Andries Bezuidenhout. Die jaar 1999, eindes en beginne

1999 is die laaste jaar van die vorige millennium. Die Euro kom tot stand as Europa se nuwe geldeenheid en Hugo Chavez word as Venezuela se president verkies. Gunter Grass wen die Nobelprys vir letterkunde. Daar’s oorlog in Suid-Oos Europa en Thabo Mbeki word Suid-Afrika se president. Allan Boesak word tronk toe gestuur en Edwin Cameron kondig aan dat hy HIV-positief is. Julius Nyerere sterf in Oktober. J.M. Coetzee publiseer Disgrace en Ronelda Kamfer skryf matriek. Gerrit Komrij publiseer sy bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte.

In 1999 spandeer ek baie tyd by myne in Carletonville, waar ek navorsing vir die National Union of Mineworkers (NUM) doen. Ek dink gereeld aan André Letoit se lied “Swart Transvaal”, waarin hy sing van “ideale” wat “val soos Carletonville…” Ek neem aan hy verwys na die sinkgate, wat ontstaan omdat myne al die grondwater uitpomp.

Op 12 Desember sterf Joseph Heller. Ek teken portrette van Etienne Leroux by Haroldsbaai, waar ons ʼn woonstelletjie huur. Die woonstel is aan ʼn eenvoudige kerkgebou vas. Ons slaap met die venster oop. Die see is reg voor ons. Ons dink nie aan Y2K nie.

Ek lees op die oomblik Terry Eagleton se boek How to read a poem (Blackwell, 2008). Sy definisie vir ʼn gedig: “A poem is a fictional, verbally inventive moral statement in which it is the author, rather than the printer or word processor, who decides where the lines should end.” Ek lees die boek na aanleiding van ʼn gesprek gister, in Stellenbosch, oor vorm en inhoud en die spanning tussen die twee.

Oujaar 1999 moes ons reeds terug gewees het in Johannesburg. Ek onthou ʼn partytjie in Pretoria, teen Muckleneuk se heuwel. ʼn Uitsig oor die Uniegeboue. Ek maak klankkassette vir die geleentheid: Meestal dansmusiek, maar met grepe uit D.F. Malan se “Afrikaner quo vadis” toespraak (“Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen?”), die liedjie “Daan Desimaal” (wat oor die radio gespeel is toe Suid-Afrika die metriekestelsel in 1960 geïmplementeer het), en ʼn radio-onderhoud met Mev. Ameels, die eienares van die hotel op Laingsburg, wat vertel van die vloed destyds in die 1980s.

Eagleton skryf oor hoe “ondervinding” gekommodifiseer word tot “‘n ondervinding” – iets wat jy verbruik. Elders in die boek skryf hy:

“There is a politics of form as well as a politics of content. Form is not a distraction from history but a mode of access to it. A major crisis in artistic form – let’s say the shift from realism to modernism in the late nineteenth and early twentieth centuries – is almost always bound up with an historical upheaval. In this case, the upheaval in question was the period of economic and political turmoil which culminated in the First World War. This is not to claim that modernism was no more than a symptom of something else. But a deep enough crisis of cultural form is usually an historical crisis as well.”

Ek dink weer oor die reaksie destyds op Gert Vlok Nel se digbundel om te lewe is onnatuurlik. Dis merkwaardig tot hoe ʼn mate resensente op vorm gekonsentreer het, meer so as inhoud. Charl-Pierre Naudé se Die nomadiese oomblik word in dieselfde tyd gepubliseer. Hy werk met die sonnet as vorm, maar buig en breek dit. Ek dink ek sal moet teruggaan en kyk hoe resensente dit evalueer het. Gegewe Eagleton se stelling oor vorm en historiese krisis (seker “oorgang” ook), kan dit dalk insiggewend wees en kan ons dalk ook huidige struwelinge oor vorm beter verstaan.

Weer Oujaar 1999. Twee vriende snuif kokaïen in die badkamer en vra mekaar om te trou. Hulle val in die roosbedding. Ons trek soos figure uit die twintigste eeu aan. Irma is Koningin Victoria, Karien is Che Guevara, Wessel is Lenin, en ek is Albert Einstein. Op 1 Januarie 2000 sukkel ek om die koeke uit my hare te kry, omdat Irma dit getease het om soos Einstein s’n regop te staan.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die jaar 1999, eindes en beginne”

  1. Lewies Botha :

    Op ‘n berg of koppie iewers naby Napier in die Overberg, sien ek saam met my broer en vriende die sonopkoms oor Kaap Agulhas die suidste punt van Afrika,1 Jan 2000.

  2. Desmond Painter :

    In 1999 voltooi ek my MA en verlaat Stellenbosch om in Oos-Londen as Junior Lektor in Sielkunde te begin werk. Een Sondagmiddag, alleen en verveeld, het ek Valiant Swart se pasverskene Deur Die Donker Vallei op CD gaan koop. By die Game in Beaconbaai. Ek kan nie daardie CD luister sonder om aan eensame naweke in Oos-Londen te dink nie. Ek kan nie na daardie CD luister nie.

    In 1999 ry ek dikwels met die Greyhound Stellenbosch toe. Dis ‘n uitmergelende rit, maar al wat ek op my karige salaris kon bekostig. Op een so ‘n rit lees ek Karel Schoeman se Die Uur van die Engel klaar. Dis laatnag, om my slaap die meeste passasiers, ons is iewers tussen Mosselbaai en Riviersonderend. Hierdie omstandighede dra by tot wat nog steeds een van my mees aangrypende leeservarings is.

    In 1999 probeer ek ook ‘n pessimistiese vriend oortuig dat Mbeki net die man vir die toppos is… What was I thinking?

  3. Louis :

    Ook ek onthou Oujaarsaand 1999 baie goed. Op dié aand braai ek en Marlise vleis by haar huis in Stellenbosch en toe vra ek haar om te trou. Omdat sy nog nooit verloof was nie, het sy ‘n la-a-a-ang verlowing versoek en 18 maande (!) later is ons getroud. En vandag is daar onder andere dinge soos die boekwinkel op Stellenbosch, ‘n paar digbundels en hierdie webblad. 🙂
    Wat ‘n vreugde!
    Dankie, dankie, dankie.

  4. Andries Bezuidenhout :

    Louis & Marlise, dit was baie lekker om julle Maandag te sien!
    Desmond, en nou gooi die Selebi-saak selfs ‘n donkerder lig oor Thabo Mbeki se ampstermyn. Toemaar, ek het mense (en myself) probeer oortuig dat Jacob Zuma ‘n verbetering op Mbeki gaan wees!

  5. Wysneus :

    Ek weet nooit wanner wie wat waar nie.
    Watookal.
    Jy sê dit was ‘n dinsdagmiddag,
    laat junie, 1990, in Vanderbijl.
    Ek in ‘n geel hemp op my swart MBX
    wat sê nuuslees is nie vir jou nie want
    hulle is mos mooi.
    Ek sê wat (?!).

    Maar ek plant tyd aan rugbydae soos kruise langs die pad.
    Jy weet wat ek bedoel.
    Ek onthou oom Dries in ’87 –
    Naas drop, drop, drop die ou Transvaal. Die donner.
    Eerstejaar in ’91 – onthou jy nog vir Jannie de Beer
    en sy laaste hoera garryowen,
    Hans Skriba se pap handjies,
    en ‘n Woensdagmiddag uitspeelstryd op Loftus.
    Ek weet pa is dood in ’95,
    die finaal was ons laaste, saam.
    Ons trou in ’98, ek weet,
    want die bokke het, net-net, daai dag
    skot-vry daarvan afgekom.
    Toe was Bobbie se kniegie nog reg.

    Maar waar was ons op die sirkelent,
    daai oujaarsaand?

    Ek weet ek weet nie, want
    rugby is ‘n wintersport.

  6. Andries Bezuidenhout :

    Dankie vir die gedig, Wysneus! Hier’s ‘n liriek deur Brixton Barnard, wat saam met my in die die band speel, van ons tweede CD af. Dalk waardeer jy die verwysing na Stransky:

    TRANE VAN ‘n TERRORIS

    Nou ja toe, weer stukkend, sien die wêreld van ‘n wolk daar bo –
    ek’s die laaste van die valke wat waghou oor die Klein Karoo;
    ek’s ‘n kinderkransdanser met lomp voete wat die beat verloor,
    ‘n stemgebreekte sanger geskop uit die Drakensbergse koor

    Maar ek sing nie vir jou, my dier.
    Ek sing nie vir jou, my dier…

    Ek is kakiebos-ellende, ou Bockstraat-legende, het behoort
    aan die mielieraad, die vleisraad, die kerkraad en by my vakansieoord
    kon ek jaarliks met ‘n braaipak en ‘n slaaisak in my eie kak vergaan,
    in die aande my frustrasie op ‘n ou houtkitaar uitslaan.

    Maar ek sing nie vir jou, my dier.
    Ek sing nie vir jou, my dier…

    Warm stoom, water uit die bron –
    doringboom, ek’s eensaam soos die son,
    gaan stadig dood, sout krap aan my tong,
    gaan stadig dood, sout krap aan my tong…

    Maar ek’s president, was ‘n cowboy-prent
    Charles Jacobie heaven sent, meneer!
    Was Joel Stransky se famous skop,
    vir eenmaal kon ons hul opfok, regeer.
    Was ‘n prinses in ‘n BMW,
    het die drome van die AWB beheer.
    Kom stokstyf voor die TV sit,
    my Engelse onderwyseres begeer.
    Was ‘n baksteen in ‘n Duitse muur,
    ‘n Boswell Wilkie Sirkus-tier, ‘n tier.
    Was die konstabel wat jou aangluur,
    Biko in sy laaste uur, sy uur.

    Was die trane van ‘n terroris,
    die hangups van die Antichris en hier
    sit ek nou, arms gevou –
    vals en flat sing en nou vol bier.

    Ek sing nie vir jou my dier.

    Woorde & musiek: Brixton Barnard

  •