
Ek moes gisteraand vir Claire en ‘n sekere, onlangs nogal berugte Afrikaanse digter by die lughawe gaan haal (nee, ek laat nie vir Claire op vakansie gaan met berugte Afrikaanse digters nie — hulle het maar net toevallig op dieselfde tyd geland…) en terwyl ek wag het ek op my selfoon se notafunksie begin droedel. Ek het die produk gou vanoggend getik en toe bietjie spoeg en politoer aangesmeer. Dit is nogtans net ‘n eerste poging, ‘n klein kreet, die soort dinge waaroor mens tob in ‘n lughawe se aankomslokaal. (Nadat mens verwonderd deur die Woolworths gedwaal het, maar dis ‘n ander storie.) Ek plaas die droedel hier vir julle plesier; of om julle die geleentheid te gee om hoonlaggend meerderwaardig te voel as digters. (Maar pasop! Julle weet hoe vervies ek my!) Hier is dit:
Voor in die wapad
Die lewe is nie solied nie dis
aanhoudend in beweging en aan die geraas
maak. Die lewe maak ‘n aardige geluid:
Bome wat brand, bande op nat teer.
Jy soek verniet staanplek of stilte.
Die lewe bly in vloed, neem sy loop,
by wyse van spreke, in eie mond.
Die lewe bou onwyse huise op sand.
Die lewe maak staat op losse skroewe.
Die lewe is ‘n gedagte, woorde
wat nooit standpunt word
of sin. Die lewe is wat staan vergaan,
wat loop gaan dood. Die lewe is nie ‘n gedig
nie dis ‘n cliché in wording.
Want voor in die wapad brand daar
‘n voortvlugtige vlam, knetterend
en selfvernietigend op reis.
Natuurlik is dit kosbaar, die lewe.
Die lewe is die vet
is in die vuur.

Ek hou van die aanhaling, Johann. Dit sou ‘n werkbare lewensfilosofie kon wees.
Wysneus, lekker clip, dankie!!
Where good ideas come from:
http://www.youtube.com/watch?v=NugRZGDbPFU
Imagination needs moodling – long, inefficient, happy idling, dawdling, and puttering.
Brenda Useland