Ek sorteer alwéér koerantuitknipsels uit.
Wat is dit omtrent papier dat ek dit so opgaar? Ek kan dit ongelukkig nie oor my hart kry om velletjies papier weg te gooi nie, maar ai, die dinge wat ek soms ontdek …
Ja, dis die probleem met weggooi. Daar is kartondose vol in die spens: Bokse vol uitknipsels en foto’s en boeke wat nooit gelees is nie en wat ek dreig om vir die Heilsleër (Salvation Army lê darem vir my veel lekkerder op die tong) te skenk.
Die Salvation Army is ’n heerlike asblik en ek het al dikwels daarvan gebruik gemaak. Ja, die Salvation Army vat sommer énige iets. Ek weet, want ek het dit alte dikwels gedoen. Ek sit met honderde grammofoonplate en Video-kassette ( wie besit nog ’n grammofoon of Videomasjien?) En wat daarmee gemaak?
Die Salvation Army het al vir jare ’n baie ’n sagte plekke in my hart en ek weet hoekom.
Toe ek nog in Bloemfontein gewoon het, was ek dol oor Hollywood Musicals (wie praat ooit van Hollywood Blyspele? Seker net Woordeboekmense.) Ewenwel, daar was elke dan en wan vir drie dae lank ’n musical in een van Bloemfontein se bioskope. En ek was altyd daar in die middelste ry met my popcorn en ’n sigaret in die hand.
En dit laat my skielik dink wat een aand in die Plaza bioskoop gebeur het:
Destyds het ek my doodgegril vir films soos The House of Wax wat in 3D geskiet is en ek vasgenael gesit het met my groen en rooi brilletjie en sommer daar in my sitplek moes koes dat my popcorn so spat wanneer iemand van die doek se kant af ’n spies na my toe gooi of dalkies sommer vir die lekkerte in my rigting spoeg!
En nog ’n terloops – ek lees die ander dag dat die pa van 3D films net een oog gehad het met die gevolg dat hy nooit enige van sy films in die derde dimensie kon sien nie.
Ja, allerhande vreemde dinge het in die Plaza bioskoop gebeur. Een ding wat ek goed onthou, was die vrou met die yslike beehive haardos. Die hare was so hoog en was so stewig gehaarsprei dat die persoon wat agter haar gesit het omtrent niks van die skerm kon sien nie. Ewenwel- dit was gedurende ’n vertoning van Psycho toe die arme Janet Leigh teen die einde se kant in die stort doodgesteek word. Die outjie wat agter die beehive tannie gesit het, het; naar geword en so groot geskrik met die gevolg dat sy hele oggendontbyt van Cornflakes en gebakte eiers in dié tannie se yslike haardos beland het.
Vir presies drie dae is die musical Guys and Dolls in die Plaza vertoon. En hierdie film gee ‘n baie simpatieke beeld van die Salvation Army. En toe ek sien hoe mooi Jean Simmons en Marlon Brando lyk, het ek my ewige trou aan hierdie organisasie gesweer.
Maar dis nie oor die Salvation Army wat ek wou praat nie. En nou het ek natuurlik al vergeet wat ek eintlik elf paragrawe gelede wóú sê.
Dit was eintlik oor die stukkies papier wat ek in bokse ontdek. Partykeer kom ek op ’n versie af en wonder of dit ek was wat dit geskryf het, of dalk iemand anders. Die goed klink partykeer so half en half bekend, want destyds het ek altyd met ’n notaboekie of ’n stukkie papier in my sak rondgeloop net ingeval die Muse vir ’n oomblik op my skouer kom sit en iets in my oor kom fluister. En destyds het dit dikwels gebeur veral as ek met my bromponie op pad na die Nico Malan Operahuis gery het waar ek as operasanger gewerk het. En dan moes ek sommer daar en dan stilhou en die woorde neerkrap voor ek dit drie minute later weer vergeet het.
Daar was ook die versies wat ek dikwels by Sandy Bay uitgedink het. Dan was daar ongelukkig g’n sak om ’n notaboekie in te bêre nie en moes ek maar wag tot ek weer in Kaapstad terug is en hopelik onthou wat ek daar in die son in my kaligheid uitgedink het.
Hier is enetjie wat ek gister ontdek het. Dit is geskryf en vinnig weer vergeet.
Ek vang vir my ’n voëltjie
Ek hou hom in ’n kou.
Nou het sy wysies opgedroog
en kyk hoe lyk hy nou.
En terwyl ek so in die bokse krap, loer ek somtyds vinnig tussen-in na my e-pos en kry ek die ander dag ‘n boodskap van my oudste pêl Deon Knobel en hy sê dat hy ook in sy broer Wilhelm se koffers rondkrap en iets ontdek het.
GESIG DEUR WYN
Wie is jy
wat tot my kom
wasige
deur muur
van wyn en glas?
… ’n lied
eergister nog gesing
’n sug
wat nog die na-oor kwel.
Nee
Laat sak die glas
en weet –
Dié is die oomblik,
Jý is die nou.
En onderaan staan daar: 5.5.63 en P de Vos
En onmiddellik was daar met hierdie woorde die Desembervakansie van 1962 weer terug. En onthou ek skielik dat ek destyds een of twee persoonlike dingetjies neergekrap het.
Ek het vir Wilhelm in 1963 ontmoet en het dikwels hom besoek in die woonstel wat oor die Katolieke Kerk uitgekyk het. Ek was nog nooit intellektueel van aard nie, en in Wilhelm se geselskap het ek baie min gesê. Destyds het Lina Spies nog by haar ouers in Bloemfontein gewoon en sy en Wilhelm het gereeld bymekaar gekom om poësie te bespreek. Om een of ander rede het Wilhelm my een of twee keer genooi om saam met hom te gaan en ek het self een of twee gediggies geskryf.
Ek het al jare gelede opgehou om persoonlike versies te skryf, want lawwe versies gee seker ’n beter idee van hoe ek gebek is. Tog het ek in my kartonbokse een enkele vers ontdek:
TWEE NAGTE EN ’N OGGEND
Ons was één dié nag.
Holte van arm
het ek eers ontdek
en toe vir jóu
St. Christopher.
’n Tweede nag
het jý –
klein stukkie goud
ons
op ons reis gelei,
maar waar was jy
skynheilige
toe
met die oggend
ek en hy
weer
by die kruispad staan?
Ek sê altyd vir mense dat ek nog nooit enige persoonlike versies geskryf het nie, behalwe ’n enkele een wat later gepubliseer is.
Op die duineveld
van Bloubergstrand
sal ek vir jou onthou.
Jy het my
’n ster gewys –
’n ster verskiet
te gou.
Duinedou
verdwyn te gou –
Rots en klip
is ál
wat hou.
Sonder om dit te veel laat klink na Jakkals prys sy eie Stert. Daar is onlangs drie insetsels oor my op You Tube geplaas. In die een sing ek Albie Louw se pragtige toonsetting van hierdie versie. Dan is daar ook ’n kort onderhoud oor my werk:
http://www.youtube.com/watch?v=tM0z_OXwHqg
http://www.youtube.com/watch?v=zJ6XbDMQqVA
http://www.youtube.com/watch?v=O1M0hCdDMx0
Dierbaarste, dankie dat jy altyd ook vir my onthou. Lees altyd sooo lekker en onthou mos ook van die goeters soos daai een oor Bloubergstrnd, maar dis mos net ons twee se geheim! Wanneer skryf jy oor “plooie” want daar is mos ‘n groot wêreld weggesteek in daai woord, vreudgde, verdriet, trane LAG en Lag en Lag
Ek’s bly jy’t weer gekrap.
Dankie Philip. Weer ‘n lekker stuk gewees. En nou is ek baie teleurgesteld oor die mooi man op die strand nie jy is nie. Ek dag: Warm Kat, hier begin die dinge nou hop!
Vir al my familie en vriende wat dink dit is ek wat so pragtig lyk op die Sandy Bay-foto moet ek ongelukkig teleurstel. Dit wys net’n mens moet nie alles glo wat jou oë sien of wat jy dalk lees nie …
Flip, die wereld is klein.
Ek en Rea sit hier en wag vir ‘n vlug in Phoenix, Arizona, en lees van jou kaalgat digters episodes op Sandy Bay. Al wat jou suster te se het is “Aai”.
Sien, ons lees tog jou goeters.
Groete,
Pieter
Dankie vriend, Ek kannie wag vir die volgende aflewering!