
Winburg is in 1842 as dorp geproklameer, dus een van die oudste Vrystaatse dorpe (ek dink Philippolis is ouer). Ek hou van die dorp se plein – veral die kerkgebou (in 1899 gebou), maar ook die munisipale kantore. ʼn Ou hotel se balkon kyk op die plein uit, maar dit word deesdae ʼn “lodge” genoem en die mooi fassade is deur ʼn konstruksie (ʼn tipe ingang) van hout en gras (lapa-styl) ontsier.
Die kerk in die foto’s hier word die Klipkerk genoem. Histories was daar struwelinge tussen die lidmate – Sappe en Natte, soos op baie ander dorpe. Tydens die rebellie van 1914 het die twee kampe blykbaar met gelaaide pistole en rewolwers langs mekaar in die kerkbanke gesit. Die Natte, of “gesuiwerdes”, het in 1917 ʼn alternatiewe gemeente gestig. Daar is dus ook ʼn ander NG Kerkgebou in Winburg, die Rietfonteinkerk, wat in die 1940s opgerig is. Dit het as die Nat-Kerk bekendgestaan en die Klipkerk as die Sap-Kerk.
Die vooraansig van die kerk het meer uitvoerige detail, maar die son het aan die kant geskyn waar ek die foto’s geneem het. Vrystaatse sandsteen is die mooiste teen sonsondergang – amper soos die kranse by Golden Gate.

Is dit dalk waar die uitdrukking “Die koeël is deur die kerk” vandaan kom?! 🙂