Gustave Flaubert (1821 – 1880)
“Madame Bovary, c’est moi”.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Lewe geen Kasteel van Harte
nadat Louise Colet jou verlaat;
uitgespeel in die Revue de Paris.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Teenstand word jou muse:
vriende en vertrouelinge
afwysend oor jou kontrapunt.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Skryf vir jou ‘n perpetuele orgie,
‘n onnoembare, steurende ekstase,
beter as ‘n Sentimentele Opvoeding.
Altyd op soek na “le mot juste”.
In vele hoerhuise besoek jy
prostitute van beide geslagte:
dra ‘n Kaïnsmerk van dié vergrype.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
Niemand kon soos jy afwysing verdoesel,
‘n afsêbrief onder ryp appelkose plaas,
én liefdesonvreug uitspeel tot ‘n slotakkoord.
Altyd op soek na “le mot juste”.
Immer geskryf in afsondering en stilte.
© Joan Hambidge. April 2011