Gisteroggend het ek geskryf oor my besoek aan die John Lennon Park in Havana. Vir diegene van julle wat gedink het my verwysing na die buurt Vedado as “middelklas” was sommer tong in die kies bedoel, of dalk ‘n stukkie pro-Kubaanse propaganda — en dit sal my nie verbaas as ek hiervan beskuldig word nie: om hardvogtig anti-links te wees is immers deesdae erg modieus, selfs onder digters!! — kyk ‘n bietjie na die drie foto’s wat ek op pad na die parkie geneem het:
Soos jy kan sien is Havana allesbehalwe ‘n plakkerskamp. Anders gestel, die revolusie probeer tog sorg vir haar kinders. Een van die maniere waarop die revolusie sorg vir haar kinders, is om sport toeganklik te maak — en dit is juis oor sport in Havana waaroor ek vanoggend wil skryf. (Let wel, nie oor sports in Havana nie; dis ‘n storie vir ‘n ander dag…) Kuba blink natuurlik veral uit in boks, bofbal en atletiek, maar basketbal is ook baie gewild. Ek het een middag op pad terug na my B&B verby ‘n kleinerige stadion gestap en ‘n lawaai gehoor. Ek stap toe nader en sien die hekke is oop, jy het nie ‘n toegangskaartjie nodig nie. Binne in die stadion was dit salig koel en ek het my vir ‘n halfuur of wat verkyk aan die atletiese basketbalspelers.
Maar my vreemdste sportervaring in Havana was toe ek een middag, reg langs die see en seker so twee kilometer van die beroemde Hotel Nacional — ‘n Art Deco meesterstuk waarin almal van Hemingway tot Al Capone voor die revolusie vakansie gehou het — op hierdie verlate, seelugverweerde rugbyveld afgekom het:
Wat die geskiedenis van rugby in Kuba is, weet ek ongelukkig nie. Ek neem maar aan die revolusie maak bloot seker dat, sou een van haar seuns wou rugby speel, daar darem ‘n plekke sal wees vir hom om sy doelskoppe te oefen. Ek vermoed ook dat Fidel Castro op sy dag ‘n briljante agsteman sou gewees het. Of dalk was dit die Argentyn, Ernesto “Che” Guevara, wat aangedring het op ‘n rugbyveld! Hoe ook al, ek het dit vir ‘n rukkie ernstig oorweeg om Havana toe te verhuis en klubrugby te gaan afrig.
Daar is nie so iets soos gratis sport, gratis onderwys of gratis mediese sorg nie. Daar is altyd iemand wat daarvoor betaal.
Castro sou wragtie nooit toegelaat het dat sport as “entertainment” so geprivatiseer word nie!! Die ander ding wat my regtig in Kuba beindruk het, was die manier waarop toegang tot die Universiteit van Havana bv. bewerkstellig is, naamlik deur ‘n soort mengsel van afstandleer en streeksgebonde satelietkampusse. Dit is die soort model waarby SA universiteit sou kon leer, eerder as om in Australie en elders se rigting te kyk.
As ons regering maar net minder by die romantiek van die Kubaanse revolusie vasgehaak het, en meer op ‘n praktiese vlak in sekere opsigte Kuba se voorbeeld sou volg: gratis sport, gratis onderwys, gratis mediese sorg ens. Neem nou maar die rugby. In Kuba is daar ‘n stadion vir sou iemand dalk rugby wil speel en kyk. Hier by ons kan net die 20000 of so rykes wat toegang tot ‘n private kanaal besit, rugby kyk. Skandalig!
Ivan, miskien, miskien! Daardie veld lyk juis nie of hy onlangs aksie gesien het nie… Maar ek is nie seker hoeveel ANC-manne in Kuba was nie, hulle was mos meestal in die USSR, Oos-Europe en, wel, in Engeland. Ek was by ‘n kongres in Kuba en het wel heelwat jong studente van SA, Botswana, Namibie en elders raakgeloop. Ook in die Kubaanse platteland heelwat mans raakgeloop wat destyds in Angola geveg het. Hulle was oor die algemeen verskriklik ingenome daarmee om ‘n wit Suid-Afrikaner in “vredestyd” te ontmoet!
Of dalk die ANC kadres wat huis toe verlang het, Desmond? Dis tog welbekend dat van hulle vernuftige rugbyspelers was …