
Inhoudswaarskuwing: Hierdie artikel bevat grafiese verwysings na geweld, seksuele aanranding en moord wat sommige lesers mag ontstel.
Jack Unterweger: biografiese oorsig
Bestaan daar iets soos ’n “literêre” reeksmoordenaar? ’n Gevierde skrywer-of-digter-as-reeksmoordenaar?
Inderdaad. Daar is niks nuuts onder die son nie. Behalwe: ’n Skrywer, digter en reeksmoordenaar klink nogal na ’n paradoks – of eerder: ’n totale kontradiksie.
Johann Unterweger (1950–1994) was ’n Oostenrykse reeksmoordenaar wat minstens 12 vroue vermoor het in Oostenryk, Wes-Duitsland, Tsjeggo-Slowakye en die VSA.
Hy is op 16 Augustus 1950 in Judenburg gebore as Johann Unterweger. Sy moeder was ’n kroegmeisie en prostituut wat gereeld met die gereg gebots het vir misdade soos bedrog en diefstal, en sy pa was ’n Amerikaanse offisier wat vroeg reeds uit Unterweger se lewe verdwyn het.
Hy het uitdagende kinderjare gehad: verskeie pleegouers en ’n gewelddadige oupa wat gereeld sekswerkers huis toe gebring het; die jong Unterweger moes noodgedwonge toekyk hoe ondenkbare groepseks voor hom uitspeel. Hy het van kleins af, na analogie van hierdie voorbeeld, geleer dat vroue bloot seksobjekte is wat jy kan weggooi.
As tiener en jong volwassene is Unterweger herhaaldelik skuldig bevind aan diefstal, inbraak, aanranding, pooieraktiwiteite en seksuele aanranding (16 skuldigbevindings tussen 1966 en 1974).
In Desember 1974 het hy die 18-jarige Margret Schäfer in Duitsland vermoor: hy het haar geslaan, met ’n ysterstaaf verkrag en met haar onderklere verwurg. Sy MO, soos in die geval van al sy slagoffers, was ’n ingewikkelde, outentieke (en nie maklik nabootsbare) knoop in die bra’s of broekiekouse, waarmee Unterweger hulle verwurg het. Hy is na sy eerste skuldigbevinding gediagnoseer as ’n sadis – want met verwurging, hetsy met ’n seksuele predatoor se kaal hande of ligature, is die gesig van ’n aanvaller baie na aan die van die slagoffer. Dit gaan oor mag, beheer en kontrole: die moordenaar kan enige oomblik die daad voltrek tot die dood, óf stop. Unterweger se tweede en derde diagnoses sluit in dié van ’n antisosiale, sowel ’n kwaadwillige narsistiese persoonlikheidsversteuring; met ander woorde, eersgenoemde is in omgangstaal beter bekend as psigopatie. Hy is in 1976 tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
In die tronk het hy begin skryf (kortverhale, gedigte, toneelstukke en ’n outobiografie, naamlik Fegefeuer oder Die Reise ins Zuchthaus (Vagevuur, of die reis na die tronk). Hy het bekendheid verwerf as Häfenpoet (tronkdigter), en in die VSA beter bekend as Jack the writer (’n parodie op Jack the ripper).
Unterweger se werk is deur prominente intellektuele en literêre elite as bewys van rehabilitasie gesien. Ná ’n mediaveldtog en grootskaalse petisies (ondersteun deur skrywers soos Elfriede Jelinek en Günter Grass), asook enorme druk op die regstelsel, is hy in Mei 1990 op parool ná slegs 15 jaar van sy lewenslange vonnis vrygelaat.
Kort na sy vrylating het hy as misdaadjoernalis begin werk. Hy het ’n gevierde glans- en mediapersoonlikheid geword en was besonder gewild as gasheer en aanbieder van televisieprogramme oor korrektiewe rehabilitasie.
Maar binne maande na sy vrylating het hy weer begin moor – en al sy slagoffers was wéér, soos met sy eerste moord, sekswerkers. Sy bloedspoor loop deur Tsjeggo-Slowakye: Blanka Bočková (September 1990); sewe prostitute in Oostenryk, tussen Oktober 1990 en Mei 1991; en in die VSA, Los Angeles, drie sekswerkers tussen Junie–Julie 1991. Die ironie en vermetelheid skrei ten hemele. Unterweger het in die berugte Cecil Hotel in Los Angeles tuisgegaan terwyl hy as ondersoekende joernalis verslag gedoen het oor prostitusie (en oor sy eie moorde!) Die Cecil was, interessant genoeg, dieselfde hotel waar die moordenaar, Richard Ramirez, die sogenaamde “Night Stalker” dié hotel as veilige hawe gebruik het tydens sy moordveldtog in 1985 waartydens hy 13 vroue vermoor het. Hy het ná die moorde sy bebloede klere in die asblik in die stegie gegooi en in sy onderklere na sy hotelkamer geloop, sonder dat enige iemand iets gesê het. Daar is kenners wat gespekuleer het dat Unterweger die Cecil doelbewus gekies het as ’n soort huldeblyk aan, of nabootsing van Ramirez, omdat die hotel met die Night Stalker geassosieer is.
Met al die moorde was Unterweger se MO konsekwent: hy het sy slagoffers met brutale geweld geslaan, hulle seksueel met voorwerpe aangerand (terwyl hy homself bevredig het), en dan met hulle eie onderklere verwurg. Die duimafdruk van hierdie misdade was duidelik: híér is ’n moordenaar wat ’n geweldige haat teen vroue gekoester het.
Unterweger is in Februarie 1992 in Miami, Florida, gearresteer en aan Oostenryk uitgelewer. In Junie 1994 is hy skuldig bevind aan 9 moorde (maar daar was na beraming 12-14 slagoffers), en hy is weer tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Dieselfde nag het hy homself in die tronk in Graz gehang met ’n tou van skoenveters asook ’n sweetpaktrui wat hy gevleg het – met dieselfde, outentieke knoop wat hy met sy al slagoffers gebruik het en wat so kenmerkend van sy MO was. Maar volgens die Oostenrykse regsisteem het hy in die oë van die gereg steeds “onskuldig” gesterf, omdat hy appèl aangeteken het teen sy skuldigbevindings en die appèlproses nog nie afgehandel was nie.
Jack Unterweger as literêre en mediakonstruk
Die Oostenrykse (en Duitse) literêre elite het Unterweger aktief ondersteun, en as bewys van suksesvolle rehabilitasie deur middel van kuns/literatuur gesien. Hulle het petisies onderteken en in die openbaar druk uitgeoefen vir sy vroeë vrylating in 1990.
Elfriede Jelinek (’n latere Nobelpryswenner) het sy outobiografie, Fegefeuer geprys vir die “helderheid” en aangrypende literêre impak waarmee hy sy kinderjare beskryf het. Jelinek was een van die prominente ondertekenaars van die petisie. Later (na die onthulling van die tweede golf moorde) het sy gesê dit “kan eenvoudig nie dieselfde mens wees wat Fegefeuer geskryf het nie” – ’n erkenning van hoe Unterweger se literêre persona haar (en ander) mislei het. Figure, soos die veelbekroonde Günter Grass, ook ’n latere Nobelpryswenner; Erich Fried; Ernst Jandl; Barbara Frischmuth; Peter Huemer, wat beweer het sy outobiografie “was outentiek, ’n opregte hulpkreet”; die redakteur van Manuskripte, Alfred Kolleritsch: (“Hy was so sensitief”), en die aktrise, Erika Pluhar, het Unterweger openlik gesteun. Hulle het teer na hom as die “Häfenliterat” of “Knastpoet” (tronkskrywer) verwys – ’n suksesverhaal van rehabilitasie, katartiese verlossing en innerlike genesing deur skryfwerk.
Die diskoers was dat literatuur die “gees” transformeer. Unterweger se tekste (alhoewel bewyse van plagiaat en swak eie skryfwerk later aan die lig gekom het), is as bewyse van innerlike transformasie gelees. Die elite het geglo dat ’n misdadiger deur verbale self-ondersoek genees kan word.
Die literêre toneel, media en Weense gemeenskap het saamgewerk om van Unterweger ’n celebrity te maak: Sy boeke was topverkopers, Fegefeuer is verfilm, sy kinderverhale is oor die radio uitgesaai, en hy het as joernalis vir die ORF (Österreichischer Rundfunk) gewerk – ironies genoeg oor die moorde wat hy self gepleeg het.
Die kulturele elite se goedkeuring het legitimiteit en literêre kapitaal aan Unterweger verleen. Media-aandag en die salonkultuur van die dag het aan hom ’n platform gegee om die rol van die hervormde skrywer te speel.
Dit illustreer die mag van diskoers en kulturele instellings: literatuur en die media kon ’n “geval” skep (die rehabiliteerde misdadiger) wat politieke en regsinvloed gehad het as uitvloeisel van ’n groter liberale, linkse intellektuele klimaat, kenmerkend van die Zeitgeist van die laat 80’s, vroeë 90’s.
Ná die onthulling van die moorde en Unterweger se selfmoord, het die elite dit as ’n katastrofale misleiding bestempel. Malte Herwig (in Austrian Psycho, 2024) kritiseer die “Freipressung” (die gedwonge vrylating van Unterweger deur die kultuurgemeenskap); en wys hoe manipulasie (psigopatie + ’n literêre persona) die elite se idealisme uitgebuit het.
Unterweger se glanspersona: die manipulasie

Jack Unterweger was ’n klassieke voorbeeld van ’n flambojante, ydel, narsistiese en manipulerende persoonlikheidstipe – veral in hoe hy homself as gerehabiliteerde skrywer en kultusfiguur gepresenteer het. Hy is deur deskundiges, waaronder die forensiese psigiater Reinhard Haller, beskryf as ’n “klassieke, kwaadwillige narsis” (malignant narcissist) met psigopatiese, sadistiese, histrioniese en paranoïede eienskappe.
Na sy vrylating in 1990 het hy homself as ’n glansryke, mediavriendelike persona geposisioneer. Hy het in wit sypakke met rooi angeliere in die knoopsgat in die publiek verskyn; ’n BMW of Mustang bestuur, sy skaaphond saamgeneem na koffiewinkels, en vir modefotosessies geposeer. Hy het TV-programme oor korrektiewe rehabilitasie aangebied, in literêre kringe en partytjies van die Weense Schickeria beweeg, en homself as ’n suksesvolle Häfenliterat en later as joernalis en dramaturg voorgehou. Sy styl was selfbewus teatraal – “prison chic” gekombineer met ’n dandy-agtige voorkoms – want hy het inderdaad aandag en bewondering geniet. Image was vir hom uiters belangrik; hy het homself met hoëstatusfigure geassosieer (en selfs in Los Angeles probeer om by sterre soos Zsa Zsa Gabor of Cher in te skakel).
Hierdie flambojansie was nie net estetika nie, maar ’n manier om status te geniet – tipies van narsistiese selfvertoon.
Haller en ander het hom as ’n prototipe van kwaadwillige narsisme beskryf: Hy het ’n oordrewe behoefte aan bewondering gehad, was hipersensitief vir kritiek en het min tot geen werklike empatie getoon nie (alhoewel hy kognitiewe empatie gehad het – hy kon verstaan wat ander voel om dit te manipuleer of na te boots in sy skryfwerk). Sy autobiografie, Fegefeuer en ander werk was selfverheerlikend en selfverduidelikend; hy het sy misdade as ’n Freudiaanse drama oor sy moeder en jeug voorgehou, en as bewys van geneesde insig. Hy het plagiaat gepleeg (o.m. van Hermann Hesse), en sy eie werk as literêre triomf aangebied, terwyl kritici later opgemerk het dat baie daarvan swak, of bloot gesteel was. Hy het homself as die suksesvolle rehabilitasiegeval van Oostenryk se strafregstelsel gepresenteer en die applous van die wêreld se grootste intellektuele (waaronder Elfriede Jelinek en Günter Grass) geniet.
Narsisme het ook in sy verhoudings gemanifesteer: hy het talle vroue (vriendinne, toevallige minnaresse, selfs briefwisselings met bewonderaars – tot 42 briewe op een dag) gemanipuleer en uitgebuit, dikwels deur hulle te laat glo hy is ’n bekwame minnaar of “gelouterde slegte seun”.
Unterweger het die talent gehad om mense te lees en met sy sjarme te betower. In die tronk het hy sy skryfwerk strategies na invloedryke persone gestuur. Intellektuele en aktiviste het sy openhartige belydenisse as bewys van rehabilitasie gesien (“as hy so openhartig skryf, móét hy genees wees”). Hy het die narratief van die gelouterde booswig wat deur kuns gered is, perfek gespeel, en petisies en steun gemobiliseer om vroeg vrygelaat geword.
Ná sy vrylating het hy hierdie rol voortgesit: hy het as joernalis oor die moorde berig wat hy self gepleeg het, met die polisie saamgewerk en die media se aandag geniet. Hy het vroue, owerhede, die kultuurgemeenskap en die publiek gemanipuleer deur te lyk soos dit wat hulle graag wou sien – die suksesvolle, gerehabiliteerde geval. Haller het opgemerk dat hy hierdie rol tot die einde “perfek deurgevoer” het. Die manipulasie het hom ’n intense gevoel van superioriteit en plesier gegee; hy het geniet om mense te mislei. Sy skryfwerk was deel van hierdie manipulasie: selfbelydend, literêr verpak, maar in wese ’n instrument om vryheid, status en mediadekking te verkry.
Unterweger se flambojansie en ydelheid was bloot die uiterlike vertoon van sy narsisme; sy skrywerskap en “rehabilitasie”-persona was die mees gesofistikeerde vorm van manipulering. Hy het nie verander nie – hy het net die rol van die veranderde man briljant gespeel totdat die werklikheid (die nuwe moorde) dit onthul het. Deskundiges beklemtoon dat dit nie ware insig of berou was nie, maar slegs die prestasie van ’n psigopaat.
Die mite van die literêre genie; bewerings van plagiaat
Sommige populêre Engelse bronne beweer Unterweger was “previously illiterate”, of het eers in die tronk leer lees en skryf. Dit is oordrewe en onwaar. Meer presiese Duitse biografiese bronne bevestig dat hy nie sy skoolloopbaan voltooi het nie, maar in die Justizanstalt Stein-gevangenis enkele skoolvakke voltooi het. As gevolg van Unterweger se geskiedenis van wisselvallige pleegsorg, misdaad en werkies as hotelkelner wat hy sedert sy tienerjare gehad het, het sy skoolloopbaan agterweë gebly. Maar een ding is seker: Hy was hoogs intelligent; kon ’n werk as ondersoekende joernalis by die ORF hou en het jare in die tronkbiblioteek deurgebring waar hy as outodidak homself (literêr) leer lees en skryf het. Sy lees- en skryfvaardighede was elementêr toe hy tronk toe is, maar hy het wel ’n korrespondensiekursus in vertelkuns in die gevangenis voltooi. Die mite van Unterweger as literêre genie is egter ver van die waarheid – die tekste wat vir hom roem besorg het, is deels geplagieer (kinderverhale van Sonja von Eisenstein, gedigte van Hermann Hesse), of sterk geredigeer deur ánder simpatieke skrywers terwyl hy in die gevangenis was. Die “tronk-as-skryfskool”-mite is dus deels waar, maar die “literêre genie”-mite was deel van Unterweger en die media se rehabilitasienarratief.
Voorbeelde: Unterweger se poësie
Love Poem to Death
You still seem strange and distant
And lively, Death . . .
But one day you will be close
And full of flames.
Come, lover, I am there.
Take me, I am yours.
A slightly longer rendering from secondary sources:
You come to me again, you don’t forget me.
Until the end is the agony and the chain breaks.
Still you appear strange and distant and are alive, death.
You stand like a cool star over my distress, but then you will be near and full of flame.
Come, lover, I am here.
Take me, I am yours.
© Jack Unterweger
*
Ich lebe im Abseits.
Mein Name ist registrierte Nummer.
Meine Taten wurden zum Fall.
Mein Bild klebt im Akt, dreifach.
Und wenn die Vergangenheit mich überfällt,
wüte ich gegen mein Bewusstsein.
Langsam verschwindet alles im Nebel,
in dem die Freiheit stirbt.
Unscheinbar überzieht es die Gegenwart.
Ich vernichte das Damals,
solange ich mein Hirn noch bewältigen kann.
© Jack Unterweger, Tobendes Ich (1982)
Foucault/Unterweger: die rol van die outeursfunksie
Uit bogenoemde raak dit duidelik hoe kulturele prestige en die mag van die media selfs die grootste intellektuele kan mislei; en hoe die “outeursfunksie” (aka Foucault) ’n gevaarlike realiteit kon skep.
Dit sluit direk aan by Foucault se idees oor mag/kennis, die produksie van die “delinquent”, en die diskoers van rehabilitasie: die literêre elite het deelgeneem aan die konstruksie van Unterweger as ’n genormaliseerde subjek. Die gevangenis (en die gepaardgaande diskoers van rehabilitasie) het nie misdaad uitgeskakel nie, maar ’n spesifieke tipe delinquent geskep – een wat polities en kultureel bruikbaar was (die “tronkdigter” as simbool van hoop). Die mislukking van hierdie rehabilitasie (Unterweger se hernude moorde) illustreer egter Foucault se beskouing dat die gevangenis dikwels residivisme produseer eerder as om dit te voorkom:
“For the observation that prison fails to eliminate crime, one should perhaps substitute the hypothesis that prison has succeeded extremely well in producing delinquency, a specific type, a politically or economically less dangerous – and, on occasion, usable – form of illegality…”
Want vir Foucault is mag en kennis inderdaad onlosmaaklik vervleg: “We should admit rather that power produces knowledge … that power and knowledge directly imply one another …”
Die misdadiger word nie net gestraf nie, maar as ’n “geval” geproduseer deur mediese, psigiatriese, kriminologiese en literêre diskoerse.
Unterweger se kinderjare (verlatings, geweld), sy Freudiaanse selfbeskrywing van haat teen sy moeder, en die literêre uitbeelding van sy innerlike demone het van hom ’n verstaanbare, amper verromantiseerde figuur gemaak.
Foucault onderskei tussen die biologiese individu en die “outeursfunksie”, oftewel die outeur, wat ’n funksionele beginsel is wat diskoerse organiseer, beperk, klassifiseer en legitimiteit daaraan verleen. Die outeur is nie die bron van betekenis nie, maar ’n produk van kulturele en institusionele praktyke.
Unterweger se status as skrywer (en die twyfel of hy alles self geskryf het, met bewerings van plagiaat) is ’n goeie illustrasie. Sy tekste het nie net “sy siel” uitgedruk nie; die outeursfunksie “Jack Unterweger – die hervormde misdadiger-skrywer” het die tekste legitimiteit, literêre waarde en politieke krag gegee. Dit het die diskoers van rehabilitasie moontlik gemaak en intellektuele ondersteuning gemobiliseer.
Met die oorspronklike titel: “Qu’est-ce qu’un auteur?” (Wat is ’n outeur?) het Foucault in Februarie 1969 ’n lesing gelewer voor die Société française de philosophie in Parys, en die konsep van die outeursfunksie (fonction-auteur) as ’n diskursiewe, historiese en institusionele konstruk uiteengesit. Hy beskryf hoe die outeursnaam tekste klassifiseer, reguleer, beperk en met status laai, en hy onderskei dit van die werklike skrywer.
Jack Unterweger is in 1976 tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Margret Schäfer. Binne die gevangenis, Justizanstalt Stein, begin hy skryf. Die tekste (digbundel: Tobendes Ich, die outobiografiese roman Fegefeuer oder Die Reise ins Zuchthaus, toneelstukke, kinderverhale, en Unterweger se literêre tydskrif, Wort-Brücke) word nie bloot as literatuur gelees nie, maar as bewyse van rehabilitasie. Die outeursnaam “Jack Unterweger” word nou ’n juridiese en morele instrument: dit dien as bewys dat die gevaarlike individu gerehabiliteer is. Intellektuele (onder andere Elfriede Jelinek, Ernst Jandl, Günter Grass en ander) beywer hulle aktief vir sy vrylating júís op grond van hierdie outeursfunksie. In 1990 word hy op parool vrygelaat – die outeursfunksie het letterlik die strafregtelike subjek getransformeer van “lewenslange moordenaar” tot “suksesvolle literêre voorbeeld”.
In die gevangenis en kort daarna funksioneer Unterweger se naam as ’n handelsmerk: die tekste word as outentieke, belydende, “geboorde-uit-die-hel”- literatuur gelees. Fegefeuer word ’n topverkoper; dit word verfilm, in skole voorgeskryf, en sy kinderverhale word op die ORF (Oostenrykse radio) uitgesaai. Die outeursnaam klassifiseer en bemagtig Unterweger se oeuvre as bewys van menslike transformasie.

Ná sy tweede golf moorde (1990–1991) en die herverhoor in 1994 verander die outeursfunksie radikaal. Dieselfde tekste word nou gelees as manipulasie, plagiaat en (self-)bedrog. Daar bestaan sterk twyfel of Unterweger Fegefeuer alleen geskryf het (stylanalises en gerugte verwys na moontlike medewerking of swaar redigering deur ondersteuners soos Sonja von Eisenstein). Hy het gedigte (o.m. van Hermann Hesse, en kinderverhale van Von Eisentein) as sy eie aangebied. Die outeursfunksie wat eers “redding” gesimboliseer het, word nou ’n teken van bedrog en gevaar. Die naam “Jack Unterweger” klassifiseer nie meer die tekste as literatuur nie, maar as simptome van forensiese teksanalises en die wapens van ’n reeksmoordenaar.
Na 1994 bly die outeursfunksie voortbestaan, maar in ’n omgekeerde vorm. Unterweger se oeuvre word nou deel van true-crime-diskoers, ironiese teaterstukke (soos The Infernal Comedy met John Malkovich in die hoofrol), films, boeke, en heavy-/death-metal-albums waarin sy downfall deur growlers uitgegil word. Die naam “Jack Unterweger” funksioneer steeds klassifiserend – maar nou as die “digter-moordenaar”; die “Vienna Woods Killer” wat met woorde, sowel as met ligature, gewerk het.
Die outeursfunksie by Unterweger is onlosmaaklik verbind aan mag. Dit het hom vryheid gegee, toegang tot media, status, en die moontlikheid om as joernalis self oor sy eie misdade te berig. Dit het ook ’n bepaalde kennisproduksie moontlik gemaak: die idee dat literatuur kan “red” en dat die misdadiger deur selfuitdrukking genees kan word. Toe hierdie kennis in duie stort, word die outeursfunksie self ’n historiese artefak wat van mag, illusie en geweld ontbloot is.
Verwysings:
Bouchard, D.F. (red.). 1977. Michel Foucault. Language, Counter-Memory, Practice: Selected Essays and Interviews. New York: Cornell University Press.
Speelfilm: Jack (Jack Unterweger – Poet. Verführer. Serienkiller.) 2015. Elisabeth Scharang. Österreich.
The FBI Files: Jack Unterweger: Austria’s Serial Killer Caught by the FBI. YouTube.
Herwig, M. 2024. Austrian Psycho. Wene: Molden Verlag.
Rabinow, P. (red.). 1984. Foucault Reader. An Introduction To Foucault’s Thought, With Major New Unpublished Material. New York: Pantheon Books.
Unterweger, J. 1982. Tobendes Ich. Bläschke-Verlag: St. Michael Darmstadt.
Unterweger, J. 1983. Fegefeuer oder die Reise ins Zuchthaus. Augsburg: Maro-Verlag.
Artikel: Wikipedia. Jack Unterweger. https://de.wikipedia.org/wiki/Jack_Unterweger
(25 September 2026 besoek)
