Terug in Stellenbosch na drie weke in Thessaloniki en Istanboel. Die een stad is in Griekeland, die ander een in Turkye. Deesdae. In beide stede word jy egter heeldag gekonfronteer met geskiedenisse en lewende praktyke wat hierdie genasionaliseerde onderskeid, en dalk die idee van die nasie-staat as sodanig, amper ‘quaint’ laat lyk. ‘n Onlangse politieke affektasie. ‘n Verbygaande aanwensel.
En in elk geval, Thessaloniki is maar eers in 1913 deur moderne Griekeland geannekseer. Vir baie eeue voor dit was Thessaloniki naas Istanboel (voorheen Konstantinopel) een van die belangrikste stede van eers die Bisantynse en daarna die Ottomaanse ryk. Twee van die twintigste eeu se mees ikoniese Turke, die staatsman Mustafa Atatürk en die digter Nazim Hikmet, was boonop in Thessaloniki gebore.
Beide hierdie stede weerspreek (dikwels teen die sin van hulle heersende elites!) die idee dat homogeniteit, monotaligheid en ander vorme van ‘suiwerheid’ ‘n natuurlike en standhoudende kulturele en politieke staat is; en dat hibriditeit net ‘n modieuse, verbygaande slagspreuk is.
In Thessaloniki bestaan die ou moskees immers nog steeds soos paddastoele in die skaduwee van die woonstelblokke — die Arabiese inskripsies op die mure is verbleik maar nogtans sigbaar. In Istanboel kan jy Christelike ikone en muuskilderye bewonder in kerke wat later moskees geword het. En so kan ‘n mens aangaan: suiwerheid is ‘n illusie, en boonop een wat die werklikheid van kruisbestuiwing en beweging net vir ‘n paar dekades lank kon fnuik.
Beide stede word vandag opnuut gediversifiseer en verander deur nuwe aankomelinge — migrante en vlugtelinge uit die Midde-Ooste, uit Afrika, uit Oos-Europa. Deur besigheidsmense en toeriste. Ons ervaar iets van die glorie van hierdie stede in hulle bouvalle en murasies. Waarom dan die tyd wil stol?
Die nuwe refrein, die troetelgedagtetjie van die wittes wat verskrik & apologeties moet wees, raak nou ook al oud. Wanneer digters hulle uitlaat oor politiek of hulle eie werk is dit meestal stront (ek sluit myself hierby in & probeer sover doenlik nie in eie nes te mors nie). Ronelda se opmerkings is onbesonne. Sy is duidelik ‘n bietjie oor die perd getel. Gevaarlik? Ons skrik nie so makliik nie. En om Kramer se bydrae af te kraak om plek te maak vir jou eie ego is nie cool nie. Hy het sy ding begin doen toe dit gevaarliker was as nou, toe hy meer te verloor gehad het as ons jong digteressie nou. Laat die gedigte praat, hulle doen dit in elk geval beter.
Ek het nog steeds nie die bundel te siene gekry nie, so ek praat effens in die duister – alhoewel ek dink die uittreksels werklik indrukwekkende verswerk is. Ek sien egter die dametjie en haar ghantang waarsku wittes (en ek aanvaar dan ook witteriges soos ek) behoort bang vir haar te wees. Nou, ek twyfel of David hierdie patetiese stront kop toe vat maar ek sidder van angs van kop tot tone. mens wil amper saam met David sing – in ‘n ander verband – “Kytie moetie bytie asseblief!” Maar dan klink dit weer gruwelik ongevoelig. (En ek wil geen lansie breek vir daardie ander lumineuse digter Jakoos Kleinhuisie nie.) Is ons rûe dan nie partykeer amper flenters van so ver agteroor leun, kasuïsties en Jesuîsties, om die skoon punt van die ontlaste wurm raak te sien nie? Mens se oë slaan skoon oorkruis!
Ek gee toe – daar behoort ‘n verbod te wees daarop dat digters die konteks van hulle eie werk probeer toelig, veral as hulle praat met ‘n mediamin wat soos ‘n bloedhond soek na daardie wurm.
Maar darem!
Intussen het ek die bundel gaan koop. Ek hoop almal wat hierdie webblad besoek maak ook so!
Dis inderdaad ‘n bundel wat ‘n mens ongemaklik maak op allerhande noodsaaklike maniere. Met die lees het ek dadelik gedink aan Susan Sontag se woorde in “Against Interpretation”: “Real art has the capacity to make us nervous.”
PS. Of dat Kramer ooit sal voorgee sy songs deurgrond of verwoord ander se pyn volledig nie.
Breyten, ek het ook die gedig gaan lees, en hoef niks by te voeg by wat Louis hierbo skryf nie. Die Kramer-verwysing maak beslis sin binne die konteks, is treffend, en eerder as wat dit hom in die gesig vat, laat dit ‘n mens weer ‘n keer hard dink oor ‘stem’ en die politiek van representasie.
Die feit dat Kamfer ‘n mens so ongemaklik kan laat voel, bewys myns insiens wat ‘n belangrike digter sy is. Ek dink dit is ‘n sterk, uitstekende gedig. David Kramer sal heel waarskynlik saamstem!! (Ek glo in elk geval hy is die laaste mens wat sal wil voorgee die kwessie van representasie van andere is maklik en nie vol teenstrydighede nie.)
Ek kan nie wag om die hele bundel deeglik te lees nie.
Ek maak so, Breyten. Terloops, die bundel handel in hoofsaak oor die kwessies van identiteit, grond en die vervreemding daarvan; deurspek met vele personas wat eerstehands verslag doen van bepaalde ervarings (soos die Skipskop-verskuiwings).
Dit is juis Kamfer se karakterisering van dié uiteenlopende personas wat die bundel die kragtige leeservaring maak wat dit is. Beslis nié ‘n gemaklike lees nie; dit is gedigte van konfrontasie en nié bevestiging nie. (Daarom die verwysing na vervreemding hierbo.)
Myns insiens ‘n absolute kragtoer.
Die betrokke vers waarna verwys word (“oorvertel 1”) is in die vorm van ‘n tweegesprek tussen ‘n stem (navorser) en persona (ou visserman) wat strofies ingedeel is volgens elke spreekbeurt.
In die daaropvolgende vers (“oorvertel 2”) word ‘n vrou aan die woord gestel en dié dame het selfs nog sterker beskouings as ons bejaarde visterman in die voorafgaande vers:
“ek huil nie oor Apartheid-kak nie ek huil oor julle klo’goed net hoor / van Distrik 6 ek kon nog die St Helena in my oumoeder se hare ruik / maar bruin mense is net klopse papbekke en gomgatte om bruin / te wees is glad nie so verkakte storie soos daai slamse voorgee nie”.
Dié betrokke vers eindig egter met een van die heel mooiste reëls in die ganse bundel:
“die see is ‘n teef met rooi skoene aan”.
Sjoe. Die belofte wat Ronelda met haar debuut getoon het, word myns insiens in oormaat met dié bundel bevestig.
Ons hou vir jou ‘n kopie uit soos versoek.
Dankie Louis. Bewys net weer mens moet die vers in sy geheel lees soos dit is en wat dit probeer wees. Hopelik kan jy vir my ook een van dié eksemplare eenkant neersit saam met die Boshoff.
Ek is liggeraak oor David omdat hy een van die weinige kunstenaars is wat nie ander mense se emmosies of herinneringe of kultuurgoed probeer approprieer en eksploiteer nie. Maar my onderonsie sal dan met die ou visserman moet wees en nie met Ronelda nie. En wie sal kan stry met sy egtheid of die manier waarop sy pyn uiting vind?
Ja, maar daardie woorde is geplaas in die mond van ‘n persona in die gedig; ‘n ou visserman wat verplaas was van Skipskop. Die konteks van die vers is die stem wat inligting versamel oor eerstehandse ervarings van dié gebeure. Daar is ook vele ander personas wat betrek word en wat kommentaar lewer. Deur hierdie reëls spesifiek buite konteks aan te haal, is misleidend.
Ronelda Kamfer skryf:
daai fokken Kramer-jong het mos
daai song gesing so long Skipskop
met ’n Kaapse aksent nogals pure
djasgeit wit mens se sad en onse sad
is different hulle huil oor die plek
oor dit mooi was
onse mense huil oor hulle
net moet maak soos gesê was
Breyten, ja, ek en Bert was by dieselfde kongres (‘n saamtrek van ‘n relatief klein groep afvallige sielkundiges en kritiese filosowe wat elke 2 jaar plaasvind — ons volgende stop is in Chile).
Ek sal beslis gaan kyk wat Bert op sy blog skryf het. Hy is na die tyd Istanboel toe vir nog kongresse. Ek en Claire (my vrou) is ook na die tyd Istanboel toe, maar ons was uitgekongres. Ek wou vir Claire ‘n stad en land wys wat my al sedert my eerste besoek, in 2003, bekoor.
Maar dinge gaan sleg in Griekeland – die universiteite en die geesteswetenskappe veral word doodgewurg.
Ek sien vanaand vir Danie Marais en hy het Ronelda se bundel al gelees. Ek sal hom tog bietjie vra oor enige Kramer-verwysings…
Ditto, Desmond. Was jy vir dieselfde kongresredes Griekeland toe as Bert Olivier? Ek lees nou net ‘n fassinerende rubriek van hom, ook oor beweging en stolling en penwortelvertakkende hersamestellings, in die M&G. Geskryf vanuit Istanboel. Dit val my nou by dat selfs ‘n meer onlangse metropool soos New York ook illustreer hoe die plek ‘n skulp kan wees vir opeenvolgende en waarskynlik vermengende bewoners en hoe die ‘oorblyplaas’ die tekens en spore van gebruikmakers en deurgangers sal behou. Stigmata? Ook natuurlik dat mens nie in ‘n plek kan bly sonder dat dit jou verander nie.
Van Ronelda gepraat. Kyk tog of dit waar is dat sy vir Kramer op ongevraagde en simpel manier in die gesig vat? Iemand skryf vir my vandag dat mens dit moet begryp omdat sy onder Antjie Krog studeer. Maar kan dit dan ‘n verskoning wees?
Louis, dankie! Ek kom more daar verby; wil sommer Ronelda se boek kom koop.
Bly jy’s weer in die omstreke, Desmond. Ons het vir jou ‘n kopie van Rapport se Boekeblad uitgehou soos jy geskimp het, hoor. Kom kry dit gerus wanneer jy dit weer diekant toe waag. 🙂
Welkom terug, Desmond!