Sydda Essop. engel
engel
1
ek onthou vaagweg in ‘n droom:
in die laatmiddagson ; bruin vingers tussen knoffelhuisies
en groen gemmer lote
begrawe in growwe bruin grond
‘n lang tyd gelede
het ek die stemmige gees van my ouma ontdek
elke dag het sy ritualisties bruin hande tussen katoenrolle
en materiaal van suiwer sy begrawe
en goedsmoeds, in ‘n spieël, haar nuutste besending kerkhoede
aan die Christenvroue vertoon
in die vroeë nag het sy haar tenger, trae liggaam langs my neergegooi
tussen twee wit lakens; haar liggaam die reuk van sitroengras
en weemoedig na my oupa geluister:
van vêraf stories van vergete lande;
van bruin mense onder die druk van die Britse ryk
en die woelinge van Strijdom en sy trawante
in die laat donker nag het sy my drome oorhaal
‘n genie in ‘n bottel het sy my onbeskaamd met haar toorkuns op die mat gevoer
na vêraf lande
van vergete fraai meisies in katoen landerye
2
in die vroeë oggend môre
het die vlam van haar kersie die huis besit
en ritmies het sy die swart kolestoof aangesteek
en die geeste onder die kerk vloer verdryf
verlate het sy haar lot aan God betuig, trane het gevloei:
vrylik oor dié wat sy agtergelaat het
verberg in haar gebed:
van brandarm meisies met bebloede vingers tussen katoen landerye
© Sydda Essop/ Mei 2011
Wonderlik om ‘n nuwe gedig van jou te lees, Sydda.
Dankie Lewies!
What a soulfull piece of work.