Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 August 20106 April 2011

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (3)

Eugène Marais
Eugène Marais

Eugène Nielen Marais se ouers trek elf jaar voor sy geboorte van die plaas Nektar in Jonkershoek, Stellenbosch, weg en woon daarna ‘n aantal jare in Bloemfontein, in die Republiek van de Oranje-Vrijstaat. Ongeveer drie jaar voor Marais se geboorte vestig sy ouers hulle in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), ofskoon heelparty van Marais se broers en susters in die Boland of in die Vrystaat agterbly.

Marais is op 9 Januarie 1871 op die plaas Les Marais by Daspoort net buite die destydse Pretoria gebore. Ek kon tot dusver nog nie vasstel presies waar Marais gebore is nie. Gedurende die eerste tien jaar van sy lewe woon Marais in Pretoria by sy ouers: eers op die geboorteplaas by Daspoort, en daarna in Lynnwood House aan die westelike oewer van die Apiesrivier. Op vyfjarige ouderdom begin hy sy skoolopleiding by ‘n Nederlandstalige onderwyseres, mej. Anna Pottger, in die konsistorie van die ou grasdakkerkie op Kerkplein. Daarna ontvang hy onderrig van ‘n Engelse predikant, aartsdeken A. Roberts. Sy eerste Nederlands-onderrig (“feitlik as ‘n vreemde taal”, volgens M. Nienaber-Luitingh) ontvang hy een keer per week van ds. A.J. Begemann.

As leerling aan die First Class Public School in Paarl (later die Hoër Jongenskool Paarl) publiseer hy vroeg reeds gedigte in Engels, volg daarna ‘n joernalistieke loopbaan en word op negentienjarige ouderdom redakteur en, die jaar daarna, eienaar van Land en Volk, ‘n koerant wat krities teenoor pres. Paul Kruger was. In 1894 trou Marais met Aletta (Lettie) Beyers wat uit Natal gekom het. Sy sterf elf maande later met die geboorte van hulle seun, Eugène Charles Gerard Marais. Reeds voor haar dood raak Marais aan morfien verslaaf, wat ‘n ingrypende invloed op sy lewe sou hê, maar waarvan die rol in sy lewe dalk oorbeklemtoon word.

Sedert 1896 studeer hy aan die Inner Temple in Londen in die regte. Hy toon ook belangstelling in die medisyne, hiёrogliewe, dierenavorsing, hipnotisme, spiritisme en goёlery en maak met die laat-negentiende eeuse lewens- en wêreldbeskouing en wetenskapsopvattings kennis. Gedurende die Anglo-Boereoorlog neem hy deel aan ‘n geheime ekspedisie om medisyne en plofstowwe na die Boeremagte te neem, maar onderweg in die huidige Mosambiek ontvang hulle berig van die vredesluiting. Tydens die reis doen hy malaria op, wat hom daarna telkens weer pla, volgens hom.

Terug in Pretoria hervat hy sy joernalistieke werk by Land en Volk en praktiseer as advokaat in Pretoria en Johannesburg. Op lord Alfred Milner, met wie Marais korrespondeer, maak hy ‘n besondere indruk en dié noem pertinent sy naam wanneer hy sy opvolger per brief oor die Transvaal oriёnteer. Marais maak tussen 1907 en 1916 in die Waterberg ‘n studie van die gedrag van bobbejane, termiete en slange en tree as “wonderdokter” en vrederegter op. Ervarings wat Marais daar opdoen, lei onder meer tot die publikasie van Die siel van die mier (1934), Burgers van die berge (1938), The soul of the ape (1969) en Dwaalstories (1927).

In 1917 vestig Marais hom as prokureur in Pretoria en daarna op Erasmus (later Bronkhorstspruit), waar hy met die geneesheer en digter A.G. Visser bevriend raak. Sedert 1927 woon hy in Pretoria, onder meer by sy vriend Gustav S. Preller en sy vrou Hannie; hy verhuis later saam met die Prellers na Pelindaba. Hy lewer in hierdie jare heelwat bydraes vir (Ons) Die Vaderland. Op 29 Maart 1936 neem hy sy eie lewe op Pelindaba.

Behalwe die wetenskaplike werk waarna reeds verwys is, verskyn daar uit Marais se pen ook onder meer Versamelde gedigte (1933). In 1956 verskyn ‘n bundel Engelse vertalings van sy poёsie deur Anthony Emerson Thorpe. Verhaalbundels van hom sluit in Die huis van die vier winde (1933) en Die leeus van Magoeba (1934). Hy het ook dramas geskryf, byvoorbeeld Nag: Drama in vier bedrywe (1937).

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Verlore gunsteling
Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (9) →

3e gedagtes oor “Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (3)”

  1. Daniel Hugo says:
    22 August 2010 at 10:03

    Ek het Johann se stuk oor Eugene Marais hierbo en my kommentaar daarop vir die taalkundige dr. J.C. Steyn gestuur. Hieronder volg sy insiggewende reaksie:

    Dankie dat jy die twee stukke aan my gestuur het. Dis baie interessant, maar vir my nie onverwags om so iets van Marais te verneem nie. Ongelukkig gee jy nie die datum van Marais se voorwoord nie. Ek vermoed dit kom uit die later jare toe hy waarskynlik sterk onder die invloed van Gustav Preller was, want dis ook van die gedagtes wat mens by hom teëkom. Ek weet jy lees nie graag sulke stukke nie, maar die laaste hoofstuk van Trouwe Afrikaners, getitel “Die stryd om die ‘onvolmaak verledene’” handel juis hieroor.
    Marais het in Ons Vaderland (waarvan Preller daardie tyd redakteur was) ’n reeks artikels geskryf oor waarom hy die verlies van die imperfektum betreur. Hy begin sommer by Oud-Egipties, en van sy stellings is so eienaardig dat mens nie weet of hy dit ernstig bedoel het nie, soos dat Egipties nie teen Grieks kon stand dié hou nie omdat dit (Egipties) nie so ’n verfynde vervoeging- en verbuigingstelsel as Grieks gehad het nie.
    Marais, Preller en ander Transvaalse joernaliste het ook in ’n stadium (in die jare 20) sterk teen die taalkommissie van die Akademie te velde getrek oor sekere reëls. Preller was van mening dat Afrikaans te gou erken is as offisiële taal, en ook dat die Bybel te gou in Afrikaans vertaal is. Hy was ten gunste van die behoud van sekere ou vorme soos werd. Hy skryf dat “ons in Transvaal” onder invloed gestaan het van “’n grote Hollander-element, wat ons taal behoed het teen die ontaarding wat ‘t elders ondergaan het”. Dus, jy merk seker die ooreenkoms met Marais se siening.

    Groete, Jaap

    Reply
  2. Desmond Painter says:
    22 August 2010 at 07:55

    Daniel, hierdie aanhaling van Marais is regtig fassinerend.

    Reply
  3. Daniel Hugo says:
    21 August 2010 at 16:16

    Johann, ek het onlangs die eerste (en enigste?) uitgawe van Eugene Marais se drama “Nag” in die tweedehandseboekwinkel uitgesnuffel. Veral die dialoog het my be-indruk. Met die uitsondering van enkele argaiese woorde het dit besonder baie na hedendaagse Afrikaans geklink. Daarom het sy “Voorwoord” my so opgeval. Daarin betreur hy die feit dat die Anglo-Boereoorlog verhoed het dat Nederlands ‘n groter invloed op standaard-Afrikaans kon hê. Ek haal die relevante deel aan: “Die drama speel gedurende ‘n periode van die Afrikanerontwikkeling waaraan die Oorlog ‘n verpletterende einde gemaak het. ‘n Nuwe geslag was net aan wording waarvan beide seuns en dogters die voordeel van moderne onderwys geniet het en, in hierdie opsig, deur ‘n groot kloof van die onmiddellik voorafgaande Voortrekkergeslag afgeskei is. Die taal waarin hul opvoeding geskied het, was natuurlik grammatikaal Nederlands wat destyds die skryftaal van alle Afrikaners deur die hele Suid-Afrika was, en in die Republiek (dit is die ZAR, D.H.) die amptelike taal, en ook die taal van kansel, hof en skool. Hierdie omstandigheid het ‘n groot invloed op die Afrikaners van die noorde gehad en daar is baie wat dit vandag bejammer dat hierdie invloed geen kans gehad het om breëre en blywender gevolge – vernaamlik wat ons taal betref – te bewerkstellig nie. Die instroming van Nederlanders het ook ‘n bespeurbare invloed op die periode gehad. Vandag sien ons dat dit feitlik die enigste bron was waaruit die Afrikanerdom van Suid-Afrika nuwe krag en lewe kon geskep het. Dit was egter te kort van duur om ‘n voortdurende nasleep te verwek. Maar terwyl dit bestaan het, was hierdie invloed duidelik bespeurbaar in ons maatskaplike lewe in die noorde.”
    Dit lyk of Marais hier verskoning maak vir die lewensgetroue Afrikaans wat sy karakters praat. Dit is tog merkwaardig vir ‘n skrywer wat as die eerste, ware Afrikaanse digter beskou word – na aanleiding van sy gedig “Winternag” wat alreeds in 1905 gepubliseer is. Daar het dus oënskynlik ook ‘n “groot kloof” tussen Marais die werklikheidsgetroue skrywer en Marais die idealistiese taalpolitikus bestaan.
    Ek hoor graag wat jou opinie omtrent dié saak is.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: “om my kastele in Spanje te sloop” (jaco barnard-naudé)
  • Resensie: "wanneer woorde asemhaal" (Maritha Broschk) & "swartland" (Rudolph Willemse)
  • Sonja Loots in gesprek met Alwyn Roux oor "Weerskyn"
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius

Nuutste bydraes

  • Resensie: “De Ontdekking van het eiland: breytenbachiana” (Yves T’Sjoen)
  • Resensie: “Feesmaalgang” (Dietloff van der Berg)
  • Jacobus Swart. Franz Kafka
  • Gerard Scharn. Abstract portret door Wopko Jensma
  • Marthé McLoud. Gogo

Nuutste kommentaar

  1. Gerard Scharn on Jacobus Swart. Franz Kafka14 May 2025

    Beste Jacobus Swart, het leven van Kafka kort maar compleet weergegeven. Tientallen boeken hoeven nu niet meer gelezen te worden.

  2. Ena on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Mooi, Celeste!

  3. Barbara Steyn on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Soooo mooi beskryf!!!

  4. Anira van der Walt on Floris van Zyl. ‘n tafereel van haat en lus en liefde7 May 2025

    Pragtige gedig Floris.

  5. Anita Van der Walt on Nuwe Versindaba-kompetisie: Skryf ‘n ekfrastiese gedig7 May 2025

    Ekfrasties se moer Eksellent eksekutief Eksklusief eksegeties Eksoties beproef

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d