Jannie Malan. Die gedig as klip

‘n maand gelede kuier ons as ‘n groep vriende saam naby Bela Bela. Laatmiddag pak ons die vuur aan en die manne begin lang brandewyne en Coke Light’s gooi. Die gesprek draai op ‘n stadium na die Stemme 4 publikasie. Ek lees iets voor, en daar volg ‘n stilte wat ek inisieël met ‘n tevrede gloed bejeen… tot een van my vriende, van waar hy met sy skouer teen die braaimuur leun, ‘n sigaret uitskud, in die hoek van sy mond hang-maak, en dit met ‘n tegniek wat respek afdwing, in die geniepsige winter-wind aansteek. “Poësie! Man… dis net woorde op papier”

Of hy dit as ‘n grap bedoel het, ons ken mekaar al lank en is geneig om mekaar uit te lok, en of hy heeltemal eerlik was oor sy ervaring van gedigte weet ek nie, maar vir ‘n lang tyd sedert daardie namiddag kon ek die frase net nie uit my kop uit kry nie… en laat dit my ongemaklike vrae oor die nut van gedigte vra.

Masahiro Motoki in Departures

Masahiro Motoki in Departures

Gelukkig kry ek onlangs ‘n DVD van die Japanese film “Departures” in die hande. Ek het dit vroeër vanjaar in Rosebank onder oë gehad, maar was ywerig om dit weer te beleef.

Departures, geregisseur deur Yojiro Takita, en losweg gebaseer op Aoki Shinmon se autobiografiese boek: Coffinman: The Journal of a Buddhist Mortician, het tien jaar geneem om te voltooi.

Die storie – in kort – is as volg: ‘n jong tjellis (Masahiro Motoki) verloor sy werk by die Tokyo simfonieorkes. Op soek na ‘n nuwe loopbaan beantwoord hy ‘n advertensie in die koerant wat foutiewelik “Departures ” adverteer, dit moet eintlik “the Departed” wees. Die werk behels eintlik die verwikkelde kuns van lykbesorging – die serimoniële was, aantrek en plaas van die afgestorwene in die kis in die teenwoordigheid van die naasbestaandes.

Dit is ‘n juweel van ‘n film wat ek ten sterkste aanbeveel, met ‘n einde wat ek nie graag hier wil uitblaker nie. Waarby ek egter wil uitkom is ‘n treffende oomblik in die rolprent waar die tjellis/lykbesorger sy jong vrou, Mika, ‘n klein, ronde rivierklip in die hand stop. Wanneer sy hom vraend aankyk, verduidelik hy dat dit ‘n “klip brief” is, en hoe in die verlede, voor die dae van skryf, jy aan iemand ‘n klip sou stuur wat ooreenstem met hoe jy voel. Uit die gewig, vorm, kleur en tekstuur van die klip sou hulle jou gemoedstoestand kon peil. Uit ‘n gladde klip kon die ontvanger dalk aflei dat jy gelukkig is, vanuit ‘n growwe een, dat jy bekommerd is oor hulle. Die klip word ‘n leidmotif deur die film.

Diago, Mika en die klipbrief

Diago, Mika en die klipbrief

Ek kon nie help om die ooreenkoms met die gedig te sien nie. Die enkodeer van betekenis in ‘n gedig – elk met sy eie vorm, gewig, tekstuur en kleur – en die dekodering, oor afstand, deur die ontvanger/leser. ‘n Goeie gedig is een wat jy in die palm van die kop of hart kan hou, die gewig daarvan toets, die tekstuur daarvan in die onbewuste voel skaaf. Wel, dit is die gedigte wat ek graag sou wou skryf; en kies ek daarom voortaan om die gedig as ‘n klip te sien, nie net woorde op papier nie. Ek wil kopknik wanneer William Carlos Williams in Asphodel, that greeny flower skryf:

“It is difficult

to get the news from poems, yet men die miserably every day

for lack

of what is found there”.

Buitendien, as dit ‘n skerp, gepunte klip is wat gemaklik in die palm lê, kan jy iemand se kop daarmee oop kloof (veral die wat reken gedigte is net woorde op papier), of jy kan twee klippe teen mekaar kap en met vonke ‘n vuur begin, of jy kan ‘n ronde, gladde plat klip tussen duim en voorvinger uitskiet oor die water, kyk hoe dit plek-plek van die water bons, sink, en rimpels oor die oppervlak stuur… jy kan ook ‘n klip gebruik om papiere op jou lessenaar vas te pak of om ‘n deur oop te hou…

na(weke)

jy onthou tog daardie dag

toe ek so siek was, miskien

van die vorige aand se salm by Cape to Cuba

of dalk was dit net wingerdgriep?

dis tóg die Boland after all

ek ry ‘n draai by jou ou Bellville laerskool om

onder die eike tel jy akkers op;

ek hou jou dop van waar ek wag

op die blou dra-paviljoen se trappe met ‘n stokkie sit

en krap krap krap aan roes en roep “wat wil jy daarmee maak?”

ons stap by Blouberg strandlangs

jy skriklag teen my skouer aan oor twee

baldadige nat honde; skop aan seebamboes

en probeer my oë vermy, kamstig op soek na

inkomende vragskepe net agter die deining

ons praat oor waar ons dalk sou bly en naweke sou doen

hoe jy die berge verkies en ek die see, maar

toe ons vir ‘n oomblik teen die pietsende suid-oos in buig

hurk kort langs ons reeds daar

die halfuur in ‘n Groep A, AVIS rental, lug-

langs ongeveer ‘n honderd minute noord

bagasie, hande, harte

hardnekkig reeds aan boord

© Jannie Malan 2010

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Jannie Malan. Die gedig as klip”

  1. Jannie, dit was die moeite werd om vir ‘n goeie blog en gedig soos die te wag.

  2. Bibi :

    Lekker gelees, Jannie. Dankie.

  3. Jannie Malan :

    Dankie Bibi en Lewies!

  4. Niel van Deventer :

    Wow Jannie! Dit is inderdaad baie mooi. Ek loop ook so af en toe mense raak wat sulke dinge kwytraak soos: “Enige iemand kan ‘n digter wees, jy moet net jou lewe neerskryf…” Dan lees ek maar weer Danie Marais se poem Wat swak gedigte weet en glimlag net stilweg met die wete dat geduld juweeltjies soos hierdie van jou oor my tyd sal bring en ek nie te veel (as ek nie wil nie) van ander mense se lewens op papier in paarrym sal hoef te lees nie…

  5. Niel van Deventer :

    Pad sal bring…

  •