Vat dit (oftewel, take it like a man)
Vat dit
Vat dit net
Vat dit bleddie alles, Suid-Afrika
Suid-bleddie-Afrika
Dis tog jou manier
Jy laat mense hier instroom
En alles vat
Hulle vaar sommer hier in
En vat als wat hulle sien
So nie, maak hulle die mense dood
Skiet hulle die mense
Maai hulle af
Onthou julle die Khoisan?
Dit gaan nou al baie lank so aan
So vat dit
Vat dit net
Vat dit damnwell alles
Suid-Afrika
Deesdae marsjeer jy in die strate
Dompel vullisblikke om
Strooi die strate vol rubbish
Why not, after all, why the hell not?
Jy’s mos die rubbish mens in die eerste plek
Jy’s die koning van rubbish
Jy tel dit op en dra dit weg
Hoekom sal jy dit nou nie omfoeter nie
Dis mos jou job daai, die rubbish-werk
Ander mense se afval ronddra
En so stuur jy jou seun skool toe
Rubbish dra vir jou seun se skool-toe gaan
En nou’s hy ‘n metro-cop
Daai seun van jou
Hy maak ‘n plan
Al betaal hulle hom glad nie genoeg nie
En jou dogter, sy’s ‘n nurse
En nou ruk hulle ook op
Die nurse [uitgespreek as meervoud]
So maak mens in Suid-Afrika
Ja, so maak mens!
So het ons altyd gemaak hier
Ons ruk op
Maak ons stemme dik
Keer goed om
Maak mense dood
Van toeka se tyd af maak ons so
Ja, Suid-Afrika, so gaan dit maar
So het dit nog altyd gegaan
Onthou julle die Boere?
Onthou julle Majuba?
Onthou julle die Groot Trek?
Die fok-julle houding?
Te hel met die Engelse
Te hel met die goewerment
Te hel met belasting
Te hel met beskawing, sogenaamd
Die boere wou hê wat hulle wou hê
En te hel met enigiemand wat dwars staan
Selfs al moet hulle met die geweerloop praat
Ja, praat, hoe praat jy met mense
Wat die slawe wil vrymaak
Kan jy nou meer
Die vermetelheid
Hulle wil die slawe vrymaak
Hul vuil gewetens paai
Nadat hulle self die dood oral gesaai het
Die vermetele klomp rooinek-vuilgoed
Nee, hierdie was nog altyd ‘n vrye land
Vry om te vat wat jy moet vat
En as hulle ons slawe wil vrymaak dan ruk ons op
En as hulle ons nuwe paradyslande
Ons nuwe Galilea probeer annekseer
Dan maak ons weer moles
Groot moles
Verwoestend
Bloedvergietend
Ons vat nie kak nie
Want ons is mos boere
En ‘n boer maak ‘n plan
‘n Boer staan vas
Hy laat nie ‘n Rooinek
Of ‘n kaffer
Kak in sy kop inpraat nie
Hy weet wat hy weet
Want so gaan dit, so gaan dit
Nog altyd in jou geledere, Suid-Afrika
Ja, Suid-Afrika, so gaan dit maar
Want almal wil alles net vat
Die goud, die blink klippies, die grond, alles.
Hulle wil alles net vat
Net vat
Daai tyd was dit die buitelanders
Die kapitaliste van buite
Hulle wou alles hê
Rhodes en Milner, Engelse en Jode
En toe foeter jy vir hulle, Suid-Afrika
Toe foeter jy vir hulle
Gee hulle alle hel
Sluit hulle toe, bring hulle om
Skiet hulle vanuit die berge
Skiet hulle dood
Hulle moet dood omval
Onthou julle die beleg van Mafeking?
Onthou julle Magersfontein? Ladysmith?
Die sterwendes, die uitgehongerdes
Onthou julle?
Baie min het nou eintlik verander
Jy vat nie kak nie
En jy skop lekker vas
En as iemand ‘goeie rede’ in jou probeer infoeter
Dan foeter jy terug
Jy foeter soos Bakkies in ‘n losgemaal
Jy stamp kop
Maar kop gee
A nee a
Dit doen jy nie
Kopgee is nie jou styl nie
Suid-Afrika
En diegene met hulle visioene
Visioene van ‘beskawing’
Visioene van ‘ontwikkeling’
Visioene van ‘demokrasie’
Terwyl hulle geld in hul sakke instop
Hulle moet gaan bars
Want jy weet die donders lieg
Hulle lieg, hulle lieg altyd
Want eintlik wil hulle alles net vat
Hulle soek net jou goed
Hulle soek net jou goed
Eers was dit die Engelse
En toe die Boere
Die Boere met hulle apartheidstorie
En toe Inkatha en die ANC
Wat het nou tog verander?
Nou is dit die Neo-Liberale-kapitaliste
Kan jy dit glo
Kan jy nou meer?
Die Neo-Liberale-kapitaliste
Eintlik die tenderpreneurs
Hulle wat die BEE-vyeblaar gebruik
Om hulle skaamte weg te steek
Want húlle wil ook alles net vat
Alles net vat
Die tenderpreneurs
Die metro-cops
Die CEOs
Die BEE’s
Broad-based black empowerment
What a fucking joke
Fuckland, soos Breyten sê
Fuckland
Dit was maar altyd konneksies
Konneksies wat eintlik tel
Toe was dit Lord Somerset
Toe Rose-Innes
Barnato, Rhodes
Toe Hertzog
Smuts
Toe Malan
Dönges, Verwoerd
Toe PW en FW
Pik en Roelf
Toe Tokyo en Valli
Yengeni en Mbeki
Toe umshini wami
Showerkop en Julius
Wat is nou eintlik die verskil?
Dis altyd konneksies
Konneksies net waar jy kyk
Wie is wie
En wie hulle ook al is
Vat hulle dit
Vat hulle dit vat hulle dit vat hulle dit
Hulle vat dit altyd weg
Hulle vat dit altyd weg
So vat dit dan
Vat dit
Vat dit nou, vat dit vinnig
Want jy vat nie kak nie
Jy vat wat jy wil hê
Dis mos jou styl, Suid-Afrika
Dis nog altyd jou styl
En al sê Albie Sachs wat ook al
En al sê Antjie wat ook al
Dit gaan maar nog altyd so
Want só maak jy nog altyd
Suid-Afrika
Jy vat wat jy wil hê
Ja, Suid-Afrika
Jy vat wat jy moet vat
Al sê hulle wat
Ja, hulle, die doemprofete
Die professore en die koerante
Die digters en die Jansens
Fok hulle, man!
Veral die koerante
Liberal-rubbish koerante!
Kapitalistiese elite
Coconut koerante
Met coconut redakteurs
Hulle gatte, man!
Ons sal hulle wys!
Soos Eschel Rhoodie ook gedoen het
En Connie Mulder
En Lord Somerset sommer ook
Ja, Suid-Afrika
Jy wou nog altyd die koerante vasvat
Lekker vat die koerante vas
Almal wil dit doen
Vat hulle vas
Vat die donders vas
Soos in rugby
Vat die bal tog net weg
Stoot die bliksem om
Stamp hom
Vat hom lekker lelik vas
Vat wat jy moet vat
Suid-Afrika
Want hier
Hier word jy nog altyd onder gehou
Hier word jy nog altyd ondergekry
Dit weet jy goed, Suid-Afrika
Dit weet jy al te goed
En jy het geleer
Oor 350 jaar het jy geleer
Om dit alles maar net te vat
As jy die kans kry
O ja, as jy die kans kry
Dan vat jy wat jy wil hê
En fok die res
So vat dit
Vat dit
Vat dit, Suid-Afrika
Want dis al wat jy weet
En so sal dit altyd wees
Vat dit, vat dit,
Ons vir jou, Suid-Afrika
Ons sê mos, ons sing mos
Ons vir jou, Suid-Afrika
Ons vir jou, Suid-Afrika
So vat dit, vat dit
In gods naam, vat dit
En kry klaar.
Ja, vat dit
Vat dit alles
En kry klaar.
In gods naam, kry kláár.
© Leon de Kock. [Voorlesing by die US Kollokwium in die SASOL Kunsmuseum, Stellenbosch, op 17 September 2010]