Dis vreemd hoe ʼn persoonlike geskiedenis deur groot geskiedkundige gebeurtenisse gevorm word, soos die ontdekking van goud en diamante, of oorlog.
Kuier gister in Pretoria teen die Muckleneukheuwel by ʼn kunsgalery se langtafel in huis wat binnekort gesloop gaan word. Hare Krishna’s in die kombuis. Loop mense raak wat ek twintig jaar gelede raakgedrink het, toe ek nog in Pretoria gewoon het. Hulle het ouer geword, soos ek. Maar hulle woon steeds in Pretoria, in dieselfde areas waar hulle destyds in studentekommunes gewoon het.
Ek het in Pretoria grootgeword. In 1995 het ek in Johannesburg gaan werk en kort daarna hierheen getrek. Ek woon aan die kant van die stad waar immigrante nog altyd woon. Naby China Town in Cyrildene, langs Yeoville en Hillbrow. Ek het nog altyd vreemd gevoel in Johannesburg. Dis dalk hoekom ek tuis voel tussen ander immigrante.
Toe ontdek ek my oupagrootjie se grafsteen in die Braamfonteinbegraafplaas. Ek het oor my familiegeskiedenis begin uitvra en oplees. Ek het byvoorbeeld nooit besef dat my oupa aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer het en by Helpmekaar op skool was nie. Sedertdien voel ek meer tuis in Johannesburg, soms selfs besitlik.
In 1867 is diamante by Hopetown ontdek en later ook naby Kimberley. ʼn Stormloop ontstaan en Kimberley word oornag ʼn stad. Dis seker in hierdie tye dat my agteroupagrootjie aan moederskant, ʼn ene Rossouw, ʼn transportryer geword het. Sy van is ʼn verhollandsing van die Franse Hugenotevan Rousseau. Die foto hier onder wys hoe die ossewaens van sulke transportryers in Kimberley gelyk het:
My oupagrootjie, Andries Jacobus Burger Rossouw, is in 1882 gebore. Vier jaar na sy geboorte, in 1886, is goud in Johannesburg ontdek. Op die foto hier onder kan ʼn mens sien hoe naby die goud aanvanklik aan die oppervlak was. Eers later sou hulle skagte moes grawe om erts te ontgin. Dis ʼn kaal, ongenaakbare landskap, met stof in die lug:
Benewens ʼn aantal plaasopstalle (soos die Bezuidenhouts s’n), is die eerste geboue in Johannesburg by Ferreiraskamp opgerig. Die foto hier onder wys hoe dit gelyk het in die winter van 1886:
My agteroupagrootjie ry nou goedere Kimberley se diamantvelde en Johannesburg se goudvelde aan. In die foto hier onder is transportryerwaens in Johannesburg, voor die koms van die spoorweg:
Johannesburg groei al met die rif langs, in die westelike rigting tot by Springs en Nigel, in die oostelike rigting tot by Krugersdorp, veel later tot by Randfontein en Carletonville. In 1888 word Jeppestown en Belgravia as die eerste oostelike voorstede aangelê. In daardie jaar lyk Johannesburg reeds so:
Belgravia is aanvanklik ʼn posh voorstad, maar verander vinnig in ʼn werkersklaswoonbuurt. Dis gerieflik op die spoorlyn wat die Oos-Rand met Johannesburg verbind. Die foto hier onder is ʼn paar jaar later in die rigting van Jeppestown geneem, met Belgravia en Kensington in die agtergrond:
Iewers op die pad tussen Kimberley en Johannesburg het my agteroupagrootjie, die transportryer, ʼn plaas bekom – in die destydse Wes-Transvaal naby Leeudoringstad. Hy is egter in sy vroeë dertigs oorlede en sy ma (m.a.w. my agteroumagrootjie) is toe met ʼn ene Wernich getroud.
Wernich, my oupagrootjie se stiefpa, het hom op die ouderdom van sestien van die plaas af weggejaag. My oupa skryf hieroor: “Hy stap verlore in die omgewing van Johannesburg rond. ʼn Myner ontferm hom oor hom en neem hom in sy huis. In die myn stoot hy saam met die swartes koekpanne; hy word myner en vorder tot skofbaas.”
In 1899 breek die Anglo-Boereoorlog uit. My oupa verwys daarna as die “driejarige oorlog.” Hy skryf: “In die 3-jarige oorlog is hy behulpsaam met die met die opblaas van spoorweë.” Ek hou van hoe my oupa dit stel, so al asof dit iets is wat op ʼn kerkbazaar besluit is. Hy is “behulpsaam” met die opblaas van spoorweë. Sy kennis van dinamiet in die mynbedryf het hom duidelik handig te pas gekom in die oorlog.
My oupa skryf verder: “Hy word gevange geneem maar ontsnap. Later word hy weer gevange geneem, maar gee sy naam op as J.A. Rossouw, ander sou hy doodgeskiet gewees het. As krygsgevangene in Bermuda word hy deur Ds. Albertyn aangeneem.”
Terug in Suid-Afrika werk hy weer op die myne en trou in 1905 met ʼn ene Anna Meyer. Op 4 Februarie 1909 is my oupa gebore, Andries Jacobus Rossouw, in Kasteelstraat 24, Belgravia, Johannesburg. “Ouma Wernich”, my agteroumagrootjie, was die vroedvrou.
Ek het my oupa se geboortehuis ʼn tydjie gelede gaan soek. Dis steeds daar; ʼn regte mynhuis met ʼn stoep, ʼn eenvoudige gewel en ʼn komvenster. Die huis is egter erg in ʼn brand beskadig en teen die tuinmuur is nou sinkgehuggies waarin mense woon. Hele families woon in elk van die vertrekke, so ek kon nie sien hoe die huis aan die binnekant lyk nie. Die huis word geslumlord, soos ons hier in Johannesburg sê.
My oupagrootjie sterf in 1912 aan myntering, op die ouderdom van 30. Ek het nog die goue trouring wat aan sy vinger in die foto hier onder is. Die trouring pas my glad nie. My oupagrootjie het baie dunner vingers as ek gehad.
Dankie Harry & Marlise! Marlise, ek het my trouring na ‘n week reeds verloor (dit het gelukkig net R20 gekos, by Hatfield se vlooimark gekoop). So die erfstuk is veiliger in die laai.
Twee aanhalings uit een van Harry se boeke oor Johannesburg:
“[I]n die Kaap bly daar al langer as driehonderd-en-vyftig jaar wit mense. Nie soos hier waar alles nog bloedjonk is nie. Of stokoud. Of platgeslaan. Mynkamp-mentaliteit. Toe ek gebore is, was hierdie stad nog nie eens vyftig jaar oud nie. As dit ʼn man was, kon hy nou nog gelewe het. ʼn Ou man met ʼn bril en ʼn kierie. Honderd-en-vyftien jaar oud. Heeltemal haalbaar in hierdie dae van brille, pille en ysterlonge.”
En:
“Toe ons klein was, was die meeste myne nog aan die gang. Die grond het gereeld gesidder wanneer hulle geskiet het of daar rotsstortings was. Toe was dit nog regtig ʼn goudstad. Nou voel dit dikwels vir my soos ʼn foutstad. Oral waar jy kyk, sien jy dinge wat vervalle is.”
Uit: En die lekkerste deel van dood wees, pp. 19-20.
Groete
Andries
Ek hou ok hiervan. Soos Harry.
Andries, jy kan mos die trouring groter laat maak – en hom dra!
Ek hou baie hiervan