Desmond Painter. ‘n Sjostakowitsj vir die 21ste eeu

Dimitri Sjostakowitsj se 24 Preludes en Fugas is myns insiens een van die wonderwerke van die 20ste-eeuse klaviermusiek. Dis ‘n epiese kopknip in die rigting van J.S. Bach se Das Wohltemperirte Clavier, maar dis ook ‘n idiosinkratiese, inspirerende weefwerk van allerlei invloede en musikale verwysings: Russies, Joods, modernisties, tradisioneel, jazz, aangebied in ‘n veelheid van stemme en aksente wat wissel tussen kompleks en kinderlik eenvoudig, voorbedag en improviserend, sarkasties en teer, speels en morbied. Om na die hele siklus te luister is ‘n sublieme ervaring wat (soos die 15 strykkwartette) Sjostakowitsj op sy beste verteenwoordig. ‘n Siklus waarna ‘n mens telkemale kan terugkeer; musiek vir alle seisoene.

Daar is ‘n hele paar legendariese opnames van die 24 Preludes en Fugas op die mark. Vladimir Ashkenazy en Keith Jarrett se opnames is met reg beroemd, en beide is ook nog geredelik beskikbaar (Jarrett s’n is die opname wat ek meestal in Suid-Afrikaanse musiekwinkels op die rak sien). Die talentvolle jong Konstantin Scherbakov het ‘n opname vir Naxos gemaak wat ook baie goeie resensies ontlok het. Maar die Preludes en Fugas is vir baie dekades al sinoniem met die Russiese pianis Tatiana Nikolayeva. Die rede hiervoor is eerstens omdat Sjostakowitsj die werk vir haar (of met haar in gedagte) gekomponeer het. Tweedens is dit omdat haar interpretasies werklik besonders is. Sy het etlike opnames van die werk gemaak — die opname waarna ek luister is in 1991 deur Hyperion uitgereik. Dit is een van daardie CD’s waar die uitwys van tegniese foute nie saak maak nie. Die uitvoering is tot so ‘n mate deurstraal van musikale aanvoeling vir en emosionele meelewing met die komponis en sy musikale strewes dat haar interpretasie amper bepalend is. Jy vra jouself: is dit vir enige pianis nodig, en selfs moontlik, om na Ashkenazy, Jarrett, en veral Nikolayeva, nog iets vars tot ons waardering van hierdie werk toe te voeg? 

Ek het nie so gedink nie. En tog was een van die beste CD’s wat ek die afgelope jaar gekoop het juis ‘n opname van Sjostakowitsj se 24 Preludes en Fugas. Die pianis wat dit reggekry het om hierdie werk opnuut vars, dringend en musikaal onmisbaar te maak, is Alexander Melnikov (geb. 1973). Die opname is in 2010 deur Harmonia Mundi uitgereik. Melnikov is een van daardie musikante wat ‘n intelligente, analitiese ingesteldheid gemaklik versoen met ‘n digterlike, sielvolle aanslag. Sy opname van die Sjostakowitsj het met reg onlangs die BBC Music Magazine se toekenning vir beste instrumentele opname van die jaar 2011 gewen. 

Ek sal nooit ophou om na Nikolayeva se opname te luister nie, maar Melnikov, sonder om enigsins radikaal af te wyk van haar intepretasie, het dit reggekry om die werk sy eie te maak — hy gee ons ‘n Sjostakowitsj vir die 21ste eeu.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Desmond Painter. ‘n Sjostakowitsj vir die 21ste eeu”

  1. Evette Weyers :

    Desmond, dankie vir die entoesiastiese aanbeveling.Ek wil dit beslis bekom.
    Op ‘n stadium toe ek ‘n internet gesprek oor ironie met vriende gehad het, het ek geleer dat musiek ook hoogs ironies kan wees, selfs subversief ironies. Spesifiek Sjostakowitsj, in ‘n land waar alle kunstenaars die kommunistiese ideologie moes steun en verheerlik in hulle kuns, het hy op ironiese wyse pro-kommunistiese vorms en temas geneem en op ironies wyse dit musikaal gedekonstrueer.
    So ‘n Merkwaardige komponis.

  2. Desmond :

    Evette, dankie — en ja, beslis die meester van musikale ironie!

  •