In ‘n vorige Nuuswekker het ek vertel van ‘n nuwe bloemlesing met Internasionale poësie, The Ecco Anthology of International Poetry, wat in aantog is. Goeie nuus is dat voorraad van dié bloemlesing, wat deur Ilya Kaminsky en Susan Harris van Words without borders saamgestel is, uiteindelik gearriveer het en inderdaad teen die skamele bedrag van R190 in boekwinkels beskikbaar behoort te wees.
En watter winskoop is dié knewel met sy 540 bladsye nie! Ongetwyfeld ‘n “móét hê” vir enige persoon wat meer as ‘n terloopse belangstelling in die digkuns het, want in hierdie bladsye lê daar omtrent ‘n leeftyd van onvderdunde leesplesier in opgesluit.
In die vroeëre lusmaker het ek uitvoerig geskryf oor die voorwoord tot dié bloemlesing; en dié 20 bladsye inleiding is op sigself al die prys werd … Aan die teleurstellende kant van sake moet ek egter noem dat daar met die uitsondering van Augustinho Neto, géén Afrika-digters in opgeneem is nie. Sug. Nie eens Breytenbach óf Krog nie; en uit die Laer Lande slegs twéé digters: Gerrit Kouwenaar en Miriam Van hee.
Die vernaamste verteenwoordiging in dié bloemlesing, met die aantal gedigte tussen hakies, is deur: Yehuda Amichai (15), Czeslaw Milosz (15), Wislawa Szymborska (11), Pablo Neruda (9),Vasko Popa (8), César Vallejo (8 ), Zbigniew Herbert (8), Frederico García Lorca (7) en Osip Mandelstam (7); in totaal meer as 500 gedigte deur 210 digters.
As toegif vanoggend plaas ek een van Marlise se lieflike omdigtings van ‘n Amichai-gedig onder aan hierdie Nuuswekker.
***
Vanoggend is daar ‘n paar nuwe plasings om te rapporteer. Ten eerste is daar die nuutste Digstring, en dit is hoeka Marlise Joubert wat vertel hoe haar gedig “waarskuwings” tot stand gekom het. Daar is ook ‘n video wat bekyk kan word van ‘n groep studente wat dié gedig tydens Versindaba 2007 opgevoer het. Ten slotte is daar ook nog die nuwe blogs wat deur Roel Richelieu van Londersele, Carina Stander, Desmond Painter en Jannie Malan geplaas is.
Daarmee is die week eers weer tot niet. Nuuswekker hervat Maandag weer.
Mooi bly.
LE
As jy dans,
Dans die aande van vreugde.
Snags is alle vure langs jou geblus,
Soggens gaan die as saam met jou werk toe.
As jy my bemin, skuif ons gisters
Soos hortjies voor die geheue in.
© Marlise Joubert (Uit: passies en passasies, 2007: Protea Boekhuis)
Dankie vir die vriendelike woorde, Evette. En welkom terug! Ons sien uit na jou besoek.
Louis
Hallo Louis
Jou nuuswekkers is altyd lekker om te lees asook om op die paadjies wat jy blootlê te wandel. Baie dankie vir Digstring. Dis nog iets nuuts wat julle geskep het vir ons om te ontgin. Baie verrykend!
Ek kom my boek haal so oor 2 weke en sal dan sommer nog een van die bundels waarna jy en Marlise verwys, ook kry.
mooi loop
evette