Andries Bezuidenhout. Moerdyk en Watson se Plantkundegebou

Die Departement Plantkunde hier by die Universiteit van Pretoria is op die oomblik besig om uit hulle gebou te trek, die een in die foto hier bo. As jy nader stap, kan jy die glasbakstene beter sien:

Glasbakstene is deur Le Corbusier gewild gemaak – spesifiek as vorm van natuurlike lig rondom trappe. Hierdie gebou het sterk Art Deco-elemente, alhoewel ʼn brosjure van die Universiteit dit beskryf as ʼn “besonderse siersteengebou met elemente van die Hollandse Baksteenmodernisme”. ʼn Voormalige kollega, Glenn Adler, saam met wie ek destyds by Wits gewerk het, het hierdie boustyl as “Highveld Municipal Deco” beskryf. Geel klinkerstene, die kleur van mynhope. Hy het spesifiek na die ou openbare swembad in Melville verwys. Daardie gebou is ook nou gesloop en met ʼn verbeeldinglose winkelsentrum vervang.

Op die twee oostelike hoeke van die gebou is daar deesdae massiewe geelhoutbome. Aan die voorkant ʼn geelhout:

En aan die agterkant ʼn Outeniekwageelhout:

Professor B. Engelbrecht van die Departement Plantkunde het in die laat-30s, vroeë-40s aan die ontwerp van die plantkundegebou saam met Gerhard Moerdyk en H. Watson gewerk. Moerdyk het natuurlik ook die Voortrekkermonument, die Ou Merenskybiblioteek op die kampus, asook die Nederduits Gereformeerde Kerkgebou in Cottesloe in Johannesburg ontwerp. Hierdie gebou is egter nie ʼn tipiese Moerdyk nie – deels dalk hoekom ek so daarvan hou. Op 10 April 1940 is die hoeksteen gelê en die bouwerk is in dieselfde jaar nog voltooi. Nou, na sewe dekades, verlaat die Departement dit om na splinternuwe kantore toe te trek.

Ek het maar ʼn paar foto’s kom neem om te boekstaaf hoe die gebou nou lyk. Ek neem aan dit sal deur ʼn proses van vernuwing gaan voor nuwe intrekkers hul plek kom inneem, blykbaar mense van Wiskunde. Dis veral bykomstighede soos kaste, deurknoppe, krane, ens., wat met sulke moderniseringsprojekte in die slag bly. (Ek het reeds vir my kantoor pragtige ou boekrakke gaan red wat iemand anders van wou ontslae raak, seker omdat hulle voel boekrakke van saamgeperste hout is meer modern, of so iets.) In die Plantkundegebou is die badkamers ook reeds oorgedoen. Sommige van die oorspronklike detail het egter behoue gebly. Ek hou veral van die lampkappe vir die ligte aan die gebou se voorkant.

As jy instap kom jy ʼn dramatiese plafon in die ingangsportaal teë. Ek neem aan die oorspronklike lampskerm het reeds verlore gegaan:

Die traprelings is vir my besonder mooi:

So ook die vloere. Darem is dele van die vloer nog nie uitgekap en met een of ander generiese terracotta vervang nie:

Hier kan ʼn mens sien dat die plantkundiges se boeke reeds ingepak is om na die nuwe kantore toe verkeep te word. Agter die boeke loer benoude loodglasvensters uit:

Hier is meer detail van die loodglasvensters. Let op die mooi lampskerm:

Dan, my gunsteling stukkie detail – die glasbakstene van binne, ʼn suil aan die gebou se voorkant wat lig na binne toe verskaf vir die eerste en tweede verdiepings:

As jy sewe dekades lank in ʼn gebou leef, word dit seker te klein. ʼn Mens leef dit ook uit styl uit. Baie van die kantore aan die binnekant is hokkies wat van tydelike mure aanmekaargesit is. As jy ruimte nodig het, breek jy soms ʼn gebou se ruimtes met afskortings. Ek hoop die Universiteit neem die aanvanklike styl van die gebou in ag as hulle dit vir nuwe intrekkers inruim. Duursame hout, groot vensters, reguit lyne, ruim laboratoriums en kantoorruimtes, baie lig.

In neoliberale tye word sulke oorwegings egter nie hoog geag nie.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Moerdyk en Watson se Plantkundegebou”

  1. Desmond :

    “Duursame hout, groot vensters, reguit lyne, ruim laboratoriums en kantoorruimtes”… Dream on, boet! Of miskien is Tukkies vrygewiger as Maties, waar hulle na die vuur mos sommer vir ons oopplan-werkstasies wou inrig… Hulle het selfs ‘n pamflet oor die voordele van hierdie ‘werkstasies’ versprei — ek het dit ongelukkig in woede opgeskeur en weggegooi, anders sou ek dit geskandeer en ‘n slag hier geplaas het!

  2. Andries Bezuidenhout :

    Ek sal maar aanhou droom, Desmond. En op daardie noot het ek aan ‘n ou tune van die band gedink wat Brixton Barnard jare gelede geskryf het:

    Ek en die inkvis sit op die bus
    ‘n Luilekker Woensdag hang in die lug
    Niks is meer heilig, hulle het alles gestop
    Melville se swembad vol rubble geprop

    Nou ek en die inkvis, ons swem lank nie meer
    maar ons dink aan die kinders, hul hartseer, hul seer
    Niks meer bikini, niks meer duikplank
    Johannesburg versoen hom met ‘n babelaas stank

    En Dali, Dali
    Salvador Dali se se prent hang skuins

    Ja ek en die inkvis bemoei ons met kuns
    Partykeer vir lêplek, partykeer vir wins
    Flea market is ‘n fokkop, our paintings won’t sell
    Ons hou van diep kleure, nie huisvroupastel

    Ek en die inkvis, ‘n thousand new schemes
    share sewe nuggets, die American dream
    swem in die balle, ry op die swings
    daar’s ‘n vriendelike stem in die Camel masjien

    En Dali, Dali
    Salvador Dali se prent hang skuins

    Dit is die end van die maand se rent
    Die rent is by die bar gespend
    The Putco bus is calling us
    Driver where you’re taking us?
    Deur die hart van die goudmasjien
    Kan ons ‘n waiter kry om ons te bedien?

    Ek en die inkvis, ons kyk vir die straat
    Die ANC posters, die fashionsoldaat
    Niks is meer heilig, hulle het als gestop
    Die bands by Roxy vir techno gedrop

    Nou ek en die inkvis, ons dans lank nie meer
    terrible kopseer, voete wat keer
    Sit op die TV, kyk na die muur
    Die bure is stil, die ou lady suur

    En Dali, Dali
    Salvador Dali se prent moer af…

  3. Desmond :

    Of soos Bob Dylan gesing het: ‘from toy guns that spark to flesh coloured Christs that glow in the dark / it’s easy to sea, without looking too far, that nothing much anymore is really sacred…’ Of so iets. Maar ja, kom ons droom maar; ek sit nou juis en lees ‘n interessante artikel oor die utopiese tradisie in die letterkunde.

  •