
Volgens ‘n berig op Knack het Willy Tibergien, stigter en hoofdirekteur van die Poëziecentrum in Gent en redakteur van die Poëziekrant, pas bekend gemaak dat hy beoog om weens ‘persoonlijke redenen’ in beide poste aan te bly tot 1 januarie 2013. Dit is nadat hy sy uittrede verlede jaar aangekondig het.
Intussen het die nuutste uitgawe van Poëziekrant vir vele mense as ‘n verrassing gekom, aangesien dit wil voorkom as Tibergien nou wel die volgehoue kritiek dat sy tydskrif stokkerig en oud-modies aandoen, ter harte geneem het en ‘n uitgawe gelewer het wat in sowel inhoud as voorkoms gewis meer opwindend is as die laaste aantal uitgawes. (Dis nou volgens ‘n vroeëre berig in De Contrabas.)
In sy redaksionale brief het Willy Tibergien gesê dat die dertigjarige viering van die Poëziecentrum en die vyf-en-dertigjarige viering van die Poëziekrant die ideale geleentheid is om dié besonderse publikasie te vernuwe: “Wij willen af van het etiket ‘literair tijdschrift’ dat bij te veel potentiële lezers en vooral bij jongeren te veel weerstand oproept,” het hy gesê. “Wij willen van Poëziekrant een boeiend ‘maandblad voor poëzie’ maken. De stap is klein. De nuance groot. (…) Een nieuw lettertype en de frisse rustige full quadri lay-out moeten de leesbaarheid vergroten. Ook aan de inhoud is en zal nog gesleuteld worden.”
Nou ja, toe. My eksemplaar van die betrokke uitgawe het ek ontvang en dit lyk beslis indrukwekkend. As lusmaker vanoggend, die volgende treffende aanhalings:
Uit die onderhoud met Christophe Vekeman, een van Vlaandere se vernaamste podiumdigters: “De vorm – er is in de literatuur geen andere waarheid.” En verder aan: “Als je als lezer geen belang hecht aan vorm, kun je beter enkel de krant lezen. Als je als schrijver geen belang hecht aan vorm, kun je beter de krant volschrijven.”
En dan, in ‘n bespreking van die nuutste uitgawe van Armada – Tijdschrift voor wereldliteratuur, Maaike Meijer se uitspraak: “Lezen is een archeologie van het weten: je wordt weer herinnerd aan wat je vergeten was dat je wist.” En, ten slotte, Dirk van Hulle se pragtige uitspraak oor die digkuns: “Poëzie brengt niets teweeg, maar ze is wel de enige die de nauwliks hoorbare plof registreert.”
Inderdaad, steeds ‘n publikasie waarop enige digkuns met reg trots kan wees …
***
Sedert gister het daar net Ilse van Staden se nuwe plasing bygekom. En dan sien ek in vandag se publikasielys vertalings in Engels gereed lê met gedigte van Breyten Breytenbach, Boerneef en Wilhelm Knobel. Die vertalings is gedoen deur Tony Ullyatt. Die skakels sal later opgesit word in ons Vertaalkamers.
Geniet hierdie middel-in-die-week dag.
LE