Elke gedig van my het so ‘n klein storietjie; Dalk hoe dit ontkiem het of die storie agter die storie of so. Ek is alte lief om te veel te praat as ek die kans kry en kan vreeslik vertel. Dit bederf natuurlik al die lees plesier vir die leser. (Om nie te praat van kastrasie van jou gedig nie, so ‘n digter moet liewer sy bek hou ne) Daarom volstaan ek deur te sê die gedig hieronder is die volle waarheid nie gelieg nie. O ja, (hier gaan ek sien wat ek bedoel) ek is nie lief vir tipografiese foefies nie maar hier het ek probeer. Werk dit my mede stemme en agbare GROOT STEM genote?
Huisbesoek
Ek ontmoet ‘n Engelse Naude;
‘n Loodgieter met ‘n Landrover en skieppertjie brak
en soos dit maar is as die vrouens loop en die kinders
eenkant op swaaie swaai en die skieppertjie brak
onder jou voete kom lê
vlieë die oorskiet braai besoek
vet soos murg in die son skitter
aartappelslaai suurderig vergaan
herken ons dit in mekaar;
die versigtig vleis omdraai, die innig streel oor seunskoppe
die hoeveelste bier, die stilweg kak opvreet.
Hy was ‘n diensplig Luitenant, vertel hy
LT NAUDE in breë swart letters vasgestik
bo sy songebleikte browns se hempsak
en op die lapelle; die pips soos voëlkak
blêrtse. Behalwe ballas bak moes hy elke goddelike dag
(gereeld maar ontydig), so was die opdrag
‘n herhalende ritueel uitvoer;
1. Wag voor die tuinhekkie
2. vir die gordyn om te roer
3. soms sal die ou man loer
4. die voordeur swaar oopskuifel
5. (Winters sal droog en wit wees,
6. Somers ook)
7. die tuinpaadjie
8. ‘n lang sement grys tapyt
9. langs
10. sal hy kom
11. en jou register bewerig teken;
12. Beyers Naude.
gaan na 1.
