Andries Bezuidenhout. ʼn Man kyk: Vertaling van ʼn gedig deur Atwood

ʼn MAN KYK
(Vertaling van ʼn gedig deur Margaret Atwood)

ʼn Man kyk na ʼn pragtige vrou
wat hom by ʼn deur probeer inhelp,
hom en sy beenstut: lomp getimmerde
karapaks van metaal,
skrapnel aan sy lyf se buitekant
uit ʼn oorlog waarvan hy moes vergeet het
of nooit in geveg het nie. Een of ander priem
haak daar onder vas. Sy buk vooroor
en hy kyk na haar bekoorlike kruis, dink kruis,
dan dink hy: peer op ʼn piering,
en onderaan, twee appels.
Hy kan nie glo hoe banaal hy kan wees nie,
soos ʼn slordige, tweedehandse skilder,
en s
ó van haar verwyder. Is daardie nie dye nie?
Is hierdie nie hare nie? Hy maak die bene oop, streel die hare,
niks roer nie. Hy dink harder, probeer vulva;
ʼn woord soos ʼn motorenjinonderdeel,
iets uit rubber, ʼn olierige klep
wat saampers en dan omdop.
Hopeloos. Eens
sou hy haar kon ruik,
prikkel van lentevlei en sagte ui
gemeng met skugter reukwater,
knoopsgaatjie en kieliebak, benewens dit
die neurie van wilgers, sonnige loof
van kruid gekneus onder haar lyf,
maar nou’t sy geen stralekrans van di
é aard nie.

Sy staan op en glimlag vir hom,
ʼn glimlag so deurskynend
dat hy daarin kreukel, soos die vlies
op gekookte melk.
Hy’s bloot bagasie vir haar,
wat sy van kamer tot kamer moet sleep,
of ʼn siek hond wat genade vra.
Sy s
ê: “Sal ons weer probeer?”
Hy dink: Ek is kwaad. Sy neem sy arm.
Hy dink: Ek gaan binnekort dood.

Oorspronklike gedig: “A Man Looks” uit Margaret Atwood se Morning in the Burned House (1995, Houghton Mifflin), pp. 37-38.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. ʼn Man kyk: Vertaling van ʼn gedig deur Atwood”

  1. Charl-Pierre :

    Hierdie is presies die soort vers wat as beligting kan dien by my opstel oor ritmisiteit in die Afrikaanse vers, wat in die Essay-kamer te sien is. Tot baie onlangs sou hierdie tipe vers – heeltemal verkeerdelik – as prosadigkuns in Afrikaans deurgegaan het. Maar Andries, by the same token, is hierdie vertaling waarskynlik nog nie afgehandel nie, hoewel dit metries goed op pad is. Gaan weer teurg na die Engels van Atwoord, kyk na die klankpatrone, dis onopsigtelik maar DAAR. En as jy dit nie vertaal nie, sal jy ‘n substituut vir daardie klankpatrone moet vind.

  2. Charl-Pierre Naude :

    Trouens, tot met ons tyd is dit eenvoudig nie in Afrikaans geskryf nie. Die digter Lucas Malan het dit beskryf as digkuns wat “in en uit konvensionele poetiese patrone beweeg”, en Bernard Odendaal gee soortgelyke beskrywings. Dit sal goed wees as jy hierdie vertaling verfyn en aan die vertaalkamer voorle? Kyk na die patrone: “man”/woman/him/clum(-sy)//ham(-erred)/(forgot-)ten. En veral die klamdraende “fought/ caught. En “door/or/for(-gotten). Aan die einde: soon/room en skin/him/again. Die gedig eindig op ‘n rymwoord, wat dit sluit.

    Die mooie van ‘n gedig soos hierdie is dat daardie patrone heeltemal per ongeluk lyk. DIT is kruks van die vertelvers.
    Ek hoop nie ek is nou intrusive nie, Andries. Jou vertaling het my maar net tot nadenke gestem. Sterkte! Ek geniet jou blogs.

  3. Andries Bezuidenhout :

    CPN, dankie vir kritiese, maar konstruktiewe kommentaar. Ek is nogal trots op “knoopsgaatjie en kieliebak” vir “eyelit and armpit” – ritmies dalk heel verskillend, maar ek het probeer klankmatig werk daar. Die verskillende betekenisse van “eyelit” kon seker ander opsies ook suggereer, plekke waar vroue sweet. (“Ogie en oksel?” Klink net nie reg nie.) Helaas, vir elke oplossing boet jy elders in. Wat binnerym betref het ek probeer kompenseer met reukwater, neurie, kreukel; ruik, ui, kruid. Ek skat met ‘n vertaling van hierdie tipe vers moet jy ook met die klankmatigheid van die taal werk waarin jy vertaal. Omdat die rym op toevallige plekke val, kan dit die geval in die vertaling ook wees, dink ek. Met ʼn vertaling van Larkin het ek ʼn slag raad gevra by een van my dosente en ʼn interessante gesprek het gevolg, oor of ʼn mens die presiese rymstruktuur (“Old Fools” s’n byvoorbeeld) moet volg. Wat ek uit die gesprek gekry het, is: “Solank dit breedweg dieselfde doen.” Dalk is die posisie nie puristies genoeg nie. Wat metrum betref het die jare in ʼn rock band dalk my oor doof gemaak vir die subtiliteite wat jy optel.

  4. Charl-Pierre :

    “knoopsgaatjie en kieliebak” is great, Andries. “ogie en oksel” is glad nie sleg nie. Ek verkies dit.

    Dit sal goed wees om Marlene, of Danie se insette te kry. Speel dit dan af teenoor myne. Punt is insette is daar om te inkorporeer op JOU manier, want jy is die vertaler. Dit lei dikwels na ‘n derde opsie. Dis waar dat Afrikaans ryker is in die plofklanke as Engels, maar ek vind haar ook nie te arm in binnerym nie. As musikant is jou gevoel vir “framing” en ryme darem heerlik, ek sal nie weet wat die verskille is met wat mens hier doen nie. Ja, ek dink musiek se metriese sintuie is meer “up front”.

    Die vorm van vertaling wat ek self ondersteun is omskrywing, nie purisme nie, maar mens moet probeer om getrou te wees. Nou ja: Daar is verskillende vorms van getrouheid, vra maar die dominee, die dominee se vrou en die posman…

    Helaas, Andries, daai laaste rym dink ek moet jy probeer inkry. Sterkte.

    Dit het my nogal gehelp om iemand anders te gebruik as klankbord tydenes die slyp van my vertaling van Raymond Carver se spreektalige gedig wat in die Vertaalkamer op is. Dit was met Johann de Lange. Ek het toe my eie geneigdheid tot oorskrywing met bepaalde voorstelle betreffende getrouheid saam ingespan, en ek dink die vertaling werk nou. Gaan kyk wat jy dink.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Charl-Pierre, jou insette waardeer ek baie en neem dit ter harte. ‘n Vorige poging met Atwood het ‘n heerlike gesprek hier veroorsaak: https://versindaba.co.za/2010/11/02/n-vertaalde-gedig-oor-n-digter-met-n-geel-oortrektrui/
    Ek het die terugvoer baie leersaam gevind. Ek vertaal gedigte nie om te vertaal nie, maar as oefening om te skryf (en om te lees!). Die meeste Afrikaanssprekende lesers van gedigte kan immers Engels self verstaan. As ek tyd en engergie het, werk ek aan ‘n volgende weergawe van “‘n Man kyk”, met rym aan die einde.

  6. Andries Bezuidenhout :

    Goeiste, waar’s my spelling? Eyelet.

  7. Charl-Pierre Naude :

    En ek wil ook iets korrigeer: met “oorskrywing” hierbo bedoel ek “omdigting”.

  •