Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
14 July 201114 July 2011

Desmond Painter. Bouvalle en murasies

Terug in Stellenbosch na drie weke in Thessaloniki en Istanboel. Die een stad is in Griekeland, die ander een in Turkye. Deesdae. In beide stede word jy egter heeldag gekonfronteer met geskiedenisse en lewende praktyke wat hierdie genasionaliseerde onderskeid, en dalk die idee van die nasie-staat as sodanig, amper ‘quaint’ laat lyk. ‘n Onlangse politieke affektasie. ‘n Verbygaande aanwensel.

Thessaloniki

En in elk geval, Thessaloniki is maar eers in 1913 deur moderne Griekeland geannekseer. Vir baie eeue voor dit was Thessaloniki naas Istanboel (voorheen Konstantinopel) een van die belangrikste stede van eers die Bisantynse en daarna die Ottomaanse ryk. Twee van die twintigste eeu se mees ikoniese Turke, die staatsman Mustafa Atatürk en die digter Nazim Hikmet, was boonop in Thessaloniki gebore.

Beide hierdie stede weerspreek (dikwels teen die sin van hulle heersende elites!) die idee dat homogeniteit, monotaligheid en ander vorme van ‘suiwerheid’ ‘n natuurlike en standhoudende kulturele en politieke staat is; en dat hibriditeit net ‘n modieuse, verbygaande slagspreuk is.

In Thessaloniki bestaan die ou moskees immers nog steeds soos paddastoele in die skaduwee van die woonstelblokke — die Arabiese inskripsies op die mure is verbleik maar nogtans sigbaar. In Istanboel kan jy Christelike ikone en muuskilderye bewonder in kerke wat later moskees geword het. En so kan ‘n mens aangaan: suiwerheid is ‘n illusie, en boonop een wat die werklikheid van kruisbestuiwing en beweging net vir ‘n paar dekades lank kon fnuik.

Bisantynse ikoon, Istanboel

Beide stede word vandag opnuut gediversifiseer en verander deur nuwe aankomelinge — migrante en vlugtelinge uit die Midde-Ooste, uit Afrika, uit Oos-Europa. Deur besigheidsmense en toeriste. Ons ervaar iets van die glorie van hierdie stede in hulle bouvalle en murasies. Waarom dan die tyd wil stol?

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Desmond Painter. Terug na Turkye 2 (Nazim Hikmet)
Desmond Painter. Wat beteken vryheid in tye soos hierdie? (Nazim Hikmet) →

15e gedagtes oor “Desmond Painter. Bouvalle en murasies”

  1. Johann says:
    18 July 2011 at 11:35

    Die nuwe refrein, die troetelgedagtetjie van die wittes wat verskrik & apologeties moet wees, raak nou ook al oud. Wanneer digters hulle uitlaat oor politiek of hulle eie werk is dit meestal stront (ek sluit myself hierby in & probeer sover doenlik nie in eie nes te mors nie). Ronelda se opmerkings is onbesonne. Sy is duidelik ‘n bietjie oor die perd getel. Gevaarlik? Ons skrik nie so makliik nie. En om Kramer se bydrae af te kraak om plek te maak vir jou eie ego is nie cool nie. Hy het sy ding begin doen toe dit gevaarliker was as nou, toe hy meer te verloor gehad het as ons jong digteressie nou. Laat die gedigte praat, hulle doen dit in elk geval beter.

    Reply
  2. Breyten Breytenbach says:
    17 July 2011 at 10:40

    Ek het nog steeds nie die bundel te siene gekry nie, so ek praat effens in die duister – alhoewel ek dink die uittreksels werklik indrukwekkende verswerk is. Ek sien egter die dametjie en haar ghantang waarsku wittes (en ek aanvaar dan ook witteriges soos ek) behoort bang vir haar te wees. Nou, ek twyfel of David hierdie patetiese stront kop toe vat maar ek sidder van angs van kop tot tone. mens wil amper saam met David sing – in ‘n ander verband – “Kytie moetie bytie asseblief!” Maar dan klink dit weer gruwelik ongevoelig. (En ek wil geen lansie breek vir daardie ander lumineuse digter Jakoos Kleinhuisie nie.) Is ons rûe dan nie partykeer amper flenters van so ver agteroor leun, kasuïsties en Jesuîsties, om die skoon punt van die ontlaste wurm raak te sien nie? Mens se oë slaan skoon oorkruis!
    Ek gee toe – daar behoort ‘n verbod te wees daarop dat digters die konteks van hulle eie werk probeer toelig, veral as hulle praat met ‘n mediamin wat soos ‘n bloedhond soek na daardie wurm.
    Maar darem!

    Reply
  3. Desmond Painter says:
    15 July 2011 at 12:52

    Intussen het ek die bundel gaan koop. Ek hoop almal wat hierdie webblad besoek maak ook so!

    Reply
  4. Danie Marais says:
    15 July 2011 at 10:47

    Dis inderdaad ‘n bundel wat ‘n mens ongemaklik maak op allerhande noodsaaklike maniere. Met die lees het ek dadelik gedink aan Susan Sontag se woorde in “Against Interpretation”: “Real art has the capacity to make us nervous.”

    Reply
  5. Desmond says:
    15 July 2011 at 08:01

    PS. Of dat Kramer ooit sal voorgee sy songs deurgrond of verwoord ander se pyn volledig nie.

    Reply
  6. Desmond says:
    15 July 2011 at 07:57

    Breyten, ek het ook die gedig gaan lees, en hoef niks by te voeg by wat Louis hierbo skryf nie. Die Kramer-verwysing maak beslis sin binne die konteks, is treffend, en eerder as wat dit hom in die gesig vat, laat dit ‘n mens weer ‘n keer hard dink oor ‘stem’ en die politiek van representasie.

    Die feit dat Kamfer ‘n mens so ongemaklik kan laat voel, bewys myns insiens wat ‘n belangrike digter sy is. Ek dink dit is ‘n sterk, uitstekende gedig. David Kramer sal heel waarskynlik saamstem!! (Ek glo in elk geval hy is die laaste mens wat sal wil voorgee die kwessie van representasie van andere is maklik en nie vol teenstrydighede nie.)

    Ek kan nie wag om die hele bundel deeglik te lees nie.

    Reply
  7. Louis says:
    15 July 2011 at 06:11

    Ek maak so, Breyten. Terloops, die bundel handel in hoofsaak oor die kwessies van identiteit, grond en die vervreemding daarvan; deurspek met vele personas wat eerstehands verslag doen van bepaalde ervarings (soos die Skipskop-verskuiwings).
    Dit is juis Kamfer se karakterisering van dié uiteenlopende personas wat die bundel die kragtige leeservaring maak wat dit is. Beslis nié ‘n gemaklike lees nie; dit is gedigte van konfrontasie en nié bevestiging nie. (Daarom die verwysing na vervreemding hierbo.)
    Myns insiens ‘n absolute kragtoer.
    Die betrokke vers waarna verwys word (“oorvertel 1”) is in die vorm van ‘n tweegesprek tussen ‘n stem (navorser) en persona (ou visserman) wat strofies ingedeel is volgens elke spreekbeurt.
    In die daaropvolgende vers (“oorvertel 2”) word ‘n vrou aan die woord gestel en dié dame het selfs nog sterker beskouings as ons bejaarde visterman in die voorafgaande vers:
    “ek huil nie oor Apartheid-kak nie ek huil oor julle klo’goed net hoor / van Distrik 6 ek kon nog die St Helena in my oumoeder se hare ruik / maar bruin mense is net klopse papbekke en gomgatte om bruin / te wees is glad nie so verkakte storie soos daai slamse voorgee nie”.
    Dié betrokke vers eindig egter met een van die heel mooiste reëls in die ganse bundel:
    “die see is ‘n teef met rooi skoene aan”.
    Sjoe. Die belofte wat Ronelda met haar debuut getoon het, word myns insiens in oormaat met dié bundel bevestig.
    Ons hou vir jou ‘n kopie uit soos versoek.

    Reply
  8. Breyten Breytenbach says:
    14 July 2011 at 21:21

    Dankie Louis. Bewys net weer mens moet die vers in sy geheel lees soos dit is en wat dit probeer wees. Hopelik kan jy vir my ook een van dié eksemplare eenkant neersit saam met die Boshoff.
    Ek is liggeraak oor David omdat hy een van die weinige kunstenaars is wat nie ander mense se emmosies of herinneringe of kultuurgoed probeer approprieer en eksploiteer nie. Maar my onderonsie sal dan met die ou visserman moet wees en nie met Ronelda nie. En wie sal kan stry met sy egtheid of die manier waarop sy pyn uiting vind?

    Reply
  9. Louis says:
    14 July 2011 at 15:55

    Ja, maar daardie woorde is geplaas in die mond van ‘n persona in die gedig; ‘n ou visserman wat verplaas was van Skipskop. Die konteks van die vers is die stem wat inligting versamel oor eerstehandse ervarings van dié gebeure. Daar is ook vele ander personas wat betrek word en wat kommentaar lewer. Deur hierdie reëls spesifiek buite konteks aan te haal, is misleidend.

    Reply
  10. Jamie Lourens says:
    14 July 2011 at 15:43

    Ronelda Kamfer skryf:

    daai fokken Kramer-jong het mos
    daai song gesing so long Skipskop
    met ’n Kaapse aksent nogals pure
    djasgeit wit mens se sad en onse sad
    is different hulle huil oor die plek
    oor dit mooi was
    onse mense huil oor hulle
    net moet maak soos gesê was

    Reply
  11. Desmond Painter says:
    14 July 2011 at 15:01

    Breyten, ja, ek en Bert was by dieselfde kongres (‘n saamtrek van ‘n relatief klein groep afvallige sielkundiges en kritiese filosowe wat elke 2 jaar plaasvind — ons volgende stop is in Chile).

    Ek sal beslis gaan kyk wat Bert op sy blog skryf het. Hy is na die tyd Istanboel toe vir nog kongresse. Ek en Claire (my vrou) is ook na die tyd Istanboel toe, maar ons was uitgekongres. Ek wou vir Claire ‘n stad en land wys wat my al sedert my eerste besoek, in 2003, bekoor.

    Maar dinge gaan sleg in Griekeland – die universiteite en die geesteswetenskappe veral word doodgewurg.

    Ek sien vanaand vir Danie Marais en hy het Ronelda se bundel al gelees. Ek sal hom tog bietjie vra oor enige Kramer-verwysings…

    Reply
  12. Breyten Breytenbach says:
    14 July 2011 at 14:40

    Ditto, Desmond. Was jy vir dieselfde kongresredes Griekeland toe as Bert Olivier? Ek lees nou net ‘n fassinerende rubriek van hom, ook oor beweging en stolling en penwortelvertakkende hersamestellings, in die M&G. Geskryf vanuit Istanboel. Dit val my nou by dat selfs ‘n meer onlangse metropool soos New York ook illustreer hoe die plek ‘n skulp kan wees vir opeenvolgende en waarskynlik vermengende bewoners en hoe die ‘oorblyplaas’ die tekens en spore van gebruikmakers en deurgangers sal behou. Stigmata? Ook natuurlik dat mens nie in ‘n plek kan bly sonder dat dit jou verander nie.
    Van Ronelda gepraat. Kyk tog of dit waar is dat sy vir Kramer op ongevraagde en simpel manier in die gesig vat? Iemand skryf vir my vandag dat mens dit moet begryp omdat sy onder Antjie Krog studeer. Maar kan dit dan ‘n verskoning wees?

    Reply
  13. Desmond says:
    14 July 2011 at 12:28

    Louis, dankie! Ek kom more daar verby; wil sommer Ronelda se boek kom koop.

    Reply
  14. Louis says:
    14 July 2011 at 11:53

    Bly jy’s weer in die omstreke, Desmond. Ons het vir jou ‘n kopie van Rapport se Boekeblad uitgehou soos jy geskimp het, hoor. Kom kry dit gerus wanneer jy dit weer diekant toe waag. 🙂

    Reply
  15. Andries Bezuidenhout says:
    14 July 2011 at 09:47

    Welkom terug, Desmond!

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Albi Prinsloo. Verlossing
  • Retha van Deventer. ekwilibrium
  • Stephan du Toit. Mona Lisa
  • Hennie Maartens. agterdog

Nuutste bydraes

  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Elisma van Zyl. My Magnificat
  • Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk
  • Resensie: “waar daar eens ’n see was” (Jennifer Pape)
  • Linette van der Merwe. Kersfees

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Rus in vrede Tony Ullyatt10 December 2025

    Voorwaar droewe nuus. As letterkundedosent, digter en poësievertaler ‘n uitmunter gewees.

  2. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  3. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  4. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  5. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d