Dit was my laaste Saterdagoggend in daardie stad, en dit was tog ondenkbaar dat ek sou vertrek sonder om die Lennon Park te besoek. Lennon, ja, soos in John Lennon, die beroemde, bebrilde Beatle. En nee, die stad waarna ek verwys is nie Liverpool, Londen of New York nie. Dit is Havana — die een in Kuba, nie die een in die Vrystaat nie.
Die John Lennon Park is in een van die stiller, minder toeristiese dele van Havana; die middelklasbuurt (ja!) Vedado. (Mense stel skynbaar meer belang in Havana se krotbuurte, soms omdat hulle armoede romantiseer, soms omdat hulle Kuba en veral Castro wil demoniseer…) My Rough Guide to Cuba se kaart van die buurt het die straatuitleg nie baie akkuraat weergegee nie, en ek het knaend verdwaal, maar elke nou en dan het een van die immer vriendelike Kubane my darem weer op die spoor gehelp.
Kubane is natuurlik oor die algemeen baie ernstig oor musiek, en nie net oor salsa nie. Rock, folk en rap is ook groot, en in John Lennon het beide regime en jeugkultuur iets gevind om te salueer. Die John Lennon Park word so genoem oor die lewensgrootte standbeeld van hierdie sanger wat dag in en dag uit op ‘n bankie in die son sit en waghou oor die revolusie…
Op ‘n stadium was Lennon se brilletjie knaend deur toeriste en ander musikale pelgrims gesteel. Gevolglik word die brilletjie deesdae slegs opgesit as jy vra of jy ‘n foto kan neem. ‘n Middeljarige dame, wat die standbeeld gedurende die dag oppas, staan dan op, haal die bril uit haar handsak, en sit dit liefderyk vir John op. Na jy jou foto geneem het, haal sy dit weer af, sit dit veilig terug in haar handsak. Sy glimlag vriendelik en maak maar te graag geselsies in haar gebroke Engels. Ja, sy hou van Lennon se musiek, en as sy toesighouer en brilhouer word sy ‘n staatsalaris betaal…
Ek loop tevrede en lomerig my laaste draaie deur hierdie beeldskone, vervallende stad, terwyl ek neurie: “A working class hero is something to be…”
Oeps, ek besef ook skielik Lennon het nie gesing, “… easy to be” nie, maar “… something to be”. Moes dit gou verander.
Haha! Kyk, as mens dan nou noodgedwonge ‘n staatsamptenaar MOET wees, dan moet mens ten minste seker maak jy is John Lennon se brilwagter in Havana. Ek wonder of Castro self, by ‘n Sentrale Komitee vergadering, ges^e het: “Stel iemand aan om John Lennon se bril op te pas. Ons kan nie toelaat dat dit gesteel word nie.”
Ek kan myself ‘n toneel uit “Dis my geheim” van lank gelede voorstel, waar mense moet raai wat die geheime gas se beroep is. Wie gaan hierdie vrou se beroep kan raai? “Ek sit John Lennon se bril op en haal dit dan weer af en dan sit ek dit weer op en haal dit weer af en dan sit ek dit weer op en haal dit weer af…”