Lewies Botha. Huisbesoek e.a. verse
Huisbesoek
Ek ontmoet ʼn Engelse Naudé;
ʼn loodgieter met ʼn Landrover en skipperke brak
en soos dit maar is as die vrouens loop en die kinders
eenkant op swaaie swaai en die skipperke brak
onder jou voete kom lê
vlieë die oorskiet braai besoek
vet soos murg in die son skitter
aartappelslaai suurderig vergaan
ons herken dit in mekaar;
die versigtig vleis omdraai,
die innig streel oor seunskoppe,
die hoeveelste bier, die stilweg kak opvreet.
Hy was ʼn diensplig Luitenant, vertel hy;
LT NAUDE in breë swart letters vasgestik
bo sy songebleikte browns se hempsak,
en op die lapelle; die pips soos voëlkak
blertse. Behalwe ballas bak moes hy elke goddelike dag
(gereeld maar ontydig), so was die opdrag
ʼn herhalende ritueel uitvoer;
Wag voor die tuinhekkie
vir die gordyn om te roer;
soms sal die ou man loer
die voordeur swaar oopskuiwe
(winters sal droog en wit wees,
somers ook)
die tuinpaadjie,
ʼn lang sementgrys tapyt
langs
sal hy kom
en jou register bewerig teken;
Beyers Naudé.
Nadoodse ondersoek
My vriend, die man van Pole
ʼn patoloog met ʼn kennersoog
vir die fyner dinge van die dood
dans ʼn Salsa met sy Uruguayaanse uurglasvrou
en vertaal die blosende Spaans soos hy dans
ter wille van sy giggelende gaste.
(Jou kombers en my matras en daar lê die ding)
Naweke word wilde sampioene in die woude
versamel en waterverfskilder werke
van ou geboue van Gdansk geraam.
ʼn Aangename man, my bleek vriend van Pole,
hy berei ʼn ghoelasj van volstruis
en bedien ʼn goeie Kaapse wyn.
Ek nooi hom oor vir ʼn braai
en kyk hoe hy smul aan ʼn sny vleis,
gemoedelik met vroulief ʼn dansie draai.
Ek gaan skep asem buite, daarbinne
wink my Poolse vriend ,
weerkaats in die glasskuifdeur,
lag die maan gedreineer
deurskynend soos my lyf
wat ek sien lê; voor my vriend
gekruisig op koue staal.
Karnaval op Potchefstroom(1988)
Ons buffel vaar deur die strate
ons wieg op ʼn staaltrog water
die beskerming wat skrapnel
sal stuur, weg van ons knaters
rug teen rug staaldakke knik
R-viere soos kieries magasyne vol.
Die vyand loop met Checkers sakke
en stoot draadkarre tussen brand tyres
skooldogters laat los die springtoue,
tel hulle rokkies hoog op;
swart driehoekies,
vuisies in die lug.
Ons korrel skyfskiet teleskope
na gordyn skrewe waar BA meisies
in koshuiskamers verklee.
Ons braai by Potch dam
steaks uit die menasie gesteel
dis min dae ons voel fokkol.
Met die terugreis deur die township
foeter ons sommer so
oor iemand se groentetuin
en sleep ‘n wasgoedlyn
agter ons bruin optogvlot,
dis karnaval op Potchefstroom.
Die bure
Toe die nuwe bure langsaan intrek
braai die buurman elke aand,
dalk het hulle nie ʼn stoof
nie wonder ons.
In die oggende luier die Volkswagen
Golf lank terwyl die buurvrou roep
en wag. Sy bestuur, haar man sit
laag en die kleuter stil in sy stoel,
dalk word die man eerste afgelaai
wonder ons.
Saans hoor ons hulle rusie maak
dalk die spanning van die trek
die buurvrou se skreeustem
dwaal van kamer tot kamer
tot dit stil word, dan wonder ek
of hulle ons ook soms hoor.
© Lewies Botha Mei 2011