Jelleke Wierenga. Seisoen van vreet, verlange en kooplus

’n Koel groen grot om in te hiberneer. Dis my Kerswens in die seisoen van jaag en kooplus.

’n Vriendin, vasgevang in die takelwerk van ’n liefdesdriehoek, sê anderdag: “Kersfees is nie in my hart nie – dit hang aan die takke van bome.”

’n Mens wonder wie, behalwe kinders en dié wat geld maak, hou eintlik van Kersfees. Dis eintlik so ’n hartseer seisoen. Seisoen van suip, vreet en verlange. Desperaatheid en eensaamheid. Al die melankolie van ’n hele jaar se skemerende Sondae in een dag saamgepers.

Uiteenlopende mense met uiteenlopende lewens en belangstellings word vir ’n ruk saamgegooi in die naam van bloed en familiebande, net om weer te besef hoe min ’n mens gemeen het.

Maar laat ek nie in die dieptes van morbiditeit afsak nie. Nie in die “donker vertroebelde slykwaters van die wanhoop spoel” nie (“Tram-ode”, Uys Krige). Laat ek vir my Kerskaartjies skep met mooi plekke, ervarings en mense waarheen ek my kan verplaas. Soos daardie tye in Kirstenbosch. Ek het in ’n woonstel in Wynberg gewoon en was uitgehonger vir grond, aarde, plante, water. Dan pak ek ’n rugsakkie met water, vrugte, neute en boeke, pen en papier, en beklim die ruigtes bo die mensgemaakte tuine. Langs ’n stroompie met bruin gesonde water grawe ek my vir die dag in, omring deur digte struike en groenigheid. Geen wrede tweebeendier kan my hier ongehoord besluip nie.

’n Hele dag in spikkelson, in slaap en lees en skryf. Sometimes I sits and thinks. Sometimes I just sits. ’n Mens besef nie tot watter mate jy afgewen het tot jy in jou motor klim en die pad huis toe vat nie. Jy kan nie vinniger as veertig kilometer per uur ry nie. Al probeer jy regtig, want jy weet hoe geïrriteerd jy self raak vir die slakke en droomverlore krappe op die pad. Maar jy kan eenvoudig nie meer skielik na vinnig oorskakel nie. Stadig kruie jy huis toe, maak dalk ’n teetjie en eet iets, en val dan weer in Morpheus se mollige arms.

’n Ander Kerskaartjie is ’n naweek by ’n Weskus-dorpie saam met vriende. Baie onderstrominge hier, nie net in die see nie, maar ook in die sê en die nie-sê tussen mense. Ná ’n swem in die see, so koud dat dit jou brand, lê ek en ’n vriendin in die son. Vriend N – voor hy afgetree het taamlik hoog op by een van Naspers se koerante – bied aan om ’n kleurmeditasie met ons doen. Presies wat hy gesê en wat ons gedoen het – of nie gedoen het nie – weet ek nie. Al wat ek weet, is dat die wonderlikste kleure deur my gespoel en ’n heerlike rus en vrede nagelaat het wat ten minste twee dae geduur het. Die aand was daar ’n groot visbraai by ’n lapa. Ek moes die een of ander kleur uitgestraal het, want drie groepe mans het hul kreefkaartjies vir my kom aanbied. Ons het die volgende dag nog kreef geëet – en die volgende dag.

’n Regte Kerskaartjie wat ek nou nog vertroetel omdat dit destyds vir my so kosbaar was, is ’n kaartjie met silwer blinkertjies van Kersvader en sy slee met presente. Dit was ’n duur kaartjie van die slimste kind in die klas: Dallas McCarthy. Ja, werklik, so ’n eksotiese naam in ’n lelike myndorp. Daar was ook ’n Emily O’Reilly en James Wright. Almal so Afrikaans soos kome kan.

Ek was nie juis in Dallas-hulle se klas nie – die groepie slim, ryk, mooi kinders. Ek was ’n immigrantekind met ’n snaakse naam en van, ’n spoorwegkind. Ek was dus uiters gevlei om die mooi kaartjie in st. 5 van haar te kry. En tot vandag toe nog loop ek haar in my drome raak en sê elke keer: “Ek het gewéét ek sal jou weer ontmoet.”

In hierdie tyd van verlange na geliefdes en mense wat jy nog nie ontmoet het nie, ou haltes en nuwes wat wag vir jou besoek, na dinge wat kon gewees het en dalk nog kom, slaan ek my ou staatmaker die Groot Verseboek oop en kyk, daar sê Uys Krige:

 

Daar is ’n haltjie, Dwaal,
te midde van die vaal
godverlore dor Karoo.
En Arequipa in Peru.
Granada is ’n sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl heet ’n berg se piek in Mexico.
Die laaste stasie voor my tuiste het die mooi Xhosanaam, Waku.
Terra del Fuego, Tristan da Cunha, Put-Sonder-Water,
Kilimandjaro en Ruitersbospas;
en die Brahmapoetra en Baardskeerdersbos …

O Aldarin! o name, o versugting!
Op Pelgrimsrus in die Transvaal
wil ek weer hoor hoe klink my taal
skoner, welluidender as Provencal.

En ek wil gaan na Avignon,
en ek wil sien hoe smeul die son
in die herfsblare by Tarascon.

O Aldarin, o name, o verlange!
Vry, sorgeloos en onbevange
wil ek diep asemhaal
weer op die vergestrekte kaal
Karoo – as vreedsaam-stil soos ’n wit vlug van duiwe daar die skemer daal …
en swart en soos ’n donker gees wat dool, die nag daar dwaal.
O snydend die suidersterre, sidderend skerp soos staal!

En ek wil sien
juis hoe
huppel die blou heuwels
by Waku.

En ek wil hoor hoe kla ’n kiewiet
deur die skemerende werfstilte melankoliek
as hy opstyg, vaal teen die bleek kim, daar dof klapwiek,
troosteloos en eensaam … O Stem van verdriet!
Maar o verniet …
Marseille bly Marseille,
word nimmer die droomstad van Golconda nie.
En die hart bewaar sy nostalgie.

O drome, o verlange
wat nou treur en sing
hul droewe sange
van herinnering …

(Uittreksel uit Uys Krige se “Tram-ode”)

Is dit Uys Krige wat gesê het: Die lewe is alleen draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is?

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Jelleke Wierenga. Seisoen van vreet, verlange en kooplus”

  1. Pieter Wolmarans :

    Jelleke, soos altyd is ook hierdie blog van jou aangrypende leesstof. Dankie daarvoor. Veral vir die lieflike gedig van Uys Krige. ‘n Mens is so geneig om te vergeet watter uitstekende digter hy was. Enig in alle opsigte.

  •