Daniel Hugo:
Die digter M.M. Walters het op 23 Januarie vanjaar stil-stil 80 geword.
Ek ken Thys Walters as die lang gentleman met die ongelowige laggie. Dié grootste (letterlik en figuurlik) satiriese digter in Afrikaans lag sy lewe lank al verbaas, verbysterd én diep ontsteld oor die domheid van selfvoldane mense: materialiste en teoloë, nasionaliste en liberaliste.
Walters is ‘n virtuose duiwelsadvokaat, ‘n woordvaardige ketter, wat sy geloof in die woord (met ‘n kleinletter) versus die Woord (met ‘n hoofletter) soos volg bely in sy laaste bundel Satan ter sprake (2004): “dit is die wóórd wat ek as god / bo alle ander gode eer”.
Die twee hoogtepunte van sy poëtiese oeuvre is die dartelende Saturae (1979) en die diepgaande Sprekende van God (1996). In die laasgenoemde bundel is hy sowel skeptiese kritikus as eerlike worstelaar met die Christelike geloof.
Thys het vroeër graag Piet Duin van die Weskus se heuninglikeur geskink. Ek het altyd gedink: so smaak die gode se ambrosia. En dit is die boeiende paradoks van Thys Walters: terwyl hy lag vir die gode se karpatse, skink hy hulle euforiese drank; terwyl hy met hulle spot, eer hy nostalgies hulle nagedagtenis.
Een van die ontroerendste gedigte wat ek ken is sy “Haven om te landen” uit Sprekende van god. Vanuit die stoepkamer van sy hooggeleë huis in Seaforth, Simonstad, hou die digter die aandskemer oor Valsbaai dop:
In die koue grys skemer van die agterberg
laveer die laaste bote huis toe:
dun wit seile in ‘n wintersee soek
na ‘n haven om te landen.
Die meeue trek saam op Duikersklip
dig teen die donker en die wind
en oor die water hang ‘n hunkerende roep
na ‘n haven om te landen.
Die stomp neus van die Steenberg
los op tussen see en lug,
die nag word swart sonder lig wat wink
na ‘n haven om te landen.
En ou herinneringe en vertwyfeling
sak oor my soos ‘n swaar seemis
en heelnag deur dreun die branders en nêrens
is ‘n haven om te landen.