Andries Bezuidenhout. Dagsê liewe mense, ek is vandag jul gids

Ou Merenskybiblioteek, Pretoria

Ou Merenskybiblioteek, Pretoria

 

My lewe lank probeer ek al om uit Johannesburg en Pretoria te ontsnap. Helaas, steeds onsuksesvol. Die gate wat die goudmyne hier gelos het, het een of ander magnetisme. Die mot en die myn. Deesdae vat ek soggens die snelweg noord. Donderdag by my nuwe kantoor ingetrek. Nou is ek vir ten minste nog drie jaar gecommit om hier te bly.

As ek by my kantoorvenster uitkyk, sien ek die Voortrekkermonument. Op die kampus is die Ou Merenskybiblioteek – die tipe art deco wat gewild geword het met die ontdekking van piramides in Suid-Amerika en Egipte. Dis deur Gerhard Moerdyk ontwerp, ʼn voorstudie vir die Voortrekkermonument. Dis in die foto hier bo, met die Geesteswetenskappegebou in die agtergrond. Dis waar ek op die oomblik sit.

Daar’s baie geboue op die kampus wat deur die Franse modernisme beïnvloed is. Dis meestal in die vyftigs gebou. As student het ek dit nie waardeer nie. Ek sal meer hieroor moet uitvind.

Argitektonies was die tagtigs en negentigs beroerde dekades; postmoderne argitektuur, met faux kasteeltoringkies en rooi bakstene. Selfs die sandsteen is fake, wat seker speels na die Ou Letteregebou moet verwys.

Daar word steeds gebou. Die nuwe Eeufeesgebou keer darem terug na die meer elegante modernisme van die Kanselliersgebou. Dis pragtig. Die kampus se tuine is ook lieflik, massiewe witstinkhout- en akasiabome.

Ek dink aan Koos du Plessis se lied:

Pretoria, jakarandastad,
waar ek so graag alleen
straat-op en -af geslenter het
in die lentereën;
waar meisies lank na middernag
nog deur die vensters loer
en dromend luister na die lied
van elke troebadoer.

Studentelewe. Koos du Plessis laat dit so onskuldig klink. My ouma het hier studeer. Sy’t nog in die Ou Letteregebou klasgedraf, in die dertigs. Haar pa (m.a.w. my oupagrootjie) het voor haar hier studeer, rondom 1904, aan die destydse Normaalkollege. Dis nou by die Universiteit van Pretoria geïnkorporeer. My ouers was hier in die sestigs. In die vroeë negentigs het ek my eerste studies hier aangepak.

Pretoria, jakarandastad,
die tyd gaan gou verby
en daardie jare lê soos
ylblou berge agter my.
Maar steeds is ek die troebadoer
wat almal wil vertel
van jou, ou jakarandastad,
met sang en snarespel.

Vreemd om nou terug te wees. Die plek lyk so anders. Dan is daar Bernoldus Niemand se minder vleiende lied oor Pretoria:

Dagsê liewe mense, ek is vandag jul gids in Pretoria
Ons is opsoek na net een skoon bo-lip in Pretoria
Want dit is die stad met geen bo-lip glad, dis Pretoria
Orals in die strate loop die fans van country plate, dis Pretoria…

Die grootste Afrikaanse stad in die Suidelike halfrond!
Hoe verder ek loop, dan hoe minder raak my hoop, in Pretoria
Dit lyk vir my ʼn snor is meer nodig as ʼn tjor in Pretoria
Hulle ry ʼn Ford Snortina en hul eet snorgasbord in Pretoria
Ek soek nou al jare, vir ʼn man sonder die hare van Pretoria…

O red my, Liewe God, van die nare snorkomplot in Pretoria
As ek ʼn terroris was, sou ek ʼn snorbom ontwerp het, Pretoria
O Meneer Snôrtjé, ek sien jou weer en weer en weer in Pretoria
Dis iets in die lug, dit trek die hare uit jou gesig in Pretoria

Ek wonder of ek nog my vakterminologie in Afrikaans ken. Ek hou van Bernoldus Niemand se anglisismes. Van die beste Afrikaanse musiek is deur Engelssprekendes geskryf – James Phillips, David Kramer, Rian Malan. So, hier sit ek nou met my snor. Darem ʼn baard ook.

In Pretoria…

 

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Dagsê liewe mense, ek is vandag jul gids”

  1. Desmond Painter :

    Toe ek na 6 jaar by Rhodes by Stellenbosch begin werk het, het ek nogal gesukkel met die vakterminologie… ‘n Vreemde ervaring: jy stotter skielik in die taal wat in alle ander kontekste die een is waarin jy funksioneer.

    Maar wat doen jy nou by UP?

  2. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, vir my sondes gee ek weer klas, in sosiologie.
    A

  3. Desmond Painter :

    Ek kom in Augustus vir akademiese dinge Pretoria toe. Mag mens daar by julle departement inval? Ek het al hoe minder vir my mede-sielkundiges te s^e, so dalk moet ek nou die sosioloe probeer…

  4. Andries Bezuidenhout :

    Uitstekend! Hier’s beter koffie ook as toe ek ‘n student was. Sien jou in Augustus.

  5. Wysneus :

    Andries, dis nie net witstinkhoute en doringbome nie. Daar’s ‘n boomroete wat begin by die Wiskunde-gebou (ek dink) en agterom loop tot by administrasie, met heelwat raar en mooi inheemse bome. Tussen AE du Toit en Mineraalwetenskappe, bv., is daar reuse Essenhoute en ‘n Kina-boom wat ‘n blaredak maak net duskant die stratosfeer. Langs Natuurwetenskappe 1 is daar ‘n pragtige Grootblaarkoraalboom wat eintlik nie in Pretoria hoort te groei nie. Ens.

    Van vakterminologie in Afrikaans gepraat. Ek het ‘n Engelsprekende vriend wat in Pretoria ‘n patentprokureur was. Eenmaal het ‘n kliënt daarop aangedring dat die patentspesifikasie in Afrikaans geskryf word. Gewoonlik begin die ding glo: ‘The features of the invention for which protection is sought…’ Aan die hand van sy Afrikaans-Engelse woordeboek skryf hy toe: ‘Die gelaatstrekke van die uitvinding waarvoor beskerming gesoek word…’

  6. Andries Bezuidenhout :

    Wysneus, ek het daardie roete verlede week gaan stap. As ek reg onthou, is daar ook ‘n boom met die naam “niesbas”. Ook vele mooi broodbome. Ek het ‘n boekie opgespoor wat inligting oor die universiteit se argitektuur het. Helaas, ook nie altyd baie goed vertaal nie, maar darem ‘n goeie punt om te begin. ‘n Argitek met die naam Brian Sandrock (in die Engelse deel van die boekie is sy naam “Brain”) se werk val op – veral die Musaion.

  •