Die een ding wat my steeds van Koos du Plessis verstom, is hoe hy musikale grense in Afrikaanse musiek oorbrug. Dink maar aan sy lied “Gebed,” wat keer op keer deur gospelsangers gesing word. Die mees oortuigende weergawe daarvan, dink ek, is egter Dozi s’n. Sy stem dra iets van die ware kwaliteit van die lied oor: ʼn Desperate kreet om hulp van ʼn alkoholis wat “elke afdraaipaadjie” kén – “elke keer het U my iewers kom haal, maak dit, Heer, die laaste maal.” Maar hy wéét dis nie die laaste maal nie.
Maar dis nie net skoolkore en gospelsangers wat deur Koos du Plessis betower word nie. Een van my gunsteling interpretasies van ʼn Koos Doep is Battery 9 se weergawe van “Kouevuur”. Paul Riekert gooi die wysie weg en werk net met die ritme van die liriek, een wat jy kan spoeg en grom. Absoluut asemrowend. Luister hier, sommer ook na “Lie if you have to”.
Dan het Johannes Kerkorrel ʼn hele CD met Koos du Plessis covers opgeneem. Hy het dit weer op sy manier geïnterpreteer, iets waaroor ek baie dankbaar is, aangesien Kerkorrel een van die groot geeste van een van die ander rewolusies in Afrikaanse musiek was. Ek is bly hy het op so ʼn manier hulde gebring aan ʼn voorganger.
Dan is daar natuurlik Gert Vlok Nel se pragtige afskeid aan Koos du Plessis – “Waarom ek roep na jou vanaand”… “Gert bo die grond roep na Koos onder die grond, kom in Koos, kom in, kom in…”
En nou voeg Francois van Coke ʼn nuwe generasie se stem by die res van die left field koor wat Koos du Plessis se songs laat aanhou sing. Nóg een van die voorlopers van ʼn nuwe rewolusie in Afrikaanse musiek. ʼn Nuwe interpretasie van “Skadu’s teen die muur” is te vinde op Van Coke Kartel se pas uitgereikte CD Skop, skiet en donner. Van Coke Kartel is die meer ongeskikte off shoot van Fokofpolisiekar, maar met hierdie album doen hulle amper wat die Fokofs met Monoloog in stereo gedoen het. Hulle gebruik akoestiese kitare en minder aggressiewe klanke. In sommige gevalle gebruik hulle geprogrammeerde perkussie en ander klanke. Ek dink ek hou daarvan.
Benewens “Skadu’s teen die muur” is daar twee ander covers – vreemde keuses – “Maniac”, wat in die 80s in fliek Flashdance te hore was, en JJ Cale se “Cocaine” uit die 70s. Ek weet nie heeltemal hoe diep Van Coke Kartel se tonge in hulle kieste met hierdie keuses sit nie, of selfs in wie se kieste hulle hul tonge ingedruk het nie. Maar van een ding is ek seker. Ek hou baie van hulle weergawe van “Skadu’s teen die muur”. Hulle maak ʼn anthem van ʼn bitter siniese liriek.
Ek hou van die kraai in die video.
LONT
(een goeie dag ontplof jy…)
as die here
tog net nie sy are
so styf om sy skelet
gedraai het nie
nou peul sy vleis
uit nou wurg sy strot
nou wankel hy
wankel hy alweer
tot hy stik stotter en neer
stort
laat die kraai
kom pik
laat die kraai
kom pik
sê die papegaai
Kyk gerus na hierdie stunning video deur Van Coke.
Scroll af tot heel onder aan die blaai.
http://rhythmmusicstore.com/music/6141/Van-Coke-Kartel/Skop,-Skiet-En-Donner