
Oor die groot tradisie van manlike digters – internasionaal en in Afrikaans – is daar al baie geskryf. Intussen het vroulike (en ook manlike) digters teen hierdie tradisie ingeskryf; hulle met die vaders bemoei in die hoop om ‘n eie digterlike stem te vind. Nietemin bly die gesprek rondom die manlike en vroulike digterlike tradisies ‘n onderwerp wat my bly boei; ek het dan ook die liefhebbery (of dalk nuk) om graag deur ‘n gender-bril na die literatuur – oud en nuut – te kyk.
Terwyl ek dus my Sondagoggendkoffie geniet met Annie Klopper en Daniël du Plessis se comic strip “Drie Marais’s stig ‘n band” (Rapport, 5 Desember) – wat drie gerekende Afrikaanse digters na die zef-wêreld van Die Antwoord transponeer – is die versoeking dus groot om my gedagtes te laat gaan en te filosofeer oor die prominensie van manlike Marais’s in ons digterlike landskap.
Met Die Antwoord vir eers ter syde gelaat, sal mens natuurlik kan bespiegel oor die samekoms van juis drie Marais’s in die Afrikaanse digkuns – of dit te danke is aan ‘n besondere genepoel waaruit die Marais-familie hulle talente put en of dit bloot toevallig is. Die feit is nietemin dat die drie Marais’s hulle stewig in die kanon van die Afrikaanse poësie bevind. Gustav Preller (in Kannemeyer 1984:228) het byvoorbeeld na Eugène – die “vader”-digter in hierdie geval – se dood die volgende eksplisiet kanoniserende uitspraak gemaak: “Dit is altemit ‘n bietjie te veel gesê, dat daar in A.D. 2139 slegs tien reëls nog orend sal staan van ál wat vandag in Afrikaans geskryf is, maar ek het altoos gemeen dat dié tien reëls van Eugène se ‘Winternag’ daaronder sal wees.”
Die jonger Marais’s se erkenning in die Afrikaanse sisteem is duidelik sigbaar uit toekennings soos die UJ-debuutprys, die Ingrid Jonker-prys en die Eugène Marais-prys aan Loftus Marais. Danie Marais is eweneens met die drie genoemde pryse bekroon, en is ook een van die wenners van die SALA-pryse vir 2010.
In ‘n tyd waar die jonger Marais’s dus heelwat aandag in die Afrikaanse poësiewêreld geniet en jonger lesers nie altyd meer so vertroud is met die ouer digkuns nie, is dit dalk juis interessant om opnuut aspekte van die ouer Marais se lewe en werk in oënskou te neem – iets waarmee Johann Lodewyk Marais reeds in sy baie interessante bloginskrywings besig is. Vir diegene wat in genderkwessies belang stel, sou ‘n een invalshoek wees om na te gaan hoe Marais se lewe moontlik deur gebeure rondom vrouefigure in sy lewe beïnvloed is.

Alhoewel Marais verskillende verhoudings ná sy vrou se dood aangeknoop het , wil ek in hierdie bespreking op die gebeure rondom sy vrou se dood fokus. Dit is alombekend dat Marais se lewe geraak is deur die tragiese vroeë dood van Lettie (Aletta) Marais op die ouderdom van 24 jaar. Hierdie gebeurtenis het talle psigologistiese interpretasies van Marais in die hand gewerk. So byvoorbeeld het die romantiese mite ontstaan dat Lettie se ontydige dood die jong wewenaar na morfien gedryf het. Marais het reeds voor sy huwelik morfien begin gebruik, maar Lettie se dood het waarskynlik ‘n rol gespeel in sy toenemende verslawing (Rousseau 1984). Nietemin word die rol van Lettie se dood ten opsigte van Marais se sogenaamde “donker” lewensbeskouing stellig oorskat, soos Kannemeyer (1984: 224) uitwys. Dit beteken egter nie dat die ernstige leser die gebeure rondom Lettie se dood terstond na die domein van die toevallige of irrelevante moet verban nie. Inteendeel, vir die gender-sensitiewe leser open hierdie gebeure ‘n venster op ‘n belangrike medies-historiese kwessie wat die lewens van veel meer gesinne as net die Marais’s beïnvloed het.
In Die groot verlange skryf Leon Rousseau oor die gebeure rondom die geboorte van die Marais-egpaar se seun in 1895 en Lettie se dood sowat tien dae daarna as gevolg van kraamkoors. Hy vertel van Marais se trauma en sy onvermoë om die gebeure suksesvol te verwerk, onder meer deurdat hy die blaam vir Lettie se dood op homself en ander, veral die dronk geneesheer wat Lettie se bevalling behartig het, geplaas het. Sodoende was sy ervaring een van “[d]roefheid wat met berou , selfverwyt en ‘n skuldgevoel vermeng word, [wat] weerhake [kry]”; dit is “‘n wond [wat] versweer” (Rousseau 1984: 93) en op hierdie manier dus sekerlik sy lewe en skryfwerk sou beïnvloed het. Rousseau bied in sy vertelling dan ook aan die leser ‘n fiktiewe refleksie op die gebeure deur die jong Marais self, wat die innerlike konflik en verwyte in ‘n sensitiewe gemoed weerspieël: i) “Dr. Kriel was dronk. Hoe nalatig was hy?” en ii)“Geen gevaar nie? Dis selfbedrog. Hy weet hoe baie skynbaar gesonde jong vroue ná skynbaar normale bevallings sterf.”
Hier verwys Rousseau in (i) na die feit dat die mediese dokter wat Lettie se bevalling hanteer het, dronk opgedaag het – waarskynlik dalk vanweë die algemene feesvierings in Pretoria wat die opening van die Delagoabaai-spoor onder die bewind van Paul Kruger vergesel het. (Ironies genoeg was Marais geen Kruger-aanhanger nie en was hy as redakteur van die koerant Land en Volk bekend vir sy aanvalle op die president van die ZAR.) Daar word dan deur Rousseau se rekonstruksie van Marais se gedagtes gesuggereer dat die dokter se dronkenskap op ‘n manier met sy vermeende “nalatigheid” verbind kan word. Dit is in (ii) wat kraamkoors as histories gevreesde komplikasie na geboorte ter sprake kom – waar gesonde vroue op raaiselagtige wyse sou sterf kort na hulle geboorte geskenk het.

Rousseau (1984:93) wys wel daarop dat die jong redakteur as intellektueel met ‘n belangstelling in die natuurwetenskappe goed moes besef het dat kraamkoors nié direk deur die dokter se dronkenskap veroorsaak kon word nie, maar hy suggereer wel dat daar ander, meer geheimsinnige agente was wat tot Lettie se dood gelei het: “Beter as die meeste mense weet Eugène Marais dat kraamkoors nie deur dronk dokters veroorsaak word nie en dat dit selfs ná die versigtigste, mees puntenerige behandeling intree.” Rousseau se argument kom dus daarop neer dat Marais in sy getraumatiseerde gesteldheid nie daarin kon slaag om die faktore in die tragedie op wetenskaplike wyse van mekaar te skei nie – m.a.w., Marais kon nie raaksien dat dr. Kriel se beskonke toestand nie deur die redelike persoon as oorsaak van die komplikasie gesien kon word nie; ook stel Rousseau dat kraamkoors teen die einde van die negentiende eeu gesien is as ‘n komplikasie wat op raaiselagtige, onvoorspelbare wyse kon intree. Hy beskryf dan die heersende persepsies van hierdie siektetoestand kort voor die eeuwending in die ZAR: “Niemand weet in dié tyd wat kraamkoors is of waardeur dit veroorsaak word nie. Party vroue kry dit, ander nie. Die Pretoriane weet wel dat dit selfs ná die versigtigste behandeling kan intree” (Roussseau 1984:92). Dr. Kriel is uiteindelik volgens Rousseau (1984:92) deur die inwoners van Pretoria uit hulle stad verdryf, maar sonder dat daar melding gemaak word van enige ondersoek na die dood van Lettie Marais en die vrou van die landmeter A.C. Vlok.
My bespreking wil vervolgens die verskynsel van kraamkoors as belangrike oorsaak van vrouesterftes in vorige eeue belig. Alhoewel ek geen mediese kenner is nie, reken ek dat diegene wat in genderstudies (ook die literêre komponent daarvan) belangstel, kennis behoort te neem van vrouekwessies waardeur die loop van die geskiedenis direk of indirek geraak is. Ek sal ook kortliks wil aandag gee aan die vraag of die oorsake van kraamkoors wél teen 1895 nog in ‘n waas van geheimsinnigheid gehul was (soos die leser in alle waarskynlikheid sal aflei uit die lees van Die groot verlange), en of die gerapporteerde persepsies van die Pretorianers wel die stand van wetenskaplike kennis op daardie tydstip weerspieël het. Die vraag kom dan natuurlik ook na vore of die betrokke dokter nie wél nalatig was nie, alhoewel dit natuurlik onregverdig (en onwetenskaplik) is om vanuit 2010 uitsprake in hierdie verband te wil maak.
Die geskiedkundige feite rondom kraamkoors is ontstellend, veral vanuit ‘n hedendaagse perspektief waar vroue wêreldwyd geboorte kan skenk met ‘n redelike verwagting van ‘n veilige uitkoms. Kraamkoors[1] (merendeels die gevolg van ‘n bakteriële infeksie van die geboortekanaal wat tot septisemie kan met dikwels fatale gevolge kan lei[2]) was vroeër tye een van die grootste oorsake van dood onder jong vroue. Koninklikes en bekendes het hierdie aandoening nie vrygespring nie – Koning Hendrik VIII van Engeland se moeder was ‘n slagoffer. ‘n Minder bekende feit is dat Mary Wollstonecraft (1759-1797), feminis en outeur van A Vindication of the Rights of Woman se lewe en skrywersloopbaan ook deur kraamkoors kortgeknip is. (‘n Mens wil jou uiteraard afvra wat die invloed op die agtiende-eeuse feministiese diskoers sou wees as Wollstonecraft ouer as 38 geword het?)
Laat in die agtiende eeu het vermoedens ontstaan dat onhigiëniese praktyke die oorsaak van kraamkoors kon wees, en navorsers in die negentiende eeu het studies onderneem om hierdie hipotese te probeer bewys. Thomas Watson, ‘n Londense hoogleraar in die geneeskunde, het reeds in 1842 aanbeveel dat dokters meer higiënies in hulle daaglikse praktykbeoefening moet wees. Hierop het ene Charles Meigs, ‘n destyds bekende verloskundige geantwoord: “Doctors are gentlemen, and gentlemen’s hands are clean” (Meigs in Wertz 1977, aangehaal in Puerperal fever 2010). Hierdie uitpraak is sekerlik ‘n aanduiding van die rol wat genderstereotipes in die aanbring van ‘n lewensbedreigende toestand gespeel het. Met hierdie drogredenasie word die kwessie van kraamkoors dan ook volkome binne die kader van “vrouekwessies” gebring.
Ignaz Semmelweis , ‘n dosent in verloskunde in Wenen, was die pionier wat die gedagte van antiseptiese maatreëls na die kliniese verloskundige praktyk gebring het. Hy het in 1847 bevind dat kraamkoors drasties verminder het nadat sorggewers in kraaminrigtings instruksies ontvang het om hulle hande met ‘n antiseptikum te was. Die ironie is egter dat Semmelweis se baanbrekerswerk wyd in die mediese wêreld veroordeel is. Hy deur die mediese “broederskap” veroordeel, omdat hy dit gewaag het om voor te stel dat dokters se hande met kadawerreste besoedel word tydens outopsies, wat dan die bron van infeksie is wanneer hulle voortgaan met inwendige ondersoeke op vroue in kraam sonder om eers hulle hande te was. Semmelweis se lewenswerk is uiteindelik in 1861 gepubliseer as Die Ätiologie, der Begriff und die Prophylaxis des Kindbettfiebers [Die etiologie, konsep en voorkoming van kraambedkoors][3]. Ook hierdie werk is oorwegend met skeptisisme en afwysing begroet, en die mediese fakulteit te Würzburg het selfs ‘n prys toegeken aan ‘n monografie waarin Semmelweis se idees verwerp is. Dit was dan eers teen 1876, na Robert Koch die geldigheid van Louis Pasteur se kiemteorie bevestig het, dat Semmelweis se teenstanders hulle fout besef het. Semmelweis se baanbrekerswerk ten opsigte van antiseptiese profilakse het dus teen die 1880’s na die praktyk oorgespoel, en het ‘n drastiese afname in sterftes as gevolg van kraamkoors tot gevolg gehad.
Dit wil dus voorkom asof die belangrikheid antiseptiese maatreëls in die verloskundige praktyk, tesame met die verband tussen higiëne en kraamkoors, teen 1895 redelik wyd bekend moes wees. Dit laat die hedendaagse leser dus met die vrae: Het die Pretorianers van destyds nie van die internasionaal bekende wetenskaplike feite kennis geneem nie, of was die mitevorming rondom ‘n raaiselagtige siekte wat slegs vroue tref, nét te sensasioneel om prys te gee? Berus Rousseau se uitspraak oor die Pretorianers se persepsies op navorsing oor siektepersepsies teen die eeuwending? En het Marais, met sy sterk belangstelling in die natuurwetenskap, nie vrae gestel oor dr. Kriel se higiëniese maatreëls nie? Waarom het niemand klaarblyklik verdere vrae oor die presiese aard van dr. Kriel se nalatigheid gestel nie, veral toe Marais se vriend A. C. Vlok se vrou vyf weke na Lettie Marais sterf, ook as gevolg van kraamkoors na die einste dr. Kriel haar bevalling hanteer het? Verder ook: Was dr. Kriel se beskonke toestand dalk die rede vir sy versuim om higiëniese voorsorgmaatreëls te tref? Of, vra die feminis in my: Het hy hom dalk as ‘n gentleman beskou?
Ons sal die meeste van hierdie vrae waarskynlik nooit kan beantwoord nie. Waarom dan, hieroor nadink, meer as ‘n honderd jaar na die gebeure? Waarom ons kwel oor ‘n toestand wat vir moderne vroue nie meer ‘n wesenlike bedreiging inhou nie, en wat danksy antibiotika behandelbaar is?
Ek reken die antwoord lê hierin: Dat ons moet bly waak teen die handhawing van stereotipes en aanhou vra of ons nie aan uitgediende idees vashou nie, selfs al druis die nuwe idees in teen alles waarin ons glo. Dat geen persoon, ongeag sy of haar geslag, ooit weer durf reken dat stand of geleerdheid ‘n skans teen die dood kan bied nie. En uiteindelik, sodat die wetenskap sonder vooroordeel ingespan kan word om die lewens van skrywendes en nieskrywendes te verbeter en te verleng, sodat die Mary Wollstonecrafts kan voortskryf teen alle vorme van onderdrukking. Oplaas, sodat die reëls wat Marais na Lettie se dood geskryf het, nie weer hoef te resoneer by één voortydige sterfte wat deur die toepassing van wetenskaplike maatreëls verhoed kon word nie:
A starless night is closing round.
Farewell, my Love, for thou wert lost
Ere yet thy love I found.
Bronnelys
Aansteeklike siektes – tydlyn. S.j. Myfundi [Internet]. Beskikbaar: http://myfundi.co.za/a/Aansteeklike_siektes_Tydlyn. [2010, 6 Desember].
Die siel van Eugène. 2004. Die Burger argief [Internet]. Beskikbaar: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2004/04/10/BY/07/01.html. [2010, 6 Desember].
Etienne van Heerden en Loftus Marais wen die 2009 Universiteit van Johannesburg-pryse. 2009. Beskikbaar: http://book.co.za/blog/2009/05/20/etienne-van-heerden-en-loftus-marais-wen-die-2009-universiteit-van-johannesburg-pryse/. [2010, 6 Desember].
Eugène Maraisprys. 2010. Wikipedia [Internet]. Beskikbaar: http://af.wikipedia.org/wiki/Eug%C3%A8ne_Maraisprys. [2010, 6 Desember].
Ignaz Semmelweis. 2010. Wikipedia [Internet]. Beskikbaar: http://en.wikipedia.org/wiki/Ignaz_Semmelweis#Response_by_the_medical_community. [2010, 6 Desember].
Kannemeyer, J.C. 1984. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur I. Pretoria & Kaapstad: Academica.
Puerperal fever. 2010. Wikipedia [Internet]. Beskikbaar: http://en.wikipedia.org/wiki/Puerperal_fever#cite_note-wertz-16. [2010, 6 Desember].
Robert Koch. 2010. History learning site [Internet]. Beskikbaar: http://www.historylearningsite.co.uk/robert_koch.htm. [2010, 6 Desember].
Rousseau, L. 1984. Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais. 3de uitgawe. Kaapstad & Pretoria: Tafelberg.
SALA Toekenning. Boekemakranka – ‘n Virtuele leeskring. 2010. http://leeskring.lefora.com/2010/11/11/sala-toekenning/. [2010, 6 Desember].
Semmelweis, Ignaz Philipp (1818-1865). S.j. Myfundi [Internet]. Beskikbaar: http://www.myfundi.mobi/a/Ignaz_Philipp_(1818-1865)_Semmelweis. [2010, 6 Desember].
Spesiale Nuuswekker. Nog ‘n prys vir Loftus Marais. 2009. Versindab [Internet]. Beskikbaar: https://versindaba.co.za/tag/ingrid-jonker-prys/. [2010, 6 Desember].
[1] Soms ook na verwys as “kraambedkoors”.
[2] “Kraamkoors” word deedae nie meer erken as diagnostiese kategorie nie, maar vir die doeleindes van hierdie bespreking word dit as sambreelterm gebruik vir verskillende infeksies as komplikasies van die geboorteproses.
[3] My vertaling.
Hallo G, jy’s doodreg – ek het bietjie te vinnig gelees 🙂
beste a
stone verwys natuurlik na insidensie, en nie mortalitieit nie.
g
(en nice blog, bytheway)
Hallo Gilbert, dankie vir die verwysing. Dit wil tog lyk asof Semmelweis se handewassery betekenisvolle resultate opgelewer het, as ‘n mens die (ongeveer) 10%-daling in konteks beskou. Sy studie en resultate word uiteengesit in Review of Infectious Diseases 3(4):808-811. Die sterftes in die kraamafdeling in Wenen wat deur dokters beman is, was in Mei 1847 12,24%. Nadat Semmelweis die chloorwater-wassery in die tweede helfte van Mei 1847 ingestel het, was die gemiddelde sterftesyfer van Junie tot Desmber 1847 3,04%. Aan die einde van 1848 was die gemiddelde sterftesyfer slegs 1,27% – wat tog daarop dui dat aansienlik meer babas oorleef het. Nietemin is Leon heeltemal reg wanneer hy daarop dui dat bakterieë immer met ons is, voorsorg ten spyt.
ek’t dit interessant gevind dat die insidensie van kraamkoors/ puerperale sepsis net met sowat 10% afgeneem het a.g.v. Semmelweis se handewas-in-chloorwater. [Water Stone, M., S. Bewley and C. Wolfe, 2001 incidence and predictions of severe obstetric morbidity case control studies. Biomedical J., 322: 1089-93.]
dalk was destyds se lyke skoner as nou.
[ …”What is organism, and what mechanism; in what living organism differs from sterile mechanism…” – The Jesuits, van Micehelet en Quinet, 1848]
Baie dankie Leon, ek dink jou kommentaar in jou tweede paragraaf is heel waarskynlik in die kol. Dit onderstreep natuurlik die tragedie van Lettie Marais se dood. Rousseau noem net dat die bevalling “normaal” verloop het, maar verskaf ongelukkig nie meer besonderhede nie – bv. of daar instrumente betrokke was nie. Hy noem wel dat Marais na haar dood sterk uitgevaar het teen alkoholgebruik en die drankhandel in die ZAR, so dalk het Marais ook tot die slotsom gekom dat die dokter se besopenheid tog wel die oorsaak was van sy nalatigheid of selfs gebrekkige kennis, soos jy tereg uitwys. Maar afgesien van die kwessies rondom Lettie se dood, bly hierdie biografie dubbel en dwars die lees werd – Rousseau slaag daarin om die besondere wereld van Marais vir die leser oop te maak. Hopelik sal die jonger lesers ook van die boek kennis neem.
Amanda, ek het die boek maar het nog nie daarby uitgekom nie en nou lê dit in ‘n boks in Kaapstad. Ek sou graag meer besonderhede oor die bevalling wil weet, bv of instrumentasie gebruik is want dit sal die kanse op infeksie verhoog. Ek dink daar is twee moontlikhede. Die eerste is dat postpartum sepsis, soos dit tans bekend staan, nog kan voorkom selfs al word goeie higiëniese standaarde gehandhaaf, want mens raak nooit regtig ontslae van bakterieë nie. As voorbeeld: selfs wanneer ‘n pasiënt se buikwand ordentlik voorberei is vir ‘n operasie is daar steeds sowat 50 000 bakterieë per vierkante sentimeter op daardie vel.
Dit is egter meer waarskynlik dat die dokter wel doodgewoon onhigiënies te werk gegaan het, ek meen iemand wat dronk by ‘n bevalling opdaag sal na alle waarskynlikheid nie higiëniese standaarde handhaaf nie. Die feit dat hy later uit Pretoria verdryf is laat my vermoed dat hy as ‘n inkompetente dokters beskou is en ek wonder of hy nie ‘n alkoholis was nie – sulke ouens gee gewoonlik nie veel aandag aan hygiene nie en begin ook agter raak op hul vakgebied, dalk is dit moontlik dat hy nie eers geweet het wat die oorsaak van postpartum sepsis is nie.
Persoonlik is ek net bly dat iemand weer die belangrikheid van Leon Rousseau se biografie oor Marais onderstreep. Myns insiens nog steeds die beste biografie in ons letterkunde.
Boeiende perspektiewe.
Dankie Ivan, bly dat jy dit interessant gevind het! Die drie reëls aan die einde is vermoedelik deur Marais self geskryf, alhoewel die presiese jaar onbekend is. Volgens Leon Rousseau het Gustav Preller hierdie reëls in ‘n laai van Marais se lessenaar gevind. Connie Luyt vertaal hierdie reëls ook in Afrikaans in haar vertelling oor die tragiese liefde tussen Marais en Lettie Beyers, in die bundel “Ware liefde” (2008), saamgestel deur Corlia Fourie. Sy skryf dat Marais dit na Lettie se dood tydens ‘n verblyf by sy broer op Boshoff geskryf het, maar gee ongelukkig nie ‘n bron ter stawing nie. Maar dit is inderdaad lieflike woorde!
Welkom, Amanda! Ek het jou blog sommer baie interessant gevind. Mag die wens wat jy aan die einde uitspreek asseblief tog waar word.
Dan intrigeer die aanhaling aan die einde van jou inskrywing my. Ek ken dit nie. Is dit dalk iets van Marais? Pragtige reëls.