseel-bundels en ‘n bundel van die Versindaba opgeneem, asook een opdraggedig wat in ‘n boek met sketse staan wat by vanjaar se Woordfees bekend gestel word. Die gedigte in Nuwe stemme 4 is egter nuut en nog nie voorheen gepubliseer nie. Om in hierdie bundel opgeneem te word, is vir my eerstens ‘n klop op die skouer, want ek voel my erg geïmponeer deur die geselskap waarin ek by die werksessies gesit het. Toe ek die eerste keer ‘n Nuwe stemme-bundel gesien het, sou ek regtig nooit kon dink dat ek eendag daarin sou publiseer nie. Verder is dit ook ‘n aansporing om aan te hou met hierdie ding waarmee ons klomp besig is.
Ek dink die Afrikaanse digkuns tans is lewendig en opwindend, en dat die bestaan van hierdie soort projek, asook die gehalte van my mede-digters in NS4 se werk, ‘n sterk bewys daarvan is. Ek kan al klaar nie wag vir Nuwe stemme 5 nie! Daar is net ‘n moeilike balans wat ons myns insiens nog moet bereik, naamlik, om die poësie toeganklik en aanloklik te maak vir die breë leserspubliek, sonder om die gehalte of inhoud daarvan te moet verlaag of vervlak, soos wat die geval byvoorbeeld in sekere segmente van ons musiekbedryf is. Afrikaanse digters moet, na my mening, ons tradisie van hoë gehalte voortsit sonder om die digkuns snobisties te laat voorkom. Woorde soos “gehalte” en “goed” en “swak” is net skynbaar nie meer in die mode nie. Mense is tog so polities korrek. Dit is wel jammer. Ek dink ook daar word in baie gevalle te min poësie gelees, selfs deur ons digters self (en daaraan is ek natuurlik ook skuldig). ‘n Mens kan nie in ‘n tradisie skryf of dit vernuwe as jy dit nie goed ken nie.
As daar so iets soos ‘n “ideale vers” is, het Wislawa Szymborska dit waarskynlik geskryf. Sy maak ‘n ongenaakbare vers in veerligte taal. Dit is vir my na aan volmaaktheid. Ek weet darem nie of een gedig volmaak kan wees nie, maar ek is erg oor gedigte soos haar “Cat in an empty apartment” en “Conversations with a stone” (wat ook in party vertalings “Conversations with a rock” heet). Een wat ook nogal by my vassteek, is die volgende:
Negative
Against a grayish sky
a grayer cloud
rimmed black by the sun.
On the left, that is, the right,
a white cherry branch with black blossoms.
Light shadows on your dark face.
You’d just taken a seat at the table
and put your hands, gone pray, upon it.
You look like a ghost
who’s trying to summon up the living.
(And since I still number among them,
I should appear to him and tap:
good night, that is, good morning,
farewell, that is, hello.
And not grudge questions to any of his answers
concerning life,
that storm before the calm).
(c) Wislawa Szymborska
***
André Trantraal

Ek woon tans in Bishop Lavis Township maar ek het in Mitchell’s Plain Township grootgeword. Ek weet, ‘n township is ‘n township is ‘n township.You don’t have to tell me. Dit is ‘n little known fact, maar die lug in townships is ongelooflik vars. Kom probeer dit gerus wanneer jy die kans kry. Dis soos Seepunt. Wat kan ek sê oor myself sonder om my privaatheid te skend? Dit is natuurlik hoekom so baie mense skryf, oor hul privaatheid so belangrik vir hulle is … Ek hou van sokker. En dokumentere programme oor insekte. En goeie en slegte comics. En unintentional comedy, nie so seldsaam s