Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
26 October 201014 December 2012

Philip de Vos. My Hond (deel twee)

 

Asof die skryf van ’n blog nie alreeds genoeg dinkwerk verg nie.
Twee dae gelede kom ek vir Danie Botha by ’n herdenking van Wilhelm Knobel se 75ste by sy broer Deon se huis teë en tussen die tafel met die yslike versuikerde aarbeie en die sjokolade-tert sê hy ewe beskuldigend:
Ek het nou net jou blog-inskrywing My Hond (deel een) gelees en merk dat al die hondeversies in Engels is. Ek neem aan deel twee gaan dié in Afrikaans hê, want daar is natuurlik hope, beginnende sommer by C.J. Langenhoven. Om darem nie te dom te klink nie, skud ek my kop op so ’n manier dat dit òf ja òf nee kon beteken, want met ’n mond vol melktert is daar nie veel kans om iets tussen die gemompel uit te maak nie.
En van gemompel gepraat, by die Wilhelm Knobel-funksie, het Deon van Wilhelm se verse voorgedra en Jeanne Goosen het ’n storie voorgelees oor een van haar nagwandelinge saam met Wilhelm destyds in Pretoria. Maar dié kon sy eers lees nadat sy aangekondig het dat sy haar bril by die huis vergeet het, en kon iemand miskien ’n keffie-bril vir haar leen?
Toe was dit later Phil du Plessis se beurt om ’n gedig voor te lees, maar hierdie keer was dit erger, want hy het sy tande by die huis vergeet, en hy het al mompelend verduidelik dat hy dit die vorige aand uitgehoes het. Toe vertel hy ook sommer hoe dat Uys Krige elke dag by Onrus gaan swem het, en met al die geswemmery het sy valstande glo die branders in verdwyn en toe het hy sommer maar by die naaste lykshuis in Hermanus vir hom ’n ekstra paar gaan uitsoek.
Ewenwel, wat ek eintlik wou sê, is dat ek vir Danie Botha eintlik moes gesê het dat die enigste Afrikaanse hondevers waarvan ek bewus was dié een van Jan F.E. Celliers is:
 

Ek is hier en Ma is hier

Ons twee lê op pa se baadjie.

Wie is jy? Kom loop verby

Anders word ons knor ’n daadjie.

 

Terloops daardie daadjie klink my so ’n bietjie na dwangrym, maar nou ja, in die dae toe Celliers dié versie geskryf het, was daar seker minder Afrikaans rymwoorde as deesdae.

  

 

 

Ek is toe terug huis toe en Sondagaand het ek met die yslike Groot Verseboek 2000 wat seker ’n Statebybel se grootte ewenaar voor my by die tafel gesit, want wie op aarde kan so ’n yslike gedoente in die bed regophou? Gee my veel liewers Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte want dié is darem nog hanteerbaar en is dit veel makliker om so ’n juweeltjie soos Die Durbanse poepwedstryd wat wegkruip tussen G.A. Watermeyer en Flooi du Plessis, op te spoor, al het dit niks met honde uit te waai nie.

Ewenwel, daar blaai ek toe deur Groot Verseboek en waar is die hondeverse? Daar is wel verse vir sekretarisvoëls en ietermagôs en perde en vlermuise en torras van torrevedras, maar vir die arme hond kon ek met yslike deurlees van bladsy 1 tot bladsy 942, alleen dié enkele vers van Hewitt Visser uiteindelik op bladsy 716 opspoor:

 

HOND VAN GOD

 

geen jaghond nie

net ’n troeteldier

wat heeldag op die aarde

om sy voete speel

met tussenin spronge

en albei voorpote op sy skoot

om die kalm hand op die hoof te voel

saans uitgeput die rus

op ’n bidmatjie voor die stoel.

 

Ek kon dus seker maar vir Danie Botha gesê het dit is veel makliker om slim te klink en Engelse hondegedigte aan te haal, want ál wat jy moet doen is om die woorde dog poems te Google en daar klink jy sommer allergeleerd en is dit dus net ’n kwessie van cut en paste en hoef jy nie dwarsdeur onse eie Afrikaanse Statebybel te lees om daardie enkele hondeversie op te spoor nie.

Honde (en katte ook , moet ek so half onwillig toegee) is ongelukkig nie vir altyd nie, en op een of ander tyd besef jy die einde is aan die kom.

So gebeur dit ongeveer drie jaar gelede dat ek en Piet Grobler en Niki Daly by ’n Insig-boeke geleentheid was, waar ons oor ons werk moes praat en ek van my versies moes voorlees.

By my aan tafel was ’n dame wat ek nog nooit voorheen ontmoet het nie, en sy vra my hoe dit met my Staffie Winnie gaan. En toe sy ’n uitknipsel van my artikel Winnie uithaal wat in 1995 in Rapport gepubliseer is (sien my vorige bloginskrywing) bars ek in trane voor daardie wildvreemde vrou uit, want toe al het ek besef, dat ek sou moes besluit wanneer dit Winnie se tyd was om te gaan, want toe alreeds het haar pootjies wankelrig begin word; sy kon my nie meer hoor nie en die groeisel aan haar nek het al hoe groter begin word.

Maar dit kon ek glad nie vir die vreemdeling vertel nie. Dit was net daardie stukkie papier wat my skielik laat huil het en die arme vrou verwar het.

Maar ek is sekerlik nie die enigste persoon wat deur ’n hond se oudword en naderende dood geraak is nie.

 

EPITATH FOR A DOG

Near this spot
Are deposited the Remains of one
Who possessed Beauty
Without Vanity,
Strength without Insolence,
Courage without Ferocity,
And all the Virtues of Man
Without his Vices.
This Praise, which would be unmeaning flattery
If inscribed over Human Ashes,
Is but a just tribute to the Memory of
“Boatswain,” a Dog
Who was born at Newfoundland, May, 1803,
And died at Newstead Abbey Nov. 18, 1808.

Lord Byron

 

Hier is nog ’n gedig wat ek deur Google ontdek het:

  

YOUR DOG DIES 

it gets run over by a van.
you find it at the side of the road
and bury it.
you feel bad about it.
you feel bad personally,
but you feel bad for your daughter
because it was her pet,
and she loved it so.
she used to croon to it
and let it sleep in her bed.
you write a poem about it.
you call it a poem for your daughter,
about the dog getting run over by a van
and how you looked after it,
took it out into the woods
and buried it deep, deep,
and that poem turns out so good
you’re almost glad the little dog
was run over, or else you’d never
have written that good poem.
then you sit down to write
a poem about writing a poem
about the death of that dog,
but while you’re writing you
hear a woman scream
your name, your first name,
both syllables,
and your heart stops.
after a minute, you continue writing.
she screams again.
you wonder how long this can go on.

Raymond Carver

 

En dan, nog ’n versie, maar hierdie keer op ’n ligter trant:

 

THE LITTLE DOG’S DAY

 All in the town were still asleep,
When the sun came up with a shout and a leap.
In the lonely streets unseen by man,
A little dog danced. And the day began.

All his life he’d been good, as far as he could,
And the poor little beast had done all that he should.
But this morning he swore, by Odin and Thor
And the Canine Valhalla—he’d stand it no more!

So his prayer he got granted—to do just what he wanted,
Prevented by none, for the space of one day.
“Jam incipiebo, sedere facebo,”
In dog-Latin he quoth, “Euge! sophos! hurray!”

He fought with the he-dogs, and winked at the she-dogs,
A thing that had never been heard of before.
“For the stigma of gluttony, I care not a button!” he
Cried, and ate all he could swallow—and more.

He took sinewy lumps from the shins of old frumps,
And mangled the errand-boys—when he could get ’em.
He shammed furious rabies, and bit all the babies,
And followed the cats up the trees, and then ate ’em!”

They thought ’twas the devil was holding a revel,
And sent for the parson to drive him away;
For the town never knew such a hullabaloo
As that little dog raised—till the end of that day.

When the blood-red sun had gone burning down,
And the lights were lit in the little town,
Outside, in the gloom of the twilight grey,
The little dog died when he’d had his day.

Rupert Brooke

 

’n Jaar na Winnie se dood, het ek weer ’n artikel oor haar geskrywe. Maar hierdie keer was dit 15 jaar na die eerste een, en wys iemand dalk hierdie knipsel oor ’n paar jaar vir my sal my reaksie dalk dieselfde wees as toe die wildvreemde vrou die vergeelde artikel by die Boeke-Insig byeenkoms voor my neergeplak het;

 

 
WINNIE (Rapport 17 Mei 2009)
 
 
 
 

 

 

Winnie het in my lewe gekom op ‘n warm Desemberdag in 1993 – ‘n klein pikswart Staffie wat bo-oor al haar broers en susters geklim het toe ek by die hondeteler ‘n hondjie gaan soek het, en sy so te sê aangekondig het: “Wel, hier is ek en van nou af gaan ek deel van jou lewe wees”.

En toe 15 jaar later, op ‘n Novemberdag het ons tot siens gesê. Ek was langs Winnie waar sy op die vloer lê en slaap het. En vir oulaas, vir ‘n hele halfuur lank, het ek my arms om haar warm lyfie gevou, want ek het geweet die veearts sou nou enige tyd die deurklokkie lui met ‘n inspuitnaald in sy sak.

Toe ek haar gekry het, was sy so klein dat ek haar in my rugsak kon dra. Maar twee jaar later toe ek een middag met haar gaan stap het, het ‘n glasstuk haar pootjie gesny en het ek agtergekom hoe swaar dit is om 20kg huis toe te dra.

In haar jongmeisie dae het sy gedoen wat alle hondekinders doen. As jou tandvleise jeuk, dan móét jy kou en ek het agterkom dat honde ook maar hulle eie smaak het. Vir Karel Schoeman-boeke het sy egter g’n smaak gehad nie, want Na die Geliefde Land het sy net so effens om die randjies gekou.

En een aand moes ‘n kuiergas hinkepink terug na sy motor toe stap minus een van sy duur Italiaanse skoene terwyl Winnie ewe vroom onder die eetkamertafel gelê en nog steeds aan ‘n stukkie Italiaanse leer geknabbel het. Maar hoe kon ‘n grênd gas so kommin wees om sy duur skoene uit te skop terwyl hy by jou kuier?

Daarna was dit die potty-training-dae. Een oggend toe ek besef sy is besig om haar druk te druk, moes ek daardie swart lyfie gryp maar dit was reeds te laat en het haar hondedrolletjies een een met ‘n streep vloer toe geval het terwyl ek met haar tot by die grasperk hardloop.

Waar moet honde slaap? Buitekant natuurlik, want hoe anders gaan die hond jou beskerm teen gevare van die nag? Winnie het vir presies vir ‘n week in ‘n skattige houthuisie gewoon, maar saans was sy so allenig daar buitekant, dat ek besef het ‘n hond se plek is binne-in die huis, want vandag se inbrekers klim sommer dwarsdeur jou diefwering, en wie is dan daar om jou binne in die huis teen die gevare van die nag te beskerm?

Winnie het haar eie bedjie reg langs die dubbelbed gekry. As ek party aande teruggekom het by die huis, het Winnie kamstig in haar bedjie lê en slaap maar ek het tog gewonder waarom daar dan ‘n klein duikie op die dubbelbed se duvet was en hoekom dit nog steeds so effens warm voel? Haar bedjie was nie vir baie lank haar lêplek nie en soos almal weet – ‘n hond se slaapplek is eintlik bo-op jou bed. En saans as ons so saam-saam slaap, was ek altyd bewus van Winnie wat haar lyfie so warm teen myne aandruk.

Destyds kon sy sommer woerts op die bed beland, maar wat het dan gebeur? ‘n Paar jaar gelede merk ek hoe sy sukkel-sukkel om op die bed te kom, dus het ek maar die dubbelbed se pote afgeskroef en was die bed baie nader aan die vloer. Toe vind sy dit makliker, maar ‘n jaar of wat daarna was dit skielik my beurt om haar op te tel om bo-op die bed te kom.

Maar – voor daardie dae, was daar die wonderlike dae van Walkies. En sy het my behoorlik bult-af gesleep as ek haar aan die leiriem het, en wildvreemdes het skielik met my op straat begin gesels. Sou mens minus ‘n hond met ‘n vreemdeling gesels, word jy straks van seksuele teistering aangekla, maar met Winnie aan die leiriem was alles skielik anders.

Met die loop van jare het haar lyfie minder swart geword met wit haartjies om die snoet en soms was ek bewus van ‘n melkerigheid in haar oë.

Elke keer as daar ‘n polisiemotor met loeiende sirene verbyjaag, het Winnie soos haar Wolwe-voorsate met kop omhoog gehuil totdat die sirene in die verte verdwyn, maar later het motors met hulle sirenes verbygejaag en Winnie het maar net daar op die dubbelbed bly lê met haar grys snoet warm onder haar rooi kombersie ingevou en nou was dit nog net skielike harde klapgeluide wat haar kon laat skrik.

Winnie was altyd ‘n party-girl. As ek eenkeer ‘n jaar partytjie hou, het Winnie soos ‘n mal ding voordeur toe gejaag elke keer as die voordeurklokkie lui, want sy het geweet dit beteken elkeen van die wonderlike besoekers gaan haar allerhande soetigheidjies voer. Wat maak dit dan saak as sy die volgende paar dae gaan olik voel, want koekies is mos altyd maar lekker.

Maar – op ‘n dag kon die voordeurklokkie maar lui, want dié kon sy glad nie meer hoor nie en toe was selfs soetigheidjies nie meer so lekker nie en het sy soms maar net na haar kos gesit en staar en dan later na haar rooi kombersie toe teruggesukkel. Toe was daar skielik ‘n groeisel aan haar nek wat by die maand al groter geword het. En ek besef: een van die dae sal ek moet besluit wat die regte ding is om te doen.

‘n Paar weke voor haar verjaarsdag word sy in die middel van die nag wakker, en in plaas van deur haar eie hondedeurtjie na die tuin toe te gaan, begin sy rondtol. Die huis en die tuin het skielik ‘n vreemde plek geword, waar sy saans en selfs in die middel van die dag teen meubels en plante in die tuin begin vasloop.

Op die Woensdag het die veearts gesê hy sal Maandag na ons huis toe kom. En ek besef toe vir haar is daar nog net vyf dae oor. Vyf dae, word vier, vier word drie, en later was daar net ‘n paar uur oor. In daardie laaste vyf dae het ek haar elke dag na die groen gras op Groenpunt-meent geneem en hier kon sy op haar manier nog tussen die graspolle rondsnuffel, en daardie laaste dae was dae van biefstuk en biltong en lekker koekies.

Vir ‘n hele halfuur voor die koms van die veearts, het ek ek langs haar daar op die vloermatjie gelê met my arms om haar warm lyfie. Om eenuur het die voordeurklokkie gelui en om twee-uur het ek en my vriend Peter, haar graffie in die tuin langs die visdammetjie gegrawe en haar later in haar rooi kombersie toegevou.

Nou lê sy daar met twee meerminne van Nieu-Bethesda se Uilhuis wat oor haar waghou. En die solar-lampie langs haar graffie, brand tot laataand nog – en dan onthou ek dat Winnie vir 15 wonderlike jare deel was van my lewe.

 

  

 

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Marius Crous. Wilhelm Knobel – `n meditatiewe worsteling met psigose
Philip de Vos. Om persoonlik te raak →

10e gedagtes oor “Philip de Vos. My Hond (deel twee)”

  1. Marina says:
    7 November 2010 at 07:54

    Jou Winnie-storie is hartverskeurend mooi, Philip! Herinner my aan hoe ek snot en trane gehuill het die aand toe my twee worsies, Trompie en Saartjie, by ander mense moes gaan woon. Hulle is nou spekvet, gesond en baie geliefd, maar soms mis ek hulle nog vreeslik!

    Reply
  2. Derek Theron says:
    1 November 2010 at 09:52

    Die digter Ted Hughes wat met Sylvia Plath getroud was, is ook bekend vir sy gedigte vir kinders:

    ROGER THE DOG

    Asleep he wheezes at his ease.
    He only wakes to scratch his fleas.

    He hogs the fire, he bakes his head
    As if it were a loaf of bread.

    He’s just a sack of snoring dog.
    You can lug him like a log.

    You can roll him with your foot,
    He’ll stay snoring where he’s put.

    I take him out for exercise,
    He rolls in cowlap up to his eyes.

    He will not race, he will not romp.
    He saves his strength for gobble and chomp.

    He’ll work as hard as you could wish
    Emptying his dinner dish,

    Then flops flat, and digs down deep,
    Like a miner into sleep.

    Reply
  3. Philip de Vos says:
    28 October 2010 at 20:28

    In sy bundel Vermaning skryf Lucas Malan
    die volgende roerende gedig:

    UITVAART

    In die pylvak van haar kort dierlewe
    kry sy tydelik hier onderdak. Sokkies,
    bejaarde miniatuur van die Maltese slag;
    stram van been en geneig tot ‘n skewe
    gang, maar nog alte fluks by die bak
    Kosmeties versorg met twee sierade
    wat in klossies van haar ore af hang
    is sy ‘n lieflike troetelding. Maar nou,
    op die laaste trajek, lyk sy traag
    om dit saans na die mandjie te waag.
    Daar maak sy al die naggeluide
    van die vermoeides, hulle wat weet
    dat die einde kom. Orgaanversaking
    bring die laaste ure aan. En so verdof
    haar oë soos ‘n wintermaan.
    Met die melk van bejaring óm die pupil,
    pleit sy met hygende asem: Help my.
    Kry dit verby! Asof sy haar skaam
    oor iets wat tot verleentheid kan lei.
    Verlossing tree in. Die pelsie verstil.

    Reply
  4. Chris Coolsma says:
    28 October 2010 at 19:55

    In vervolg op my eerdere Wisselkaarte inskrywing oor gedigte van Billy Collins en s’n hond is hier een uit ‘Ballistics’, die nuutste bundel:

    A Dog on his Master

    As young as I look,
    I am growing older faster than he,
    seven to one
    is the ratio they tend to say.

    Whatever the number,
    I will pass him one day
    and take the lead
    the way I do on our walks in the woods.

    And if this ever manages
    to cross his mind,
    it would be the sweetest
    shadow I have ever cast on snow or grass.

    Reply
  5. Wysneus says:
    27 October 2010 at 16:18

    Love that Dog, deur Sharon Creech. Oor digkuns en ‘n hond, vir kinders. Lieflik.

    Reply
  6. trekboer says:
    27 October 2010 at 14:56

    Dit is opmerklik dat in ‘n land waar mense veel makliker bewoë raak oor honde en renosters as oor die lot van plakkers daar so min hondgedigte is. In Engels verwag ‘n mens dit half, want daar is perde en honde hoeka meer aanvaarbaar as enige medemens.
    Toegegee, ek is waarskynlik bevooroordeeld want toe ek hartgebroke op ses vir my geliefde hond ‘n begrafnis wou reël, het my ouma my gestop. ‘n Mens huil nie oor ‘n dier nie, het sy gemaan.
    Hierdie versie uit vergange dae het iewers in my deurmekaar kop vasgesteek.
    Hark, hark,
    The dogs do bark,
    Beggars are coming to town
    Some in rags
    Some in jags
    And one in velvet gown.
    Soos Philip aangetoon het, is daar baie kat-gedigte. Oor olifante, vlermuise en kameelperde en sebras is gedig, oor muskiete en luise, ja sowaar, maar honde, die mens se beste vriende, net so hier en daar ‘n lykdig by wyse van spreke.
    Pablo Neruda het dit oor ‘n oorlede hond en Oliver Goldsmith skryf met wrange humor oor ‘n hond wat na bewering mal geword en sy baas bevlieg het, maar toe gee die hond die gees.
    George Macbeth, wat saam met Martin Booth The Book of Cats saamgestel het (en wat ‘n lekker boek is dit nie, hoewel na die uiterlik nie so rojaal soos Spies se rooi en goue nie) het ‘n alte mooi gedig gemaak oor An old English Sheep-dog met Eyes drowned in fur
    An affectionate rough cumulus ens.
    Dit vat egter ‘n Stevie Smith om die troetelhond op sy plek te sit in The Wild Dog.
    Van Norman MacCaig se Praise of a Collie onthou ek net die frase

    She flowed through fences like a piece of black wind . ..

    Anoniem, daardie veel gepubliseerde digter skryf in My Dog

    I’ve got a dog as thin as a rail
    He’s got fleas all over his tail
    Every time his tail goes flop,
    The fleas on the bottom all hop to the top.

    Miskien kan daar tog A Book of Dogs of ‘n Honneboek saamgestel word deur Philip en Marlise, dink net al die mooi vertalings wat ons te wagte kan wees. Met prente deur Piet Grobler, Joan Rankin, Judith Mason en afdrukke van hondeskilderye.
    En ‘n bietjie prosa ook, want ‘n storie soos Mrs Plum van Es’kia Mphahlele moet ingesluit word saam met daardie mooie Duitse Krambambuli.
    Dit kan ‘n blitsverkoper word en al die gemaal oor wapenskandale verlig.
    In simpatie met Philip se mat wat so deurgeloop het onder hond se kind, ‘n laaste blaffie, weer eens deur anon.

    A French poodle espied in the hall
    A pool that a damp gamp let fall,
    And said: Ah, oui, oui!
    This time it’s not me,
    But I’m bound to be blamed for it all.

    Reply
  7. Jaco says:
    27 October 2010 at 09:02

    Ek onthou nog die rubriek van jou baie goed, juis omdat dit so mooi is. Van Langenhoven ken ek (hier oorgeneem uit Mieliestronk.co.za, waar ek dit danksy Google opgespoor het):
    Met modderpote, Haagagaa!
    Trap hij die voordeur oop —
    Trap hij twee rijtjies blommetjies
    Soover als wat hij loop . . .

    Reply
  8. Leon Retief says:
    27 October 2010 at 00:50

    Ai Philip, hoe laat jy my nou verlang na my ou foksie met die naam Jislaaik wat wat ek as skoolseun gehad het! Baie dankie vir hierdie twee blogs van jou.

    In Opperman se “Kunsmis” is daar ‘n versie, iets soos “Op ‘n Sondagmiddag gaan stap die weduwee Viljee met haar twee honde langs die see” (of min of meer so iets, ek het nie die boek hier nie) wat hy dan verwerk in die styl van ander digters, oa van Wyk Louw, Krige, Eybers en ander. Weliswaar gaan die gedigte nie spesisfiek oor honde nie, maar hulle feature darem. Ek onthou nog die een in die styl van Krige:

    O wee,
    o wee,
    in swart geklee
    op’n Sondagmiddag
    loop die weduwee
    Viljee
    met twee,
    net twee
    kolliehonde langs die see,
    die see,
    die see …

    Reply
  9. Marko van der Colff says:
    26 October 2010 at 20:05

    Phillipus, Jonge Man…
    Jy, jou versies, jou stories, jou sang, jou fotos… sal ‘altyd’ deel van ‘ons’ kollektiewe geheue bly – wees verseker… Maar, bly weg van vee-artse!

    Reply
  10. Johann Lodewyk Marais says:
    26 October 2010 at 18:18

    Philip, daar is gelukkig ‘n versameling hondestories in Afrikaans, naamlik Abraham H. de Vries (samest.) se “Steekbaard: Die beste Afrikaanse hondestories: ‘n Keur” (Durbanville: Klipbok, 1989).

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: “om my kastele in Spanje te sloop” (jaco barnard-naudé)
  • Resensie: "wanneer woorde asemhaal" (Maritha Broschk) & "swartland" (Rudolph Willemse)
  • Sonja Loots in gesprek met Alwyn Roux oor "Weerskyn"
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Borges, Sheila Cussons en Johann de Lange
  • Persverklaring: Groot poësieprys ter ere van Breyten Breytenbach
  • Gerard Scharn. Portret van van Monika Pon-Su-San door Vladimir Tretchikoff
  • 100 Duitse Bestes: Else Lasker-Schüler (1869-1945)
  • Resensie: “De ontdekking van het eiland: breytenbachiana” (Yves T’Sjoen)

Nuutste kommentaar

  1. Jacobus Swart on Jacobus Swart. Franz Kafka15 May 2025

    Beste mnr. Scharn Ek waardeer u kommentaar. Dankie dat u my werk gelees het.

  2. Dietloff Van der Berg on Resensie: “Feesmaalgang” (Dietloff van der Berg)14 May 2025

    Baie dankie Joan Hambidge vir die fyn lees en die hoog gewaardeerde slotsom.

  3. Gerard Scharn on Jacobus Swart. Franz Kafka14 May 2025

    Beste Jacobus Swart, het leven van Kafka kort maar compleet weergegeven. Tientallen boeken hoeven nu niet meer gelezen te worden.

  4. Ena on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Mooi, Celeste!

  5. Barbara Steyn on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Soooo mooi beskryf!!!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d