Iemand vra my die ander dag hoeveel versies ek al oor die jare geskryf het, en die vraag was onmoontlik om te beantwoord, want dit trek sekerlik ver oor ’n duisend (of dalk meer).
En die probleem is, van daardie versies is daar maar enkeles wat ek persoonlik voel die toets van die tyd sal deurstaan. Hope van dié versies was eintlik maar net weggooi-versies en nie bedoel om André Brink of Gerrit Komrij te laat oe! en aa! nie
Vir ’n jaar of drie moes ek vir die destydse tydskrif Afrikaans Vandag elke nou en dan ’n paar versies skryf, en dit was gewoonlik oor iets wat op die plaaslike literêre toneel gebeur het.
In 1998 was daar ’n yslike gedoente toe Madeleine van Biljon aan Maretha Maartens in ’n artikel in Finesse vertel het hoekom sy nie ’n Christen is nie. Die ATKV-dames was so ontsteld dat Madeleine ’n prys wat reeds aan haar toegeken is, moes teruggee. Hierdie affêre het die volgende versie tot gevolg gehad, en ek was veral trots op my rymwoorde beduidenis en heiden is!
Die skets is deur Cora Coetzee
Madeleine, o Madeleine,
waarom het jou prys verdwyn.
Daar was g’n beduidenis
dat jy dalk ’n heiden is.
Maar – jou storie in Finesse
leer ons wel ’n dure les:
dit is beter om te lieg
as om net te staan en bieg.
Madeleine, o Madeleine ,
dáárom het jou prys verdwyn!
Twee jaar daarna is ek deur Die Burger genader om elke week op ’n Dinsdag ’n versie gereed te hê oor iets aktueel. Dit was, snaaks genoeg, nooit ooit vir my ’n probleem nie, anders as die tekste wat ek vir my De Kat-comic saam met Piet Grobler as illustreerder moes skryf. Daar was elke week iets om oor te skryf, en as ek nou na my koerantuitknipsels kyk, is daar baie waarvan ek die insidente heeltemal vergeet het. Die sketse was altyd deur Fred Mouton.
Eugene Terreblanche is destyds veral onthou omdat hy vir ’n paar jaar tronk toe gestuur is, en natuurlik ook omdat hy nie ’n wonderlike perderuiter was nie.
E.T. BLUES
Neef Terreblanche sit in die tjoekie
allenig met sy Bybel-boekie.
Tot siens, ou Raaf, my brawe perd.
“Jy maak vir my die lewe werd.
Ek gee jou nou ’n afskeidskus.
Al val ek soms, sal ek jou mis.
En al het ek geen rand of sent
word tronkvoëls tog – soms
president.’
Die volgende insident onthou ek wel goed. Winnie Mandela het glo by ’n ANC-kongres haar pad na die voorste gestoeltes oop gedruk, maar sy moes nooit vir Mbeki op die wang probeer soen het nie.
JUDASKUS
Tant Sannie sê:
Dink tog gerus
voor jy
die President wil kus.
Dit word beslis ’n grote ramp
as hy jou dalkies
disnis stamp.
’n Vroumens kan mos moed verloor –
veral as sy haar hoed verloor.
Partykeer was die insidente waaroor ek gerym het, heeltemal absurd, byvoorbeeld toe daar gedurende die sensusopname vry kondome uitgedeel is deur die sensusomies wat aan die voordeure kom klop het.
SENSUSTYD
Hiep hiep hoera vir sensus.
Hul tel nou al wat mens is.
Jy kry daarby
’n fraai kondoompie
van ’n gawe
sensusoompie,
want dié sal help
(ja, glo vir my)
dat volksgetalle
staties bly.
Karel Schoeman het in 2003 vir ’n rukkie uit sy kluisenaarsdop gekruip en in Stellenbosch ’n lesing kom gee oor D.J. Opperman. Op die ou end was dit glo eerder ’n lesing oor Karel Schoeman deur Schoeman self.
’N VERSIE VIR KAREL DIE GROTE
Opperman of Schoeman?
Sê wie’s die grootste – tóé man!
Ek weet nie wie die grootste is,
maar darem wie die doodste is.
Die een het lankal heen gegaan.
Toe het ons aan die ween gegaan.
Nou bly daar nog net Schoeman
En hy’s mos GROOT – of hoe, man?
Op ’n eiland is sy woning:
daardie selfgekroonde koning.
Sy Hoogheid sit alleen en kloek
skryf nog ’n laaste, laaste boek …
Ja, hou tog op met mopper, man!
Want Schoeman is nou opper-man!
En toe was daar die groot droogte in Kaapstad waar ons slegs eenkeer per week vir ’n halfuur lank ons tuinslange kon gebruik om ons verlepte plante water te gee. Die volgende versie is seker net soveel op die inwoners van Waterkloof van toepassing sou hulle ooit deur ’n droogte geteister word.
WATERBEKBEPERKINGS
BISHOPSCOURT
O, die droogte,
o, die droogte …
Glad g’n druppels
uit die hoogte.
Die son bak neer.
Die reën bly ver.
My rose
leef van Perrier.
So is daar hope versies wat ek oor die jare geskryf het, weggooiversies wat al lankal saam met die ou koerante in die asblik beland het, maar wat my tog destyds groot plesier gegee het.
‘n Goeie idee! So ‘n regte bog-met-blou-Maandag-effek. Of dalk net: “Maandag met De Vos”?
Kostelik, Philip! Miskien moet Marlise-hulle jou vra om ‘n weeklikse vers vir hul nuwe rubriek (Keelskoonmaak) te skryf oor nuusgebeure? Ietsie om die Maandag mee op te vrolik. 🙂